Plettenbergbaai is op die World Travel Awards-geleentheid as die beste strandbestemming in Afrika aangewys, wat onder meer met Kaapstad meegeding het.
Plett Tourism, die organisasie wat Plettenbergbaai bemark, sê in ’n verklaring dit was die dorp se 11de agtereenvolgende benoeming, wat ’n groot eer is. Die dorp beskik oor 20 km se kuslyn en die hele baai is ’n beskermde mariene gebied. Daar is ook ses Blouvlagstrande en mariene lewe soos ’n groot verskeidenheid walvisse kom aan die kus voor. Plettenbergbaai word aan die een kant beskerm deur die Robberg-natuurreservaat, ’n nasionale monument en wêrelderfenisterrein, en aan die ander die inheemse reënwoude en die Tsitsikamma-berge. Plettenbergbaai het ook ’n matige klimaat en is die hele jaar ’n gewilde bestemming vir mense.

Plettenbergbaai
Dit gaan nie net vir hulle daaroor om Afrika se voorste strandbestemming te wees nie, maar ook om ’n wêreldklasbestemming te wees waar ’n fyn balans gehandhaaf word tussen dit wat besoekers kan geniet terwyl natuurlike bates beskerm word.
“Ons moedig besoekers aan om respek te toon vir die dorp, die omgewing in ag te neem en niks agter te laat nie,” sê Patty Butterworth, waarnemende uitvoerende hoof van Plett Tourism.
Graham Cooke, die World Travel Awards se stigter, sê die wenners het almal merkwaardige veerkragtigheid getoon in ’n jaar vol ongekende uitdagings. Volgens hom is ’n rekordaantal stemme vir die 2020-pryse van die publiek ontvang. Dit wys dat mense se lus vir reis en toerisme sterker is as tevore en is in die geheel ’n goeie teken vir die herstel van die toerismebedryf.