Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Roete 67 vervleg hede, verlede

Mariska Spoormaker het ’n Baaise toergids gevra om haar stap vir stap met Port Elizabeth se Roete 67, ook bekend as die Madiba-roete, deur die interessante stories van gister en vandag te neem.

Toergids Tony Neveling deel interessante staaltjies op Roete 67. Foto: Mariska Spoormaker

As jy meer wil leer oor Port Elizabeth se kultuurerfenis, moet jy letterlik begin waar die Britse Setlaars in 1820 voet aan wal gesit het. Deesdae is hier nou ’n besige teerpad, ’n oorhoofse snelweg, ’n “storiemuur,” die Campanile-gedenktoring en ’n aanhaling van oud-president Nelson Mandela.

Dit is ook die amptelike wegspringpunt vir Port Elizabeth se Roete 67, ’n saamgestelde voetslaanroete om Nelson Mandela se 67 jaar van toewyding aan Suid-Afrika te huldig.

Oor so amper 5 km loop ’n mens heen en weer tussen die hede en verlede, slim verweef met stedelike ontwerp en 67 kunswerke. Altesaam 67 van Madiba se treffendste aanhalings, aangebring op wapperende staalbladsye, help om die besoeker op die regte koers te hou vir verhale van ’n vasgemesselde mensehart, rustelose spoke en wonderwerke.

Jy kan selfs onder Madiba se arm inskuif. Hy staan in die Donkin-reservaat vlak langs die paal waaraan die wêreld se grootste Suid-Afrikaanse vlag (12 m x 8 m) aan die 68 meter hoë paal behoort te wapper. Die ratkas van die meganisme wat die vlag moet hys, het egter in Januarie onklaar geraak.

“Dit sal wonderlik wees om weer al die kleure teen Port Elizabeth se horison te sien wapper”, sê Tony Neveling, die Baaise toergids wat ons op Roete 67 begelei.

“Ons gaan ’n sirkelroete volg deur die ou deel van die stad. Dit draai weer hier bo by die Donkin-reservaat , en dan kan ons Madiba gaan groet en die liefdespiramide bekyk,” sê hy.

Om al die kunswerke op Roete 67 op een dag te voet te beskou is ’n saak van onmoontlikheid, want Roete 67 loop so ver as Rooilokasie, Uitenhage en Suideinde.

Dit is buitendien veel beter om met ’n begeesterde toergids soos Tony te gaan, want jy hoor ook die lekker stories uit vervloë dae.

Dié vrou en die ander spoke moet seker rustige geeste wees, want die PE Operahuis is die enigste Victoriaanse teater in die ganse Afrika wat nog in gebruik is. “Dit is fenomenaal,” sê Tony glimlaggend.

Wie sou byvoorbeeld kon dink dat die oorspronklike PE Operahuis (3) in 1892 gebou is waar openbare verhore voor 1830 gehou is?

“Dit is hier waar die mense kon gaan kyk hoe misdadigers gehang of hoe iemand se kop afgekap word,” sê Tony.

“Daar is mense wat sê sekere van die veroordeeldes het as spoke agtergebly. Daar is ook ’n storie dat hier ná middernag ’n vrou is wat met ’n lamp oor die verhoog loop.”

Dié vrou en die ander spoke moet seker rustige geeste wees, want die PE Operahuis is die enigste Victoriaanse teater in die ganse Afrika wat nog in gebruik is. “Dit is fenomenaal,” sê Tony glimlaggend.

Oorkant die Operahuis “ry” deurgesnyde taxi’s (4) teen ’n steil wand langs die pad uit. “Dis hoe hierdie Roete 67 alles bymekaarbring. Hierdie taxi’s is daar om ons daaraan te herinner hoe belangrik hierdie vorm van vervoer is.”

Konsertplakkate, kennisgewings en vergeelde koerantberigte agter glaskaste vertel hier die vermaaklikheidsgeskiedenis van die eeue.

Tony stap aan na die Veremarksaal (5) wat in 1883-85 gebou is vir die veiling van volstruisvere, wol, velle en vrugte. In die vroeë 1990’s is dit in ’n teater- en konferensiekompleks omskep.

Konsertplakkate, kennisgewings en vergeelde koerantberigte agter glaskaste vertel hier die vermaaklikheidsgeskiedenis van die eeue.

“Dis ook hier waar ons stadsorrel is en dit is een van weinige stadsorrels wat nog in werking is,” sê Tony met ’n sug.

Oorkant die Veremarksaal staan die ou Baakenspolisiekantoor (1899) (6). “Hier in die polisieselle is die oud-staatspresident John Vorster in 1942 as regse aktivis aangehou. In die laat 1970’s is die apartheidstryder Steve Biko ook hier aangehou.”

Tony deel hierdie stukkie geskiedenis op die sypaadjie buite die gebou, want die ou polisiekantoor is al jare lank gesluit vir herstelwerk.

Hy stap verby die standbeeld van Prestor John (7). Prestor is ’n mitiese figuur en was ’n groot inspirasie vir die Portugese seevaarders van ouds. “Hulle het hom gesoek van 1145 tot 1645, want hy was veronderstel om ’n verskriklike ryk priester te wees. Kan jy glo dat hulle hom 500 jaar lank gesoek het?”

Regs onder die immer ontwykende Prestor John staan die eens imposante ou poskantoor (8). “Hierdie poskantoor is gebou in 1897. Dit is Duitse argitektuur. Rhineland,” sê Tony. “Kyk die mooi toring.”

Dit is die fontein van woorde. Die woorde teen die fonteinmuur is in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Arabies. Dit is woorde wat sê liefde, mededeelsaamheid, vergifnis en respek. Woorde wat maak dat mense met mekaar kan saamleef.

Restourasiewerk aan dié pragtige ou gebou is ook al jare aan die gang.

“Die dak en die vensters is reeds gedoen. Hier gaan ’n kunsgalery, koffiewinkels en toeriste-aantreklikhede kom. En in daardie gebou kom ’n boetiekhotel,” beduie Tony.

Volgende op die roete is die ou Harbour Board-gebou (9) wat in 1904 gebou is en gereken word as een van die beste voorbeelde van Art Nouveau/Renaissance-argitektuur in Suid-Afrika. Bouers is besig om die vensters met bakstene toe te messel. Ons loop verby.

Woorde verenig die mensdomDie pad gaan verder aan oor Govan Mbeki-rylaan en onderdeur die oorhoofse snelweg na die Campanile-toring uit 1923 . Dit is moeilik om te dink dat die 1820-Setlaars hier, waar die toring ter herinnering aan hul aankoms opgerig is, voet aan wal gesit het. Dis ewe moeilik om te dink toegang is gratis.

As jy hier die 204 trappe na bo in die 53,5 meter hoë toring klim (jy kan ook hysbak ry), hou jou oë oop vir trappie nr. 67 – daarop is die afbeelding van Madiba, gebalde vuis in die lug. Vir baie mense is dit die amptelike beginpunt van Roete 67, oftewel die Baai se Madiba-roete.

Dit is ’n belewenis om heel bo te staan, en die 360-grade-uitsig oor die Baai in te neem. ’n Mens wonder hoe dit alles voor die koms van teerpaaie en hoë geboue gelyk het.

Buite die Campanile, net langs die fries van Suid-Afrika se meerendeels inheemse geskiedenis, pryk een van Madiba se aanhalings uit 1943: “Mother could nei­ther read nor write and had no means to send me to school. Yet a member of our clan educated me from the elementary school right up to Fort Hare and never expected any refund.”

Bo jou kop druis die verkeer op die snelweg, maar van anderkant die besige Govan Mbeki, in die rigting van die ou markplein (Vuyisile Mini-plein) klink die geluid van ’n fonteintjie (11).

“Dit is die fontein van woorde. Die woorde teen die fonteinmuur is in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Arabies. Dit is woorde wat sê liefde, mededeelsaamheid, vergifnis en respek. Woorde wat maak dat mense met mekaar kan saamleef.

“Die fontein se oorspoel is simbolies, kyk,” sê Tony en wys na gekleurde teëltjies in die plaveisel. “Lees ook daar . . . kindness, caring, genade, teerheid, genot . . . vryheid.”

Dié fontein getiteld Walk of Words is kunswerk 17 op Roete 67.

Tony gaan staan by nog ’n staalbladsy met ’n Madiba-aanhaling daarop. “Ek hou van hierdie een. Voor Mandela tronk toe is, was hy ’n bokser. Hy het hierdie in 1950 geskryf:

“Boxing is egalitarian. In the ring rank, age, colour and wealth are irrelevant. When you are circling your opponent, probing his strengths and weaknesses, you are not thinking about his colour or social status.”

Die volgende halte is ’n staalkonstruksie met die vorm van ’n vis (kunswerk 30 op die roete). “Die titel is Fishbone(12), die kunswerk is om ons daaraan te herinner dat ons eens ’n klein vissersdorpie was, maar dit lyk ook soos ’n anker, nie net soos ’n visgeraamte nie, en dit wys ons is ook geanker aan die see.”

Hy loop verby die Vuyisile Mini-plein (ou markplein) (13)aan linkerkant met die Stadsaal (1861) (14) in die agtergrond en toe verby die marmerstandbeeld van koningin Victoria (1903) waar sy voor die historiese hoofbiblioteek (1902) (15) met sy laat Victoriaanse boustyl staan.

’n Interessante feit van St. Mary’s se verwoestende brand is dat beide Paul Kruger, in daardie tyd president van Transvaal, en Cecil Rhodes, omstrede mynmagnaat en toe eerste minister van die Kaapkolonie, geld geskenk het vir die heropbou van die kerk.

Kruger, Rhodes en die katedraal

Op die volgende blok staan die St. Mary’s Anglikaanse katedraal . ’n Mens is skaars binne, dan voel dit so goed jy loop ’n eeue oue katedraal in Europa binne.

Hier is ook kleurryke loodglasvensters, kandelare, handgekerfte houtkerkbanke, ’n marmer-doopvont en ’n Maria waar jy jou sondes kan bely.

Die katedraal het in 1832 sy deure vir aanbidding geopen, maar in 1895 het dit afgebrand. Net die mure en die toring het bly staan.

“Daar was twee wonderwerke in die brand,” vertel Tony.

“Sien jy die groot koper-arend? Die voetstuk waarop hy gestaan het, het gesmelt, die arend het niks oorgekom nie.”

Tony wys na ’n groot houtkruis teen een muur: “Daardie kruis het ook nie gebrand nie.”

’n Interessante feit van St. Mary’s se verwoestende brand is dat beide Paul Kruger, in daardie tyd president van Transvaal, en Cecil Rhodes, omstrede mynmagnaat en toe eerste minister van die Kaapkolonie, geld geskenk het vir die heropbou van die kerk.

Net buite die kerk se hekke draai die pad na regs bult-op na die Donkin-reservaat waar die staptoer begin het.

’n Stel trappe lei jou verby ’n muur waarop ’n klomp aanhalings en sketse oor die 1976-skoolopstande aangebring is (17).

Anderkant die straat begin ’n hele heuwel se mosaïektrappe (18) tot daar waar die vuurtoring, die liefdespiramide en Madiba staan.

’n Teerpadjie vol geverfde kruisies ‘vleg’ tussen die stelle trappe deur (19).

“Dit is om die lang rye kiesers vir 1994 se verkiesing uit te beeld,” verduidelik Tony.

“Aan die onderpunt van die trappe is die mosaïekwerk donker om die onrus voor die demokratiese Suid-Afrika uit te beeld.

“Gaandeweg word dit al ligter en ligter tot bo waar die staalkunswerk van Madiba aan die voorpunt van ’n ry kiesers staan.

Perfekte vrou, onsterflike liefde

Aan die bopunt van die trappe staan die piramide (20) vlak by die Hill-vuurtoring wat uit 1861 dateer.

Sir Rufus Donkin, offisier van die Britse leër wat aangestel is om toesig te hou oor die vestiging van die nagenoeg 4 000 Britse Setlaars, het die piramide ter herinnering aan sy vrou, Elizabeth, laat bou. Sy het in 1818, toe hy nog in Indië gestasioneer was, op 28-jarige ouderdom gesterf.

Daar word vertel die bedroefde Donkin het haar hart uit Indië saamgebring na Suid-Afrika en in die klippiramide (sy liefdesmonument aan haar) laat inmessel.

Tony lag.

“Dis nie waar nie. Hy het net die piramide laat bou en toe verklaar dat Algoabaai voortaan Port Elizabeth sal heet. Kyk, hy het hierdie woorde geskryf: “To the memory of one of the most perfect of human beings who has given her name to the town below.”

“Donkin het ook bepaal dat daar in ’n groot deel om die piramide nooit gebou mag word nie – vandaar die naam Donkin-reservaat.”

Hierna stap Tony na die ry Donkin-huisies (22) (aanvanklik gebou vir die Britse Setlaars) verby Port Elizabeth se eerste bordeelhuis, verby die osse gebou van staal en enjinparte (ter erkenning aan die Baai se motornywerheid) en in by die Heritage Café (23) om ’n cappuccino te drink en die heel lekkerste sjokoladekoek in Suid-Afrika te eet.

Die volgende adres op die roete is die Athenaeum (24), opgerig in 1896 vir die bevordering van kultuur en kuns. Vandag is dit nog so. Hier is verskeie van die Roete 67-kunswerke (5 – 56), te sien.

Een van die treffendste werke is die kleurryke kraleborduurwerke wat Madiba se aanhalings op Roete 67 uitbeeld.

Die laaste stop bring ’n mens by Fort Frederick wat uitkyk oor die Baakensriviermonding.

Die Engelse het dit in 1799 gebou toe die spanning hoog geloop het tussen Engeland en Frankryk en hulle bang was die Franse sou hierdie varswaterpunt oorneem

“Port Elizabeth se naam was eers Kragga Kamma, die Khoi-woord vir ‘soet water’. Dit was die water van die Baakensrivier – ideaal vir die skepe wat verbygekom het,” sê Tony.

Geen skoot is ooit van die fort gevuur nie en dinge het verder só goed vir die Engelse verloop dat skepe vol Britse setlaars in 1820 in Algoabaai, soos dit toe bekendgestaan het, anker kom gooi het.

Terug by die Donkin-reservaat kyk Tony links verby Elizabeth se piramide na waar Madiba met gebalde vuis in die lug staan.

“Geskiedenis is soos ’n legkaart,” sê hy. “Een stukkie pas in ’n ander vir die groter prentjie. Een gebeurtenis gee aanleiding tot ’n ander.

“Dít is wat Port Elizabeth se Roete 67 jou sal wys.”

Grafika24
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Doendinge  |  Kultuur  |  Geskiedenis  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.