Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Reis met Jens: Ontmoet jouself in klooster

Vraag:

Ek reis gereeld vir werk en moet dan in hotelle bly waarvan die een gewoonlik baie op die ander trek. Eersdaags gaan ek deur Europa toer en sal bitter graag in gewone, maar karaktervolle plekke wil bly. Wat kan jy aanbeveel? – Erma de Beer, Johannesburg

Jens Antwoord:

Kloosters oral in Italië bied deesdae alternatiewe en dikwels bekostigbare verblyf in Europa.Foto: Jens Friis

Nie alle toeriste sal sin in sulke blyplek hê nie, maar ek dra my herinnerings van my verblyf in Europese kloosters soos ’n kleinood saam.

Kloosters was eeue lank ’n toevlugsoord vir pelgrims en studente. Nou is hul deure weer oop, dié keer vir toeriste. Ekonomiese redes noodsaak dit.

Rook is hier verbode. Daar is nie ’n private telefoon nie en ook nie kamerdiens nie. Die bed is dikwels smal, die handdoek dun en die seep so-so. ’n Minikroeg en satelliet-TV is daar nie.

Jy word nie oor jou geloof gevra nie. In sommige kloosters mag net vroue oornag. In ander word paartjies, gesinne en selfs mans wat alleen toer, ontvang.

Alles hang af van die orde waaraan die kloosters behoort en die mate waarin hulle vir geestelike toerisme gereed is.

By Domina Nostra Adunationis (Engels: Our Lady of Atonement) in Rome vra ’n vriendelike non jou naam as jy die klokkie lui. Sy lei jou na ’n kamer wat taamlik spartaans ingerig is.

Jy herinner jouself aan wat Job geleer het: ’n Mens kom die wêreld met niks in nie, en gaan ook só daar uit.

Daar is ’n bed, lessenaar, leeslamp, hangkas en soms die luukse van ’n skryftafel – omtrent wat jy in ’n gewone hotelkamer sou verwag.

Ontbyt word by tafeltjies in ’n keurige eetkamer bedien.

By die Santa Caterina-klooster in Siëna moet jy ekstra betaal as jy ontbyt wil hê. Vir afwisseling neem jy die bus na Pienza om ontbyt te gaan eet.

Die eerste Europese klooster is in 529 by Montecassino, by die dorpie Cassino in Italië, deur St. Benedictus van Nursia gestig. Hy het ook die reëls gemaak wat steeds die grondslag van die lewe in ’n klooster in die Westerse wêreld vorm.

Die Domus Cavanis in Venesië se ingang is donker en koud, so ook die gange na die kamertjies. Dit is egter sentraal geleë.

Om die draai is die Peggy Guggenheim-museum en die Gallerie dell’ Accademia.

Wie bly baie hier oor, vra ek die non wat die deur oopmaak. Sy verduidelik vir sommige toeriste is die lae pryse aanloklik.

Maar wêreldmoeë reisigers stroom ook hierheen. Hulle soek ontvlugting van stres in ’n tegnologies gevorderde wêreld wat vir hulle dikwels so sinloos lyk.

As jy daardie soektog in “weelde” wil doen, is die Casa di Santa Brigida in Rome die regte plek. Hier kry jy, anders as in die meeste kloosters, jou eie sleutel vir die deur langs die Via Monserrato.

Smullekker etes word hier bedien. Die kamers het lugverkoeling en ’n telefoon. Jy kry dalk ’n kamer met ’n venster wat op ’n rustige binnehof uitkyk of een met sy eie badkamer.

Ook in Oostenryk verskaf kloosters deesdae verblyf. Die 12de eeuse klooster in Geras is tussen wingerde aan ’n heuwel naby die grens met Tsjeggië.

Die huisvesting en kos is goed. Boonop is daar die geleentheid om kunsklasse te volg. En mans kan hier ’n paar weke lank soos ’n regte monnik leef.

Die eerste Europese klooster is in 529 by Montecassino, by die dorpie Cassino in Italië, deur St. Benedictus van Nursia gestig. Hy het ook die reëls gemaak wat steeds die grondslag van die lewe in ’n klooster in die Westerse wêreld vorm.

Om in ’n klooster te vertoef, laat jou nader aan jouself beweeg en bring jou in voeling met dinge wat jy al vergeet het. Vir gelowiges wat glo dat God die maat is waarmee die heelal gemeet word, kan dit ’n persoonlike pelgrimsreis wees. Vir ander bied dit dalk die kans om die aardse en sintuiglike te herbeleef.

Meer oor:  Europa  |  Vraag En Antwoord  |  Reis  |  Hotelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.