Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Plaas en kaas op Stanford

Op Stanford kan jy jou maklik verbeel jy besoek dieselfde mark as wat in die 1800’s ook daar bedryf is, skryf Marinda Louw Coetzee.

Sondagmiddagstappies in Stanford se hoofstraat.Foto’s: Marinda Louw Coetzee

’n Lang, maer omie trap-trap stadig met sy kierie oor die gras en polle klawer van die markplein. ’n Entjie verder skop ’n paar kinders bal en twee honde drink al spattend water uit die leivoor langs die smal straatjie.

Dit is Saterdag op Stanford in die Overberg, en die hoofstraat is bedrywig met voetgangers; stadsmense met linnebroeke en strooihoede, plaaslike mense met inkopies van die Algemene Handelaar en ’n paar jongelinge wat koponderstebo loop en nuwe lugtyd op hul fone intik.

Hoe meer ’n kaas stink, hoe lekkerder is hy mos – soos dié een van die kaasmakery Klein River Cheese.
Melktertrolletjies op die straatmark.

Markdag

Saterdag is markdag op Stanford, net soos jare gelede toe dit mense in die omgewing van groente, vrugte, blomme, koring en melk voorsien het. Dié produkte is ook seelangs Simonstad toe gestuur om verbygaande skepe van varsprodukte te voorsien.

Verskeie uitgetrede lede van die Britse weermag was onder die omgewing se eerste landhere en het met beeste, skape, katoen, lynsaad, gars, koring en blomme geboer. Trouens, die dorp is in 1857 vernoem na die tragiese figuur sir Robert Stanford. Dié Engelsman het als verloor toe hy beloof het om die Kaap van varsprodukte te voorsien, maar ’n staking van ander verskaffers veroorsaak het dat die inwoners van die Kaap toe verhonger.

Proe bier of siders by die Birkenhead-brouery net buite Stanford.

Hy is gebrandmerk as ’n verraaier, sy plase is verkoop, diere gesteel en plantasies afgekap. Die verlies van sy goed was vir hom so erg dat hy verlam geraak het en sy familie moes begin bedel om te oorleef. Sy voormalige plaas, Kleine Rivers Valley, is in 200 erwe verdeel waarop daar groente, vrugte en blomme verbou is. Jare later is die dorp egter na hom vernoem – teen ’n heffing van £50, wat hy self betaal het.

Vandag se markie bied amper dieselfde produkte as dié van eeue gelede. Daar is vryloop-eiers, wol, brode wat in vuuroonde gebak word, groente, bosse laventel en fynbos, en fyngebak wat lyk soos dié in

feëverhale: mokka-sjokoladebruintjies, melktert

rolletjies, reusagtige Skotse eiers en peer-en-polentakoek.

Terloops: laasgenoemde word gemaak deur Brydon Havercroft. Sy restaurant, Havercrofts, op die R43 net buite die dorp (028 341 0603), is beslis ’n besoek werd.

Die straatmark is gewild onder die naweekbesoekers wat kom kuier.

Stanford lê teenaan die Kleinrivier en is ’n voëlkyker se droombestemming.
Bespreek ’n bootrit op die Kleinrivier of huur ’n kajak om die rivier te verken.

Nog doendinge

Stanford is net so 145 km vanaf Kaapstad met die N2 langs en bied dus ’n rustige wegbreek vir stadsjapies. Blyplek is volop, van selfsorgverblyf op wynplase in die omgewing tot geskiedkundige kothuise naby die Kleinrivier, wat deur die dorp loop.

  • Stanford en omgewing is ’n smulpaap-paradys. Daar is plaasrestaurante, dorpsrestaurante en ’n hele paar proe-plekke vir hardehout, wyn en mout. Gaan proe drie jenewers vir R120 by Misty Mountains Estate (mistymountains.co.za), toets Die Stookhuis se grappa by die Robert Stanford Estate (R60 vir vier grappas en ’n espresso; robertstanfordestate.co.za) en soek jou gunsteling uit Birkenhead-brouery se biere en siders (R75 om vyf biere te proe, en R60 vir ses siders; birkenhead.co.za).
  • Kaas is baas van die plaas op Stanford. Kies jou eie kase vir ’n kind- en hond-vriendelike piekniek by die bekroonde Klein River Cheese (kleinrivercheese.co.za) so entjie buite die dorp. Of ry verder aan met die R326 om te sien hoe kaas gemaak word by Stone House Estate (stonehousecheese.co.za). Gaan kyk vroeg – dis gratis, maar hulle is reeds 11:00 klaar.
  • By die Stanford-toerismekantoor (stanfordinfo.co.za of 028 341 0340) kan jy perdritte bespreek, en vierwielmotorfietse en bergfietse huur om die omgewing te verken. Kry ook hier ’n 4x4-permit.
  • Wateraktiwiteite soos roei en bootritte op die Kleinrivier, of visvang by Vaalvleiplaas (072 782 3431; R100 vir dagbesoekers) en op Die Plaat by die see is gewild.
  • Wend jou tot die hemele om die landskap uit een van African Wings se vliegtuie te sien (vanaf R3 850 per persoon vir 30 minute; 082 555 7605). Of bekyk dit grondlangs: Gaan stap een van die kort of langer roetes op plase en natuurreservate soos Phillipskop, Walker Bay of Mosaic. As jy al daai kos by die mark moet afwerk, kan jy sommer net vinnig jou staffie vir ’n stappie op die Wandelpad langs die rivier neem. Daar word ook ’n volmaanwandeling tussen die melkhoutbome gehou.
  • Die Stanford Stumble-resies (25 November), Toy Run-motorfietssaamtrek (25 November), Straatfees (16 Desember), Krieketdag (26 Desember), Rivierfees (eerste naweek in Maart) en Herfsfees (laaste naweek in Mei) is hoogtepunte.
  • Stanford is ook net so 25 km vanaf Hermanus en 18 km van Gansbaai, waar haaiduik, walvisbootritte, watersport en strande gewild is. In die walvistyd (Junie tot November) is dié reusesoogdiere in Walkerbaai te sien.Klein winkeltjies in die hoofstraat verkoop roomys, ontwerpersklere, speelgoed, Chinese snuisterye, handgemaakte items, huisgoed en outydse vondste. Daar is oudhedewinkels wat gehalte-ougoed verkoop, van kant, linne en breekgoed tot meubels, munte en selfs ’n perdekar.
  • Kry die interessante brosjure oor die dorpsgeskiedenis by die toerismekantoor (R10) en verken die dorp se geskiedkundige geboue en stofstraatjies.

Of, as jy eerder net wil uitspan, gaan sit en lees langs die rivier terwyl jy luister na die voëls, waarvan daar meer as 200 spesies al aangeteken is.

Hier is waarlik iets vir enige smaak én energievlak.

Meer oor:  Stanford  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.