Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Reis met Jens: Bergpas wat mens teruglok

Vraag:

Watter bergpas sal jy graag weer wil ry, Jens? – Adri van Schalkwyk, Kempton Park

Daar is 16 pieke in die Arthur’s Pass Nasionale Park in Nieu-Seeland wat hoër is as 2 000 m. Foto: Jens Friis

Antwoord:

As Karookind bekoor berge my. Daar is vele passe wat ek weer sal wil ry, maar ’n onverwagse een wat my steeds bybly, is Arthur’s Pass van waar jy ’n wye blik oor Nieu-Seeland se Suid-Eiland het.

’n Televisie-reiskanaal het kort voor ons vakansie dié bergpas bestempel as een van die “skouspelagtigste” ter wêreld, en só het dit toe gekom dat ons dit aandurf.

Om vanaf Canterbury aan die Stille Oseaan tot by die weskus langs die Tasmansee te kom moet jy eers die Suidelike Alpe oor.

Deur dié magtige bergreeks vleg slegs een spoorlyn en twee paaie, waarvan die Arthur’s Pass Road die hoogste en indrukwekkendste is.

Op ’n kaart lyk dit of jy dit sommer in ’n japtrap kan afblits, maar dié kronkelroete lei oor berge en dale. ’n Rit neem omtrent dubbeld so lank as die ellelange pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg. Só het ons vier uur en 15 minute gery aan die 258 km van Christchurch, die grootste stad op die Suid-Eiland, tot aan die weskus.

Die TranzAlpine Railway loop lang stukke regs langs die Arthur’s Pass Road en ek lees dat dié treinrit van Christchurch na Greymouth omtrent ewe lank as per motor duur.

Dit moet een van dié treinritte ter wêreld wees. Al jammerte is dat ’n mens nie soos per motor op die ingewing van die oomblik kan stop vir foto’s in dié wonderskone wêreld nie.

Van Springfield af klim die pad vinnig uit teen die Porterpas (945 m). Hier vorm die berge ’n plato en ry jy deur valleie oor strome, verby kalksteenpieke en ondeurdringbare bosse.

Hierna volg Arthur’s Pass (924 m) in die gelyknamige nasionale park – 16 pieke in dié park is hoër as 2 000 m.

Aanvanklik het boerdery-geleenthede setlaars van Canterbury af wes gelok, maar dit was eers ná die ontdekking van goud in die 1860’s dat groot getalle Europeërs die Suidelike Alpe oorgesteek het.

Destyds was dit ’n uitmergelende tog, maar selfs vandag nog kos dit kophou as jy dié pragtige pad pak.

  • In ’n volgende aflewering vertel ek nog meer van dié besonderse pas.
Meer oor:  Karoo  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.