Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Piekniek tussen reuse

Die Anton Smit-beeldepark langs die Bronkhorstspruitdam gaan jou meer genot verskaf as wat jy kan dink, skryf Louïne van der Vyver.

Die beelde in die park is net so deel van die omgewing as die hoenders wat daar rond pik. Foto’s: Louïne van der Vyver

Die skaduwees op die wintergras is luier as die Sondagmiddag. Lui, maar nie dooierig nie. Allermins. Dit wemel van lewe in stadige aksie. ’n Bries steek op en die monolitiese maskers wat oor die droë Hoëveldlandskap troon, kry ’n oor of stukkie vlerk by soos die omringende blare verdere patrone op die silhoeëtte gooi.

In die Anton Smit-beeldepark word die beelde en bome verweef tot kunswerke. Foto’s: Louïne van der Vyver
Lug, natuur en beelde word een in die Anton Smit-beeldepark. Foto:
Hierdie muur in die galery is ’n gewilde agtergrond vir gesinsfoto’s. Foto:

Allermins kunswêreld

Ek het op die Hoëveld grootgeword. Nie te ver van die Bronkhorstspruitdam nie, wat deesdae ’n toeristebestemming is . . . tik my om met ’n veer!

My vriende moes my ompraat om te kom en hier sit ek nou, in totale vervoering. Die Anton Smit-beeldepark is onverwags verhef op ’n kop net duskant die dam. Op ’n lap wuiwende grasveld drie hektaar groot. Wat ek om my sien, is vergapingswaardig. Jy hoef jou kop net ’n paar grade daai kant toe en terug te draai – nie eens nodig om van jou piekniekplekkie onder die bome af op te staan nie – om die teater tussen beeld en boom dop te hou. Die maskers wat hier waghou, staan minstens ’n verdieping hoog. Op hul beurt kom hulle so heuphoogte by die man wat kop agteroor op sy tone aan die blouste lug raak. Hy staan in kolossale verwelkoming tot Imagine Café – die koffiewinkel wat ligte etes en gevulde piekniekmandjies vir besoekers kan voorsien.

Die strekkende figuur is beslis nie enig in sy statuur nie. Oral hou die reuse saam piekniek. Of hang aan sementtotems.

Van hul niggies en nefies maak gereeld ’n monumentale buiging elders ter wêreld: Singapoer, Amsterdam, Keulen, Australië, Puerto Rico, Frankryk, New York . . . en tot 30 September in Genk, België.

Die kunswerke in die galery is die kersie op jou besoek. Foto:
Die kunswerke in die galery is die kersie op jou besoek.

Nagereg

Die tuin alleen hou ’n mens nogal besig en as dit nie vir die bordjie was wat “Galery” met ’n pyl aandui nie, sou jy maklik kon dink jou sintuie is versadig. Maar stap om die hoek en jou oë ontdek die poeding. In die galery kom jy dieper onder die indruk van die kunstenaarskap wat jou omring. Jy is in die teenwoordigheid van grootsheid – en dis nie net die skaal van die werk wat jou so laat voel nie.

Ons het gekom om ’n verjaardag te vier, vis-en-tjips en pizza te eet, die buitelug te geniet en toevallig ’n paar beelde te sien. Maar die middag word veel meer as dit. Die beelde word aktief deel van jou besoek. Dit voel of hulle asemhaal.

Kortliks
Die Anton Smit-beeldepark is bietjie meer as ’n uur se ry uit Johannesburg, 40 minute van Pretoria. Soek Anton Smit op Google Maps. Toegang tot die beeldepark is gratis. Besoek www.antonsmit.co.za of skakel 082 653 7659 vir meer inligting.

Meer oor:  Anton Smit-Beeldepark  |  Bronkhorstspruitdam  |  Kuns  |  Besoek  |  Reis  |  Kunswêreld  |  Piekniek  |  Beelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.