Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Penarie in die paradys

As dié reisbestemmings op jou emmerskoplys is, moet jy gou daar uitkom, skryf Delia du Toit.

Klimaatverandering voel soms soos probleme wat baie ver van jou verwyder is. Jy weet dis ’n probleem, maar jy neem aan iemand, íewers, sal betyds aan ’n oplossing dink.

In sommige plekke is die probleem byna te dringend om iets daaraan te kan doen. Dié toeristebestemmings kan binne so min as twee dekades onherroeplik verander...

Die Maldive-eilande se hoogste punt is minder as 3 m bo seespieël. Selfs die hoofstad, Malé, loop die risiko om te sink. Foto: iStock

Die Maledive-eilande

In 2009 het die groep van 1 190 eilande se president ’n dringende perskonferensie belê om die wêreld bewus te maak van sy land se nood: Groot dele van die Maledives kan binne 30 jaar verdwyn.

Weens stygende seevlakke is die eilande, waarvan die hoogste punt minder as 3 m bo seevlak is, in gevaar. Sommige gemeenskappe moes reeds trek weens die stygende water en kenners raam die hele groep eilande sal binne 100 jaar sink.

Venesië se bekende St. Markus-plein is al meer onder water soos wat seevlakke styg.Foto: Franco Debernardi/Getty Images

Venesië

Nagenoeg 18 miljoen toeriste besoek elke jaar die stad aan die Adriatiese See en dis een van die redes waarom kenners sê Venesië kan binne ’n eeu onbewoonbaar wees. Watertaxi’s wat toeriste deur die stad se kanale vervoer, veroorsaak golfbesoedeling, ’n probleem uniek aan die stad, wat strukture beskadig en veroorsaak dat die stad stadig sink.

Dié probleem, en stygende seevlakke, veroorsaak gereelder vloede. In 1900 was die stad se bekende St. Markus-plein sowat tien keer per jaar onder water, maar deesdae gebeur dit tot 100 keer per jaar.

Dooie See

Hierdie soutmeer krimp teen ’n kommerwekkende pas soos temperature in die omgewing styg en die meer se hoofwaterbron, die Jordaanrivier, stadiger vloei. Die meer se watervlak sak jaarliks byna ’n meter en kenners sê dit kan teen 2050 heeltemal opdroog.

Die omringende besienswaardighede is ook in gevaar, want sinkgate sluk stukke land in soos die water terugtrek.

Groot Koraalrif

Klimaatsverandering, storting, skeepvaart en onverantwoordelike toerisme het ’n groot, en skielike, impak op die koraalrif. Byna die helfte van die rif het in die laaste 27 jaar afgesterf.

Sir David Attenborough het in 2016 in sy reeks Great Barrier Reef, gewaarsku stygende oseaantemperature en suurgehalte, twee uitwerkings van klimaatsverandering, kan veroorsaak dat die hele rif binne die volgende paar dekades sterf – en baie van die 1 500 visspesies daarmee saam.

Die bosbrande in Suid-Amerika se Amasone-oerwoud, wat koolstofvrystelling vererger, was vanjaar meer as ooit.Foto: Victor Moriyama/Getty Images

Die Amasone

Die massiewe reënwoud, wat oor nege lande strek, is een van die beste teenvoeters vir klimaatsverandering. Maar soos die woud vernietig word om plek te maak vir landbou en myne, neem droogtes toe. Boonop word groot hoeveelhede van die wêreld se koolstofvrystelling, een van die redes vir klimaatsverandering, veroorsaak deur brande om woude tot niet te maak.

Daar is al verskeie beperkings en inisiatiewe om die Amasone te red, maar vir sommige diere kan dit te laat wees: lui­diere, tapirs en reuse-otters is net ’n paar van verskeie bedreigde spesies.

Kilimandjaro

Ernest Hemingway se kortverhaal The Snows of Kilimanjaro (1938), sal binnekort fiksie word. In die vorige eeu het 1% van die sneeu en ys op die berg elke jaar gesmelt, maar sedert 2000 het dit toegeneem tot 26% per jaar. Sommige wetenskaplikes meen Kili se laaste ys en sneeu sal in minder as 20 jaar verdwyn.

Lugfoto’s van Antarktika aan die begin van die smelttyd einde Oktober, wys dat die Westelike Antarktiese ysvelde kleiner word. Foto: Mario Tama/Getty Images

Antarktika

Die wit kontinent is dalk nie die eerste plek waaraan jy dink as jy dierelewe wil sien nie, maar meer as 10 000 spesies woon daar tussen die ys en sneeu.

Dis egter een van die plekke waarop aardverwarming die grootste invloed het – hoe warmer dit word, hoe vinniger smelt alles, en dan word dit net nóg vinniger warm.

Sowat 80% van Adélie-pikkewyne het al sedert 1975 uitgesterf, en keiserpikkewyn-getalle sal teen 2100 ook met soveel krimp as dinge nie verander nie. Ysbere, wat al hoe verder moet loop of selfs swem om prooi te vang, is ook in gevaar.

Gletsers wêreldwyd

Toe die eerste besoekers in 1910 by Glacier National Park in Montana in die VSA aangedoen het, was daar 150 gletsers om te sien. Vandag is daar 25.

Dieselfde patroon geld vir byna alle gletsers en gletservelde. In Patagonië, aan die grens tussen Argentinië en Chili, het ysvelde en gletsers twee keer so vinnig gekrimp tussen 2001 en 2011 as in die vorige opname tussen 1870 en 1986.

Die Pastoruri-gletser in Peru, eens ’n gewilde bestemming vir klimmers, is deesdae gesluit omdat dele daarvan so opvoorspelbaar afbreek dat dit besoekers kan beseer. Daar is egter nou ’n nuwe toerisme­foefie vir die wat die gletser wil besoek: ’n klimaatsverandering-roete, waar jy die oop stuk grond kan besoek waar daar eens gletser was.

Bronne: Unesco, Washington Post, Conde Nast Traveller, The Independent, Smithsonian, National Geographic, WWF

Meer oor:  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.