Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Pap-arazzi!

Leon-Ben en sy vrou, Sonika, in gelukkiger papwiel-dae.
’n Pap wiel is nie net ’n pap wiel nie.  So sê Leon-Ben Lamprecht.

Die rooinekke het ’n uitdrukking: “Variety is the spice of life.” Noudat ek daaraan dink, hulle het nog een: “A change is as good as a holiday.

Vir die doeleindes van hierdie storie kom dit daarop neer dat ’n mens soms dinge net op ander wyses wil aanpak as die gewone.

Immers, as jy jou kinders elke dag 07:30 gevoer en aangetrek by die skool moet kry, raak dit later roetine. Roetine het sy plek. As jy kinderkenners kan glo, laat roetine jou telge veilig voel.

Maar! Die “holiday” hierbo is nie toevallig nie. Want as jy op vakansie gaan, wie wil hom nou steur aan beuselagtighede soos roetine? Uiteraard geld sekere basisreëls steeds, soos gaan slaap iewers as dit donker is, en dies meer. Jou tyd is egter nou losser! Wie wil elk geval gebind wees aan so ’n filosofiese konstruk?

En dit geld nie net tyd nie.

Onlangs was ons gesinnetjie van vyf op vakansie in die Karoo. Die pad sountoe het ons van Wellington via Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville na Calvinia gery.

Dit nou oor die Vanrhynspas wat lyfgooi soos ’n supermodel op die loopplank. Dis regtig mooi! Dis ’n Thomas Bain-pas met ’n uitkyk wat wyd loop. Jy sien selfs ’n deel van die Knersvlakte én die Atlantiese Oseaan van sy kruin af.

Leon-Ben aan’t wiel ruil op sy en Sonika se wittebrood – toe sy nog gedink het dis humoristies en foto’s daarvan geneem het.
Nuwe horisonne

Toe ons egter moet besin oor die pad terug, is dit asof ’n pioniersgees my beetpak. Ja, die Vanrhynspas is régtig mooi, maar ons het hom mos nou al gery. Is daar nie ander opsies nie?

Ek snuffel op Google Maps rond en vind twee alternatiewe: die grondpad deur die Tankwa-Karoo Nasionale Park, en die R355 wat jy net buite Calvinia neem, en jou in Ceres uitspoeg.

Ek het al stories van die Tankwa-pad gehoor. Hy kou glo motorwiele oopmond, soos ’n krieketspeler in die IPL sou Chappies kou.

Wat ’n uitdaging is, want ons ry ’n Polo-sedan. Niks fênsie nie, maar my vrou, Sonika, het hom tweedehands gekoop en hy het gekom met effens laerprofiel-mags op. Nie noodwendig ons styl nie, maar hy kry ons waar ons moet wees.

Die betrokke Polo is wel nie gaande oor grondpad ry nie. Met ons vorige wegbreek, in Desember na Strandfontein aan die Weskus, het Google ons oor ’n grondpad tussen Lambertsbaai en ons bestemming geneem. Kom ek sê maar net so: Ons jongste baba was grootoog geskud van die sinkplaat.

Met dit in my agterkop, elimineer ek geheel en al die Tankwa-pad. Die R355 lyk meer haalbaar, maar ek is onseker oor hoe goed die grondpad is.

Ek stuur ’n paar WhatsApps om te peil of my doelwit – ’n nuwe pad ry huiswaarts, een wat ek nog nooit betree het nie – haalbaar is.

Die reaksies val in een van drie kategorieë: “nog nooit gery nie”, “ry, maar wees versigtig want daar is maar skerp klippe” na “nee wat, dis ’n lekker stuk pad”. ’n Enkele “ja, maar sorg net dat jou tyres in goeie toestand is” ook.

Die vreugdes van grondpad

Maar leser, ek lief ’n grondpad! Ek meen lief! Soos wat ek lief is vir braai. Of swem in Hartenbos se warm seewater oor Desember. Of soos wat ek lief is vir die Beatles luister op die oop pad.

Daar is iets bevrydend aan daai geknars van die klippe onder wiele. Die stof wat opskop agter jou. Die blou horison wat kontrasteer met die grys of bruin pad (ek hou dalk van grondpad, maar ek is nie dom genoeg om hom te wil ry in die reën nie).

En ja, die afgesonderdheid. Daar is geen mislike BMW-bestuurders wat nie kan socially distance op die pad en basies op jou gat ry nie en nie weet wat “flikkerlig” of “spoedgrens” beteken nie.

Salig.

Daar is iets bevrydend aan daai geknars van die klippe onder wiele. Die stof wat opskop agter jou.

Dus, dink ek, kom ons ry daai R355. Ons tyres is mos in ’n goeie toestand.

My vrou se wenkbrou lig skepties toe ek haar van die plan inlig. “Ek soek nie ’n papwiel nie,” sê sy. Sy herinner my ook daaraan dat ons met drie kinders, ’n worshond, én ’n propvol kar ry.

Ek verseker haar ek sal rustig ry, en my uiterste bes doen om skerp klippe te vermy, soos wat ek gesprekke met mense vermy wat my probeer oortuig die regerende party doen ’n goeie jop.

Sy bly skepties, maar laat my begaan met ’n “jy ruil die wiel om as daar probleme is, en jy pak die kar weer in ná die tyd”.

Die wanhoop van grondpad

Ons ry van Calvinia af, en draai links op die R355, Ceres toe. Ek is so gelukkig soos ’n hond wie se baas die boerewors in die stof laat val.

Ek begin my kinders verveel met die deugde van grondpad ry hierbo gelys. Aan hul binnekant rol hulle seker hul oë, maar na buite gee hulle darem voor om te luister.

“Goeie grondpad, die,” tart ek die noodlot, net soos die selfoonsein wegraak. Daar is ook bykans geen ander motors nie.

Salig.

Die eerste probleempie kom toe ons ’n bordjie kry wat sê “Ceres 240 km”. Ek weet nie hoe ek gedink of beplan het nie, maar in my kop was dit nie so ver nie.

My opmerking oor goeie grondpad is grootliks waar, maar hier en daar is ongelukkig trogge waar die kar se pens skuur (en Sonika se nerwe ook).

En toe gebeur dit. Ek wil-wil iets by die linkeragterwiel hoor. So asof die kar se pens heeltyd skuur. Ek besluit om eerder te stop en te kyk.

My vrou se lippies raak so dun soos wat haar frons diep is. Toe ek die nuus moet breek dat, ja, dit waarteen sy my gewaarsku het – ’n pap wiel – het inderdaad gebeur, raak die frons dieper en die lippe dunner.

Tot haar ewige krediet, is dit vyf minute voor sy die eerste ek-het-jou-mos-gesê uiter. Dis warm, die kattebak is vol (en die spaarwiel onder die bagasie), die kinders kérm, die worshond wil net veld indonner.

Dit is nie ons eerste papwiel saam nie – dit was tydens ons wittebrood, en die omstandighede was heeltemal anders. Eerstens was ons drie kinders en ’n worshond ligter. En tweedens, en ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie, het iemand nie stiksienig teen goeie advies besluit om ’n grondpad met ’n Polo te ry nie.

Die wiel omruil is ’n moeilike geboorte: eers sukkel ons om die wieldop af te kry, en boonop het die wiel moenie-peuter-moere op. Maar kort daarna is die wiel omgeruil, en begin die Tetris-speel van al die bagasie weer terugpak.

Ek ruil intussen die baba se doek om, voor my vrou en die ander kinders my arm afruk en my met die bloedkant doodslaan. En in ’n vlak graf begrawe. Waar niemand my ooit sal kry nie.

Almal en alles terug in die kar, draai ek stert tussen die bene terug, dat ons maar wéér teerpad, oor die Vanrhynspas, kan ry. Dis stilte hang soos ’n borrel in die kar, een wat ek maar liefs nie prik met ligsinnige opmerkings oor “avontuur” nie.

Dis eers by Nieuwoudtville waar Sonika weer met my praat. “As jy wil grondpad ry, koop ’n bakkie.” En eers duskant Klawer wat die ys begin smelt, grootliks te danke aan al die grappies ten koste van my.

Terwyl ons op Wellington die kar uitpak, dink ek heeltyd aan David Kramer se “Stofpad (Dawid Ryk)” se koortjie: “Stofpad / hy’s ’n rofpad”.

Ja-nee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.