Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Overdaad in die Overberg

Kleurvolle bote teen die afgewitte huisies van Arniston.
Vanaf Arniston kan jy die hele Overberg verken, skryf Ilse Zietsman.

‘Die kalkklippad en Visbek­rots en Kassiesbaai se windpomp . . .”. So skryf Audrey Blignault (1916- 2008), ’n gebore Bredasdorper, in haar boek Die rooi granaatoor Waenhuiskrans.

Arniston, oftewel Waenhuiskrans, een van talle stranddorpe in die Overberg, is die enigste dorp in Suid-Afrika wat met twee name kan spog.

Naam Een: Die naam Waenhuiskrans (oorspronklik Wagenhuiskrantz) is ontleen aan ’n seegrot so groot soos ’n plaasskuur. Dié grot kan met laagwater te voet bereik word.

Arniston, oftewel Waenhuiskrans, een van talle stranddorpe in die Overberg, is die enigste dorp in Suid-Afrika wat met twee name kan spog.

Naam Twee: Nadat die HMS Arniston op 30 Mei 1815 hier gestrand het, het Waenhuiskrans sy tweede naam gekry. Daar was tussen 350 en 400 mense aan boord (bronne verskil hieroor); net ses het oorleef. Die oorlewendes het kus-op gestap en is toevallig deur ’n boer van die omgewing gevind, waarna hulle per ossewa na Kaapstad geneem is.

Arniston is twee en ’n half uur se ry vanaf Kaapstad.

Die Klipgatgrot in die Walkerbaai-natuurreservaat is ’n Wêrelderfenisgebied waarheen Overlandy jou neem.
Kies kortpad of draal op die langpad

Afhangende van hoe haastig jy is, kan jy óf die kortste pad met die N2 verby Botrivier en deur Caledon, Napier en Bredasdorp tot by Arniston ry óf ’n sloertoer deur Hermanus, Gansbaai en Agulhas onderneem.

Hoe dieper jy die Overberg binnery, hoe meer word die mense aan hul byname geken.

Blignault vertel: “Sonder die Ganse was ons dorp (Bredasdorp) dood. Waarom die Ganse Ganse genoem is, weet ek nie, maar hulle is so genoem en hulle wou nie so genoem word nie. Oom Giel Gans laat toe ’n kennisgewing in die koerant sit dat enigeen wat weer van ’n Gans praat, vervolg gaan word. Toe verander die Ganse dadelik in Kwake. Hier ’n Kwaak daar ’n Kwaak en al die Kwake saam het nooit ’n mededorpenaar tot voor die hof gekwaak nie.”

En maak nie saak watter roete jy kies nie, daar sal altyd kans wees om ’n paar boeke by ’n tweedehandse boekwinkel te koop, kom ek gou agter. Ek sê, waar daar boeke is, voel ek tuis . . .

Die kort lont

Beplan jou vertrektyd só dat jy by DeeZ-restaurant in Napier vir middagete kan aansit.

Die eienaar, Dee Robinson, is die speserykoningin van die Overberg hoewel sy nie net Indiese-, Thai- en Asiese kos in haar restaurant voorsit nie.

By Blue House Books op die dorp is ’n groot verskeidenheid boeke oor ’n nog groter verskeidenheid onderwerpe, ook versamelaarsboeke vir boekwurms.

Jy’s dalk haastig, maar sit ook tyd opsy vir ’n besoek aan die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp (westerncape.gov.za/facility/shipwreck-museum). Hier sien jy skeepswrakartefakte, boegbeelde, ’n rekonstruksie van ’n antieke reddingsboot en uitgespoelde items van die skeepswrakke.

’n Effense ompad

As tyd jou maat is, mik na die Hemel-en-Aarde-vallei.

As jy nie beplan om by wynplase aan te gaan nie, draf eers in by die Wine Village (winevillage.co.za) op die hoek van die R320 waar jy na die vallei afdraai.

Hier is die grootste verskeidenheid van Suid-Afrikaanse wyne onder een dak. As daar één bottel is waarsonder jy nie koers kan kry nie, is dit Black Dog Malbec van Paul Wallace Wines.

Creation se kos, wyne en opdiening getuig van kreatiwiteit.

En as jy by net een wynplaas kan stilhou, bespreek vir ’n seisoens-pasmaatete by Creation (creationwines.­com/).

Elke gereg by Creation verras nie net met die kreatiewe konsep daaragter nie, maar ook oor hoe die geure van die wyne by die disse – in kamma voëlnessies of op dofgroen, gekartelde keramiekblare – aansluit. Die aromatiese winter-pasmaatete by Creation kos R495 per persoon.

Vanaf Creation kan jy met die Hemel-en-Aarde-pas (R320) aanry tot dit weer by Caledon aansluit. Alternatiewelik kan jy terugry soos wat jy gekom het en met die R43 na Hermanus, Stanford en Gansbaai reis.

Nog plek op jou boekrak? Draf gou in by Hemingway’s Bookshop op Hermanus (hermanus.co.za/history/268-hemingway-bookshop).

Sou jou reisplan ’n aand insluit wat jy in hierdie omtes oorslaap, is daar twee moetdoen-dinge: ’n vaart met die Lady Stanford-rivierboot op die Kleinrivier wat jou R225 per persoon sal kos (xplorio.com/stanford/lady-stanford-river-cruises/) en ’n 4x4-toer met Overlandy Off-Road Adven­tures (overlandy.co.za) waartydens jy die Walkerbaai-natuurreservaat deur die oë van Lloyd Koppel ontdek.

Hy weet presies waar om vir fotogeleenthede stil te hou en die Klipgatgrot, ’n Wêrelderfenisgebied, maak deel van die toer uit.

Dit sal jou R800 per persoon kos.

In Gansbaai is ’n ete by die Blue Goose nie te versmaai nie; dit voel kompleet of jy ’n weggesteekte juweeltjie ontdek het.

Die Gansbaai Book Exchange (xplorio.com/gansbaai/gansbaai-book-ex­change/) het meer as 20 000 tweedehandse boeke oor elke onderwerp onder die son te koop.

Knap buite Gansbaai bied die Fynbos Deck (fynbosdeck.co.za/home/) restauranthappies of deli-padkos, jy kan op die strand perdry (pbhorsetrails.co.za) of strandlangs fiets ry (fatbiketours.co.za).

Bly oor in die Arniston Spa-hotel en verken die Overberg.
Skemerkelkies in Waenhuiskrans

Sorg dat jy voor sononder by die Arniston Spa-hotel (arnistonhotel.com) inklok. Met ’n skemerkelkie in die hand kyk jy uit jou seefrontkamer of die hotelstoep uit oor die oseaan tot by die gesigseinder.

Sit aan vir kontreikos by Wanda’s Waenhuis, Willeen’s Meals of Mien’s Tea Garden.

Vanaf die Arniston Spa-hotel is Agulhas, die suidelikste punt van Afrika, minder as ’n uur se ry. Vanaf die imposante Agulhas-vuurtoring kan jy met ’n plankpaadjie na die suidpunt drentel.

Op die suidpunt pryk die Agulhas-ikoon (sa-venues.com/attractionswc/map-of-africa-monument.php) in die vorm van ’n reliëfkaart van Afrika.

By Struisbaai-vissershawe kan jy aan ’n koue bier teug terwyl jy oor die visserskuite en die kaai uitkyk.

Nog nie uitgelees nie? In Bredasdorp het Fiksie & Fantasie (xplorio.com/bredasdorp/fiksie-fantasie/) boeke teen billike pryse vir elkeen se smaak.

  • Bed en ontbyt by die Arniston Spa-hotel kos vanaf R1 200 vir twee persone.
Meer oor:  Overberg  |  Waenhuiskrans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.