Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Roei in die middernagson

Die Skandinawiese middernagson is ’n somer lank jou dag-en-nag-metgesel, skryf Louïne van der Vyver.

Die meer word omraam met ’n groen woud. Foto:

Om 15:00 land ons in Stockholm. Die wolke hang laag en dit lyk halfskemer.

Die stad voel meer soos ’n woud en ons sien skaars die oprit na ons oornaghut aan die buitewyke tussen die diggroeiende lower. Wat ons dadelik opval, is die loodsware gordyne – jy’t twee hande nodig om dit stadig en sistematies getrek te kry. En dit lyk so of dit nie daar tussen die vakansiewit strooikussings en witgewaste Ikea-minimalisme, wat my Zen-voornemens bevredig, hoort nie.

Die meer word omraam met ’n groen woud. Foto:

Met die hoek-tot-hoek-uitsig oor klein bokspoorpaadjies tussen die bome (en ’n bordjie wat sê pasop vir die elk!) en skaars sigbare spitsdakke om ons wat aandui ons is wel in ’n stad, wil my knieë sommer uit die staanspoor swik in meditasie en lofprysing. Dis te goed om waar te wees.

Daar is ’n bakkery oorkant die straat. Hulle beveel Västerbotten-kaas by ’n geurige neutbrood aan en nou sit ons gesinnetjie en skeur groot repe uit sy sagte, warm binnevlees en verorber dit met dik skywe van die kaas en wolkbedekte vistas oor ’n plek wat so anders as enigiets tuis lyk.

Piekniek langs die Immeln-meer.

Die mite kry gestalte

Laatmiddag ontsyfer ons die openbare vervoerstelsel en kies koers na Stockholm se Ou Dorp midde-in die Sweedse argipel. Hoewel hoogsomer, is die windjie maar koud en skraal. Ons kan nie toelaat dat koue ons terughou nie – ons het net hierdie een aand in die eilande-legkaart van ’n hoofstad, want môre reis ons suid na ons Moemin-avontuur.

Ons klets dat die wasem in wolke om ons hang. Ons stap oor die brûe wat die antieke Viking-terrein verbind en kom verdwaas agter dat elke winkelier aan die toesluit is. Is dit al so laat? Inderdaad. Ná 21:00. En die kinders is nog wawyd wakker, want dit lyk nog net so lig soos toe ons hier aangekom het.

Louïne saam met Matieu, Reynier en Simonne langs die meer.

Dis ’n betowerende plek en tyd gly geruisloos van die dag af. Ons stap nog al die pad en kom skielik tot stilstand toe die wolke begin wyk. En dadelik word dit warmer. Veel warmer. Ons gesels nie meer in wasemborrels nie. Ons staan oopmond en staar na die skitterende see, die oop hemele en ’n klok in Gamla Stan wat middernag aandui! Die mite het voor ons oë gestalte gekry – daar’s sowaar ’n middernagson.

Êrens in die oggendure verstaan ons die swaar gordyne. Net wolke tem dié son, maar niks kan hom afskakel nie en oor net ’n paar uur moet ons 600 km suid aflê. Tyd om te gaan slaap.

Ons vriende Malin en Johan Rosander kry ons op Kristianstad se treinstasie, nie ver van hul huis af nie. Sy’s ’n boorling van Skåne, die suidelikste provinsie waar Kristianstad geleë is. Johan kom van Småland, waar sy ouers steeds boer. Ons ken mekaar van universiteitsdae in Frankryk af en dis lekker om mekaar weer te sien.

Groot en klein is reg om ’n kano uit te kies.

Die kinders kan nie wag nie

Ons praat net roei. Die kinders kan nie wag vir môreaand nie. Soos Moemamma bessies pluk en uitdruk vir sap op pad in die boot, het Malin ’n paar dae vantevore vlierblom (elderflower) gaan oes vir ’n tuisgemaakte stroop Z 27 blomme volgens haar skoonma se familieresep. Niks meer nie en niks minder nie. Een aand ná werk het sy op haar fiets gespring en blomme aangetref wat pas oopgekelk het. Sy’t dit dadelik gepluk, want wag mens tot die son daarop skyn, kwyn die aroma.

Haar vlierblomstroop is fenomenaal. Net ’n teelepel of twee in ’n glas yskoue water en jou lewe is op daardie oomblik volmaak. Dit kom sommer eerste in die piekniekmandjie. Daar volg koue vleise, kase, brode, konfyt, piekniekkomberse en ’n groot klomp jolyt.

Die kinders geniet dit veral om saam te roei en dit word gou ’n kompetisie om te kyk wie’s die vinnigste. Foto:

Elkeen se kampeerplekkie in die son

So 23 km buite Kristianstad is die Immeln-meer: oor die 200 eilandjies met woud­oortrekte strande en die meeste hiervan is beskikbaar vir allemanskampering. Die kanosentrum (immelnskanotcenter.se) verskaf inligting en kaarte met al die eilande waarop kampering toegelaat word (sommige eilande is in private besit). Die sentrum verhuur ook als wat jy kan nodig kry vir jou kanovaart: van draagbare stowe en braaiers tot tente en kano’s. Hulle verskaf ook bekostigbare visvanglisensies, sodat jy jou selfuitgetrekte aandete oor die kole langs jou gehuurde tent op jou eie verlate, beboste strand kan braai.

Die meer word omraam deur ’n woud.
Kano’s wag vir roeiers op die oewer van Meer Immeln.Foto:

Vir ’n luukser (en heelwat duurder) wegbreek, kan jy ook die Vipp-skuiling vir ’n aand bespreek. Dié Deense maatskappy se staalstruktuur met sy venstermure wat die woud en meer insluk tot by jou binne-in die huis, noem die projek ’n menslike herlaaistasie. Teen €1 000 per paartjie vir ’n naweek, het ons dié ontwerppraal van die hand gewys. Om saam met familie en vriende oor kano’s heen te kon gesels, terwyl die kinders roeikragte meet en kaart probeer lees en self die beste eiland vir ons oornagekspedisie help opspoor, het ons nog vir weke vorentoe herlaai.

Oud en jonk maak gereed om in die middernagson op Meer Immeln te roei. Foto:

Hoewel die son in Skåne nie heeltemal so fel tussen nag en dag skyn soos in Stockholm verder noord nie, is dit waarlik hier ook om middernag steeds lig. Dan begin dit stadigaan skemer raak. Teen 02:00 die oggend in jou tent onder die digte bome, met die water wat liggies teen die eiland klots, kan ’n mens jou amper verbeel dis uiteindelik aand. Nie dat dit enige kind flous nie. Met die eerste helder strale om 04:00 is die hele spul kiertsregop en gereed om weer woud en water aan te durf.

Een ding is seker, in die somer gaan geen spookstorie in Swede nesskop nie. Daar’s nie genoeg lang skaduwees nie. Dis veilig om jou 22 uur lange dag uit enige hoek te verken – nou nie dat 22 aaneenlopende ure aan te bevele is nie . . .

In die winter hier beloof dit natuurlik ’n spookperd van ’n heel ander kleur te wees. So, Bangjan en kinders, pak jul tasse en mik vir ’n helderverligte avontuur in die Skandinawiese somer.

Dis ongerepte vreugde.

Meer oor:  Stockholm  |  Swede  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.