Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Redes om Ethiopië te besoek

“Ethiopië? Wat gaan julle daar doen? Dit is dan ’n woestyn. Daar is net onrus, hongersnood en armoede.” Dít is van die reaksie wat ons gekry het toe ons onlangs ons reistasse pak om dié land te gaan verken. Sommige mense het darem gevra: “Bring asseblief koffie saam.”

’n Jong vrou van die Dorze-stam berei deeg voor vir injera, die Ethiopiërs se stapelvoedsel.Foto’s: Johan en Elise Tempelhoff

Ek het my antwoorde gereed gehad oor die rede waarom ’n besoek aan Ethiopië op my wenslys is: Ek wou graag die Blou Nylrivier en die Groot Skeurvallei sien.

’n Interessante feit waarvan ek bewus was, was dat Ethiopië die enigste land in Afrika is wat nooit gekoloniseer is nie.

Ek het natuurlik ook geweet dat Ethiopië die hoofsetel van die Afrika-Unie is. Ons wou ook die gebou sien waar Afrika-leiers oor die kontinent se toekoms besin en besluit. Ons het eers dáár, in Addis Abeba, uitgevind dat dié indrukwekkende gebou met Chinese geld gebou is.

Toe ons op 5 Oktober vanjaar van die O.R. Tambo-lughawe vertrek, was dit asof ons in ’n tydkapsule geklim het, want toe ons op die Bole- internasionale lughawe in Addis Abeba aanland, was dit 5 Oktober 2012. Ethiopië het sy eie kalender en verwys graag na homself as “die land met 13 maande van sonskyn.”

Donkies en muile is vir Ethiopiërs meer werd as goud. Die diere vervoer die meeste van die mense se goedere. Hulle vervoer water, boumateriaal, vars produkte vir markte en sakke kos. Dit is ook die meeste mense se vervoermiddel, veral dié op die platteland.

Vanuit die lug, kort voor landing en ná ’n vlug van sowat vyf en ’n halfuur, het ek ’n landskap gesien wat soos ’n vrolike lappieskombers lyk: Dit was asof dié stuk aarde daar ver onder ons in blokke van geel, groen en bruin verdeel is.

En oral het ek berge gesien. Ons sou later uitvind dat 80% van Afrika se hoogste berge in Ethiopië is.

Met ons aankoms op die lughawe het die doeanebeamptes skaars na die kaartjies gekyk wat aandui ons het inspuitings teen geelkoors gehad.

Ál wat hulle wou weet, was of ons onlangs in die Demokratiese Republiek van die Kongo of Tanzanië was. Dít was uit vrees vir ’n moontlike Ebola-besmetting.

Ons reisgids, Haile’AB Sejoem van die Overland-reisagentskap, het ons op die lughawe verwelkom en van die begin af geesdrif inligting oor Ethiopië met ons gedeel.

Addis Abeba beteken “nuwe blom”, het hy verduidelik. Dit was toe al die tyd die plate geel blommetjies, ’n soort madeliefie, wat ons uit die lug gesien het.

’n Groot deel van Ethiopië is heuwelagtig en bedek met groen landerye en plate geel blomme. Die noordelike hooglande bestaan uit berge. 80% van Afrika se berge is in Ethiopië.

Van die oomblik dat ons in Addis Abeba aangekom het, was dit asof ons, vir 15 dae, tot 3 000 jaar terug die verlede ingestap het.

Ethiopië is oud, baie oud, selfs dalk ouer as Egipte. Die land was vroeër bekend as Abessinië.

En sowat 3,18 miljoen jaar gelede het die oudste hominied, “Lucy”, in die Afar-gebied in die verre-noordooste van die land gelewe. Oorblyfsels van haar beendere is in 1974 opgegrawe.

Haar Aramese naam, Dinkenesj, beteken: “Jý is wonderlik.”

Ons het etlike ure in die na­sionale museum in die stad deurgebring en hier het die wonder van die argeologiese geskiedenis van Ethiopië gedeeltelik vir ons oopgegaan.

’n Besoek aan Ethiopië is nie sonder sy uitdagings nie. Die woorde wat dit naastenby sou kon beskryf, is dat dit “opwindend, insiggewend en lewensveranderend” is.

Hoewel die land baie water het, het die mense nie oral toegang tot skoon, lopende water nie.

Die indrukwekkende gebou van die Afrika-Unie is in 2012 in gebruik geneem. Volgens inligting simboliseer die ontwerp daarvan die samewerking tussen Afrika en China. Die bouwerk en ontwerp is deur die Chinese gedoen. China het die geld vir die gebou “gegee”. Dié gebou het sowat U$220 gekos om op te rig.

Daar is gedurig kragonderbrekings en net 35% van die land se bevolking het toegang tot elektrisiteit. Ethiopië het geen steenkoolkragstasies nie en is hoofsaaklik van hidroëlektriese en sonkrag krag afhanklik.

En vergeet van WiFi – dit is onbetroubaar en soms (maar baie beperk) in hotelle beskikbaar.

Gaan met ’n oop lens na dié uitsonderlike land en geniet elke oomblik, want Ethiopië en sy vriendelike en behulpsame mense gaan diep in jou hart kruip.

Sejoem kan vlot Engels praat en het ons op ons reis na eg tra­disionele plekke geneem waar ons gewoonlik vegetariese kos geëet het en natuurlik baie koffie gedrink het.

Ons besoek het ons na die verste noordelike grens van die land met Soedan geneem, waar ons onder meer na die ou stad Aksoem en tot by die Omorivier in die suide naby die land se grens met Kenia gereis het.

Werd om te weet
  • Daar woon 80 etniese groepe in die land.
  • Die amptelike taal is Aramees. Volgens historiese geskrifte het Jesus en sy dissipels Aramees gepraat. Groot dele van die Bybel is in Aramees geskryf.
  • Die stapelvoedsel is injera, ’n pannekoekvormige suurbrood wat gewoonlik van tef gemaak word en waarop speserye, souse, slaaie, bone en lensies gerang­skik word. Die Ethiopiërs eet op Woensdae en Vrydae net vegetariese kos.
  • Ethiopië se bevolking word geraam op 108 miljoen. 75% van die inwoners woon op die platteland en is landbouers of veeboere.
  • Meer as 60% van die land se mense is Christene. 
  • Die geopolitiek tussen Ethiopië en aangrensende Eritrea veroorsaak voortdurende konflik, veral omdat Ethiopië nie ’n hawe het nie. 
  • Daar is ook groot spanning tussen Ethiopië en Egipte oor die opdam van die Blou-Nyl wat in Ethiopië ontspring.
  • Abii Ahmed Ali, die land se eerste minister, het in Oktober vanjaar die Nobelprys vir Vrede ontvang. Dié prys is onder meer aan hom toegeken omdat hy ’n vredesooreenkoms met sy eweknie in Eritrea, Isaias Afwerki, geïnisieer en onderteken het. Die oorlog tussen dié twee lande het die afgelope 20 jaar duisende lewens geëis.
  • Philip Briggs skryf in sy jongste reisgids, Ethiopia, die hooglande van Ethiopië kan beskou word as die ekologiese en kulturele ontmoetingsplek van Afrika, die Arabiese en die Mediterreense wêreld. 
  • ’n Visum is noodsaak vir Ethiopië. Dit is maklik en vinnig om een te kry omdat ’n mens sommer oor die internet vir ’n e-visum kan aansoek doen. 
  • Dit is verpligtend om geelkoorsinspuitings te kry.
  • Die paaie is soms onbegaanbaar en daarom is ’n viertrekvoertuig en ’n plaaslike gids – wat behoorlik Engels kan praat – onontbeerlik. 
  • Overland Tours het vir ons binnelandse vlugte gereël, asook voertuie en motorbestuurders. Ons reisgids, Haile’AB Sejoem, het ook vir ons spesiale gidse by uitsonderlike Ethiopiese bestemmings soos Aksoem, Gondar, Lalibela en in die Skeurvallei gereël. Hy het ook al ons verblyf bespreek en vooraf foto’s van die blyplekke vir my op WhatsApp gestuur. 
  • Ethiopië se geldeenheid is die Birr. 2 Birr is ongeveer gelykstaande aan R1. Reisagente verkies om in dollar betaal te word.
Dít is groot pret! ’n Algemene gesig in Ethiopië, wat glo eers onlangs begin het, is dat baie jong mense deesdae motorfietse het. Dit is nie vreemd om tot vier mense, waarvan een ’n vrou met ’n baba op haar rug is, op ’n motorfiets te sien nie.
’n Jong Ethiopiese vrou brand koffiebone in een van die tradisionele restaurante op die Ethiopiese platteland.
Addis Abeba, Ethiopië se hoofstad, het sy naam glo te danke aan hierdie bosse geel blommetjies. Addis Abeba beteken “nuwe blom”.
In die groter dorpe en selfs op die platteland, is die konvensionele taxi’s vervang met die goedkoper, Bajaji. Dit is ’n klein tuk-tuk met drie wiele. Die Bajaji is van Indië ingevoer. Dit kos sowat $1 vir ’n kort rit in een van hierdie voertuie.

Meer oor:  Ethiopië  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.