Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Reis terug in die geskiedenis

Kies koers na die Sentraal-Drakensberge wanneer jy weer die kans kry. Dié plekke is beslis ’n besoek werd.

Die verruklike landskap by Champagne Castle in die Sentraal-Drakensberg. Foto’s: Sam J Basch


’n Reis is meer as net ’n bestemming en ek glo ’n slim reisiger het ’n oop agenda: Jy hou stil by iets wat die oog vang en só ontdek jy die ongewone.

Dis presies hoe ons groep reisigers die Drakensberge by ’n onlangse besoek aangepak het. Daar was slaapplek bespreek in die vallei onder Cathkin-piek, ’n goeie basis om die omgewing te verken, en verder was daar geen vaste plan nie. Vanaf ons basis was daar heelwat langs die R600 en die R103/R74 om te ontdek.

Proviand was natuurlik eerste op die agenda. By die Pig & Plough-plaaswinkel langs die Klein-Tugelarivier waar jy Winterton binnery, koop jy van die plaaslike varkworsies en spek wat sonder twyfel anders smaak as ’n supermarkproduk. Dit moet die Britse invloed wees – KwaZulu-Natal word nie verniet die laaste buitepos van die Britse “Empaaier” genoem nie! Dis suiwer Cumberland- en Lincolnshire-wors, so reg uit daardie streke van Engeland. Nes die tuisgemaakte pasteie. Daar is ook ’n verskeidenheid kaas, netjies verpak in peuselpakkies. Duitse piekelkomkommers, aarbeikonfyt, olywe en wyn uit die Kaap rond jou week se proviand netjies af.

’n Ent uit Winterton, vroeër glo Springfield genoem, hou jy stil by die Valley-bakkery op ’n plaas teenaan die R600 vir vars brood – daardie tipiese landelike bakoondbrode van Italië en Spanje. Hier kan jy koffie drink, of aansit om te eet, maar ’n wegneem-lekkerny is Portugese “pastéis de nata” oftewel vlatertjies.

As die woord proviand ietwat militêr klink, is dit dalk gepas. Oral in hierdie streek is plekke waar veldslae geveg is: van Bloukrans waar Voortrekkerlaers in 1838 oorval is en Spioenkop waar die Boere ’n groot oorwinning behaal het, tot by Ladysmith wat maande lank beleër is.

Die Negosiemuseum bring herinneringe van jou kinderjare terug.
Die historiese ou stadsaal in Lady­smith. Die kloktoring is tydens ’n beleg in die Anglo-Boereoorlog deur artillerie beskadig.

Negosiemuseum

Maar eers draai jy af by die padbord na Ardmore-gasteplaas en -keramiekateljee. ’n Kort entjie op ’n grondpad bring jou by Sandra se Winkel en die Negosiemuseum. Die vriendelike David Motseki beduie dis gratis om die winkel te besoek, maar toegangsgeld van R20 is betaalbaar vir die museum. Dis die geld werd.

Sandra Lemmer is ’n versamelaar; haar winkel bied kombuisware en naaldwerk uit vergange se dae, asook haar ingevoerde Iranse tekstiele onder die naam Suzani (wat “naald” beteken). Uitsonderlike, kleurryke keramiekware ontwerp en gemaak deur plaaslike kunstenaars is te koop.

Dis eers wanneer jy die mu­seum betree dat dit jou tref: ek is terug in my kinderjare.

Sandra, wat haar onderneming tot onlangs in Rosendal in die Vrystaat bedryf het, kon dit nie weerstaan om die handelsware van 1960 en vroeër uit die boedel van ’n gestorwe winkelier, J. Millar & Son, aan te koop nie. In Lesotho het sy drie sinkskure bekom om in ’n replika-handelshuis te omskep – in die Cathkin-vallei waar sy grootgeword het.

Haar inspirasie was die Indiër-negosiewinkel in die vallei waar sy as kind lekkers gekoop het. Dít sien jy in die museum: glashouers met lekkergoed en kissies koeldrank, huisapteekmedisyne, rokmateriaal, paraffienlampe, pruimtwak, boerseep, teesiffies, knipmesse, Minora-skeerlemmetjies en rakke vol huishoudelike produkte. Van die handelsname ken jy, soos Frisco, Royal-jellie en Nestlé.

Maar dan gaan die gedagtes ver terug na geblikte Hugo’s-groente en Fray Bentos-worsies in blikkies, Fab-seeppoeier, Robin-stysel, Shu-Shine en Voortrekker-boereworsspesery.

Meer as 780 gevalle Boere se name word by die Burgermonument op Platrand vereer.
Gedenksuil vir die Voortrekkers wat in 1838 by Bloukrans oorval en vermoor is.

Besoek die slagvelde

Voordat jy die slagvelde aanpak, geniet ’n regte Engelse ontbyt by die Thokodiza-sentrum, 15 km uit Winterton op die R600. Die sentrum met sy opelug-kunswerke is enkele kompakte winkeltjies wat juweliersware, handwerk, klere, snuisterye en leerware verkoop.

Daar word gesê Winston Church­ill se politieke loopbaan het langs die spoorlyn tussen Estcourt en Colenso begin.

Die plek waar hy op 15 November 1899 tydens die Anglo-Boereoorlog gevange geneem is, lê teen die spoor langs die R103/R74.

Die R103 neem jou verby Colenso, eweneens ’n veelgesproke naam in daardie oorlog, tot by Ladysmith.

Ladysmith is vir weke lank van November 1899 tot laat Februarie 1901 beset om die Britse magte vas te pen en hul opmars na Transvaal (die Zuid-Afrikaansche Republiek – ZAR) te stuit.

Bokant die dorp is Platberg, waar ’n bloedige geveg op 6 Januarie 1900 plaasgevind het toe Boerekommando’s die heuwel, ook genoem Wagon Hill, van Britse troepe wou afneem. Die pad boontoe neem jou verby die Platberg Lodge aan die suidekant.

By ’n vurk in die pad bo-op die rant draai jy regs om by die aangrypende Burgermonument te kom. Die sewe gestileerde hande wat boontoe uitreik, met 781 name van gevalle burgers, is deur ’n gedig van Ernst van Heerden geïnspireer.

’n Mooi aandenking van hierdie vallei is om Woensdae na ’n sang­repetisie van die Drakensberg-seunskoor te gaan luister. Die skool is onder Cathkin-piek, 30 km van Winterton.

Of koop ’n syserp van die KwaZulu Weavers by hul winkel op dieselfde pad – jy kan selfs sien hoe hulle die produkte weef.

Outydse huishoudelike voorrade in die Negosiemuseum.

Wie was Lady Smith?

Juana María de los Dolores de León, van Spaanse adellike afkoms, het as 14-jarige die jong militêre offisier Harry Smith gekonfronteer oor Britse soldate se geweld en muitery in haar geboortedorp Badajoz. Dit was in 1812. Só betower was hy dat hulle binne dae getroud is. Juana was regdeur Harry se loopbaan aan sy sy; ook toe hy in 1847 as goewerneur na die Kaap gestuur is.

Ladysmith in Natal en Ladismith in die Karoo is na haar vernoem. Met hul terugkeer na Engeland in 1852 was sy erg aangedaan om Suid-Afrika te verlaat.

Terloops: Terwyl sir Harry soggens spek en eiers, ’n tipiese Britse ontbyt, in Suid-Afrika sou eet, het Juana aangedring op die sappige, soet vrug wat ons in Afrikaans “spanspek” noem. Haar kombuismense het vermakerig daarna verwys as “Spaanse spek”.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.