Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Plek van drake en trompetgeskal
Kraków Explorers bied gratis staptoere aan – nou ook aanlyn.

Met die inperking wat miljoene reisigers se planne in die wiele gery het, het aanlyn toere se gewildheid begin toeneem.Een van die staptoere wat ons in Januarie in ysige weer in die Poolse stad Krakow onderneem het, is nou ’n heel ander ervaring via Zoom, met sonskyn en groen bome.

Vanjaar is die 75ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog en daar is dus hernieude belangstelling in veral die voormalige Sowjetunie-lande, waar die oorlog diep letsels gelaat het. Veral konsentrasiekampe soos Auschwitz en Birkenau – albei besienswaardighede wat jaarliks meer as twee miljoen toeriste lok – is in Pole geleë.

Maryke Roberts

Gedurende die Nazi-inval in Pole is Krakow bykans heeltemal verduits en al die Jode in ghetto’s ingejaag en later na konsentrasiekampe vervoer.

Krakow is een van die min Europese stede wat nie onder bomwerpers deurgeloop het nie en baie van die strate en argitektuur is ongeskonde. Die hele stad is in 1978 reeds tot ’n Unesco-wêreld­erfenisgebied verklaar.

Stapskoene na pantoffels

In Januarie beland ons in die suide van die land.

Dis ’n gemaal vir toere van Auschwitz en Birkenau of van die stad se bekende soutmyne.

Voor hotelle en gastehuise staan toerbussies gereed om jou na die beginpunte van die toere te neem. Jy sit knus teen ’n paartjie van Frankryk, Mexiko of Denemarke en in gebroke Engels ruil julle ’n bietjie inligting oor jul geboorteland en hoe die oorlog moontlike familie of vriende se lewe geëis het.

Ek staan steeds verbaas oor iets wat ’n driekwarteeu gelede gebeur en soveel verreikende gevolge gehad het – tot in die suidpunt van Afrika, waar Suid-Afrikaanse oupas of oupagrootjies in die oorlog gesneuwel het.

Die yslike, hol bronsborsbeeld op die markplein waardeur jy kan gaan loer vir oulike foto’s, getiteld Eros Bendato.

Op ons Januarie-toer kry ons ons gids, Eugene Dasjefski van Kraków Explorers (wat gratis staptoere aanbied), op die reuse- markplein in die ou stad, Rynek Glówny in Pools. Die gratis toere werk op skenkings: Jy gee soveel jy kan en hoeveel jy dink die toer werd is.

Dis presies hoe die aanlyn toere nou werk. Jy bespreek jou plek vir ’n spesifieke datum en tyd, skakel in via Zoom en kuier saam met toeriste van oor die wêreld heen, maar sonder baadjie, sambreel en hoed; eerder in jou pajamas, pantoffels en op ’n gemaklike rusbank.

Ons bespreek weer by Eugene, wat hierdie keer sonder sy sambreel en serp gesels.

Eugene Dasjefski van Kraków Explorers voor die stad se pragtige operahuis.

Weer is daar mense van oor die wêreld heen wat saam “stap”.

En soos Eugene verduidelik: “Dit maak nie saak of jy voorheen een van ons toere onderneem het nie, met elke toer is daar iets nuuts om te leer; nuwe speletjies en vasvra wat gehou word en boonop is die ander Zoom-gangers van ander dele van die wêreld, wat dus ander insigte bring.”

Elke toergroep word van tien tot 12 toeriste beperk.

Vrae en antwoorde

Jy sal verstom staan oor kunswerke soos dié wat ondergronds uit sout gekerf is in die Wieliczka- soutmyn.Foto’s: Clifford Roberts

Tydens die aanlyn toer van Krakow hoor jy van die algemeenste vrae wat toeriste in Kraków Explorers se vyf bestaansjare gevra het. Soos waar om die beste foto van die ou stad te neem (van die toring van die St. Maria-basilika); wat is die rede vir die mes in die Doeksaal, die Middeleeuse mark in die middel van die stad (twee broers het baklei en een het die ander daarmee vermoor en toe homself noodlottig gewond); en wie se kop is die yslike, hol bronsborsbeeld op die markplein waardeur jy kan gaan loer vir oulike foto’s? (Eros Bendato, deur die Poolse kunstenaar Igor Mitorasj, as jy gewonder het).

En wat is die storie van die draak wat vuur spoeg langs die rivier? Die draak-legende lui só, vertel Eugene: “Eeue gelede het ’n draak in die stad elke oggend ’n maagd vir ontbyt geniet. Die stad het gou al die maagde geoffer totdat net die koning se dogter, Wanda, oor was.

“Die koning het haar hand aan die ridder beloof wat die draak kon verslaan.

“Die nederige skoenmaker-handlanger Skuba het gesê hy sal die draak met ’n lam doodmaak.

“Die koning het die lam gegee; Skuba het die lam se maag oopgesny en vol swael gestop en voor die draak se grot gaan neersit.

“Die draak het die lam opgevreet, maar die swael het hom vreeslik dors gemaak. Hy het uit die Weichselrivier water gedrink totdat sy maag so vol was dat hy ontplof het. Vandag kan jy die draak-standbeeld sien wat elke paar minute vuur spoeg.”

Die uitsig van die 14de-eeuse St. Maria-basilika (Kosciol Mariacki) se toring is die moeite werd.

Die beste uitkykpunt vir dié gespoegery is van die Wawelheuwel.

Jy stap op albei toere deur die binnehof van die universiteit, Collegium Maius, wat in die 14de eeu gebou is. Dit lyk soos iets wat J.K. Rowling kon uitdink vir haar Harry Potter-reeks. Dis Pole se oudste universiteit; die tweede oudste universiteit in Sentraal-Europa en een van die oudste oorblywende universiteite ter wêreld. Dit dateer van 1364. Van die bekendste alumni is Nikolaus Kopernikus en pous Johannes Paulus II.

En só herleef ons die wonder van Krakow.

Die konsentrasiekamp-toere is iets wat elkeen moet beleef sodat daardie verskrikking nooit herhaal kan word nie, maar dit word ongelukkig nie met aanlyn toere onderneem nie.)   Bespreek jou aanlyn toer by krakowexplorers.com/ourtours/virtual-tour.

As jy weer mag reis
  • Onderneem ’n dagtoer in die Wieliczka-soutmyn, waar jy verstom sal staan oor die kunswerke wat tot 350 m ondergronds uit sout gekerf is. Daar is selfs ’n hele kapel. Die myn het 350 km se paadjies.
  • ¦’n Dagtoer van die konsentrasiekampe, waar jy elke hoekie en gaatjie van die verskrikking saam met ’n opgeleide gids kan beleef.
  • ¦’n Staptoer van die Joodse woonbuurt Kazimierz, waar Schindler’s List verfilm is en waar Oskar Schindler se fabriek nou ’n museum is. Hy het 1 200 Jode van die konsentrasiekampe se gaskamers gered. Gaan kyk veral na die Plac Bohaterow Getta se gedenkmonument van 68 stoele, waarmee die buurt se voormalige groot Joodse bevolking gehuldig word. Elke stoel verteenwoordig duisend Jode.
  • Betaal gerus die toegangsgeld van sowat R75 vir die 14de-eeuse St. Maria-basilika.
  • Maak seker dat jy op die uur ’n goeie uitsig van die kerktoring het, want ’n musikant verskyn in ’n klein venster en speel ’n kort deuntjie op ’n trompet. Dis ’n gebruik wat honderde jare gelede begin het en lok honderde toeriste. Die deuntjie stop onverwags, omdat die trompetspeler sy troepe eeue gelede van ’n Mongoolse aanval moes waarsku en ’n Mongoolse boogskutter het die trompetspeler met ’n pyl in die keel getref. Die stad se poorte is betyds gesluit en die inwoners gespaar.

    • ¦Die Wawel-kasteel en Wawel-katedraal op dié heuwel wat volgens Eugene Pole se Westminster-abdy is. Daar is ook ’n mooi uitsig oor die stad van die Sigismund-kloktoring, maar dis ’n steil klim.
  • Meer oor:  Drake  |  Reis
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.