Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits: Die langpad se nuwe hoop
Sonsondergang oor die Drakensberge naby Bergville. Foto’s: waldimar pelser
Die Drakensberge en Tugelarivier naby Bergville.
Elke groepie kamers by die Drostdy-hotel op Graaff-Reinet het ’n private swembad.
Die kroeg in die Drostdy-hotel op Graaff-Reinet.
Wilhelm durf die boomtoptoer by Stormsrivier aan.
Koop ’n koedoe soos dié een by Karoo Taxidermy in Graaff-Reinet.

Daar is geen beter kuur vir jaareind-satgeit en geen beter manier om van Zuma te vergeet as ’n outydse road trip agter goeie mense, lekker kos en asemrowende landskappe aan nie, het Waldimar Pelser uitgevind.

Wanneer die botterige deeg van die wildspastei goud word in die Springfontein-padstal se oond, en die kroegman op Graaff-Reinet nog voor die Boeing oor is die brandewyn uithaal vir die eerste somerdagdrinker, en die kelner op Prins Albert ’n veerligte soufflé met drie kase voor jou inskuif, en die beesstert in die berge so ryk is dat selfs ’n bergponie – eintlik mos ’n planteter – oornag swig voor die geur en elke laaste leksel uit die nommerdrie-ysterpotjie eet dat die pot so kantel, dan weet jy: As ’n vakansie na iets smaak, dan smaak hy so.

Want die neute en rosyne en droëwors wat in die kar langpadproviand was, sou ons mos nooit die volle 4 200 km kon voed nie, al was die bedoelings hoe goed: Van Johannesburg oor Springfontein na Graaff-Reinet en Prins Albert, oor Hermanus na die Kaap en Stellenbosch, via Glentana in die Suid-Kaap na Astonbaai by Jeffreys en oplaas deur die Vrystaat na ’n kliphuis hoog in die Drakensberge, waar die heuwels danksy ’n onlangse motreën liggroen skyn, en waar die fynproewersvleisvreter-ponie met die potjie-oorskiet klaargespeel het.

Daardie eerste stop op ’n reis padlangs is een van die lekkerstes, want die anderster son wat by Springfontein op die N1 suid van Bloemfontein op jou bak en die stilte van die kurkdroë veld is die eerste klinkklare bewys dat jy weg is.

Noodwendig weg van die stad en sy gedruis en die humeure op straat, om van die verkeer nie te praat nie.

Maar ook weg, as jy dit verkies, van nuus-op-jou-foon en Twitter se 140-karakter-bomme en die knaende uitbundigheid waarmee almal op Facebook net die hoogtepunte uit hul andersins saai lewe opdis as die norm.

En weg van Zuma.

“Nothing behind me, everything ahead of me, as is ever so on the road,” het Jack Kerouac geskryf. (“We gotta go and never stop going ’till we get there . . .”)

Die Kuilfontein Padstalby die tweede afdraai na Springfontein was ’n geldige en heerlike eerste stop. Benewens slaai of tjips word die wildspastei met ’n glimlag opgedien.

Oor die prys swyg ek, want die bonus het toe nie gekom nie en ek is bang my ouma lees hierdie storie.

Maar Dag 1 se bestemming was eintlik nog ver: Ons moes beur deur ­Colesberg, suid draai op die N9, die ompad deur Middelburg duld (die munisipaliteit kan gerus ’n besem en verfkwas bring – maandelange padverleggings dwing motoriste om deur dié vaal dorp eerder as óm hom te ry) en afpak by die Lanzerac van die Karoo: Graaff-Reinet se 200 jaar oue Drostdy-hotel.

Bly die res van die vakansie by vriende en familie as jy moet en bestee die spaargeld op net een nag hier. Danksy ’n multimiljoenrand-opknapping is die Drostdy ’n weelderige oase: private swembaddens, ’n bed so groot jy raak daarin weg, ’n biblioteek, goeie brandewyn in die kroeg . . .

Ons het ook by Karoo Taxidermy ingeloer en ’n mooi simmetriese swartwildebeesvel vir skaars R1 300 aangeskaf wat maklik in die bagasiebak oprol – anders as die volgrootte eland vir dié wat vakansie hou met ’n platinumkaart (en ’n sleepwa). Die lamtjops vir aandete by Pioneers was geurig.

Dag 2: Ná ’n nag in die Drostdy, maak soos ons en loer in by Graaff-Reinet se Hester Rupert-kunsmuseum. Irma Stern is een van vele bekendes teen die mure van wat eens ’n kerkie was en Rhona Stern se mond-oophang-mooi bronsbeeld Crucifix­ion (1965) trek sterk op die werk van die Switser Alberto Giacometti.

Maar voor jy die pad vat, gaan koop ’n kaktus of vetplant by die Obesa-kwekery, een van die grootste kwekerye van sy soort ter wêreld. Johan, die charismatiese boheem agter dié wonderwerk, sal nie daarvan hou om só beskryf te word nie, maar die man is ’n doring, en sy staaltjies . . . skerp.

Voet in die hoek. N9 oor Aberdeen na ­Willow­more, waar Sophia van der Merwe die allerheerlikste bobotie in ’n filobakkie opdis by die eksentrieke en classy koffiewinkel en restaurant Sophie’s Choice, want die pad oor De Rust en deur die oorweldigende Meiringspoort is mooi maar lank. Salf dus liggaam en siel met die kaassoufflé by The Real Food Company in Prins Albert se hoofstraat. Oornag in die Dennehof-gastehuis, waar Ria Steyn ’n legende is, want sy sit die lekkerste ontbyt voor langs ’n leivoor onder lowergroen blare.

Dag 3: Ons is, ek sweer, met sonop al op pad. Al Prins Albert se galerye en ander lekkernye sal moet wag. Die R407 tot by die N1, en dan oor Hermanus Kaapstad toe, waar ’n drie maande oue bespreking vir aandete by Roundhouse wag. Oor die uitsig oor Kampsbaai en die Twaalf Apostels – en die agtgangspyskaart – koer ek graag, maar oor die prys swyg ek, want die bonus het toe nie gekom nie en ek is bang my ouma lees hierdie storie.

Dag 4: Ons hou piekniek op die ­Warwick-landgoed op die R44 buite Stellenbosch. Vars brood, patees, sappige druiwe, koue vleise, borrels . . .

Dag 5: Uiteindelik probeer ek by Clifton se strand staan en roei op een van daardie koddige planke. Ná tien sekondes sluk ek seewater. R100 vir ’n halfuur.

Later sit my tweelingsuster, Ingeborg, die vakansie se lekkerste mengeldrankie voor. Dis haar eie resep, beweer sy: Een deel droë Cinzano, vier dele kinawater (Afrikaans vir tonic, volgens die woordeboek), ’n skyfie suurlemoen en ses druppels bitters.

Dag 6: Middagete op Stellenbosch by 5 Ryneveld, wat bo-op sy beste burger, die Ryneveld Deluxe, camembert, karamel-uie, krakerige spek en okkerneute stapel.

Vir aandete ontmoet ons vriende by Izakaya Matsuri, ’n Japannese soesji- en tapas-plekkie wat om ’n duistere rede skuil in ’n atrium langs The Rockwell in Groenpunt, maar werklik wêreldroem verdien, al is dit net vir die Aburi Salmon Roll (salm en avokado binne, geroosterde salm met sprietuie en branderige mayonnaise bo-op). Vat my nóú daarheen.

Dag 7: ’n Mens moet rus ook.

Dag 8: Glentana toe, maar nie sonder om by Houwhoek-padstal in die berge tussen Grabouw en Botrivier te stop nie. Stap verby die pasteie na die vars volgraanbrood. En koop natuurlik die ­koerant.

Eet op Groot Brakrivier by die Ou Pastorie-teetuin, waar duisende goetertjies teen die mure jou opnuut na die onverbeterlike hoenderpastei met beetslaai sal laat smag. (Pasop: Hier’s geen dranklisensie nie.)

Dag 9-12: Ons kuier by familie op Astonbaai duskant Jeffreysbaai en eet meer koekstruif en vleise en sjokoladekoek as wat die strafste Januarie-drafprogram eintlik toelaat, maar dis onweerstaanbare ma-se-kos.

Skroef jou kaal voete in koel seesand in onder die tafels by Tapas Lapa op Astonbaai se strand, naby Marina Martinique. Die tongvis is lekker genoeg om jou heel laaste maaltyd te wees.

Omdat ’n mens na bewering nie heeltyd kan eet en kuier nie, durf ons die Tsitsikamma-boomtoptoere by Stormsrivieraan, waar ek soos ’n regte aap vir 91 m ver aan ’n kabel tussen 600 jaar oue bome seil.

Dag 13: Nóú vir die langpad. Maar die beloning wat wag ná 1 132 km oor Uiten­hage, Graaff-Reinet, Middelburg, Colesberg, Bloem, Bethlehem en Harrismith is onnoembaar groot.

Want deur elke venster van The Berghouse & Cottages, 3 km van die R74 op pad na Bergville in die Drakensberg, sien jy ’n nuwe hemel. Op duisend maniere kom die son oor Cham­pagne Castle op en op duisend maniere word die lig laatmiddag pienk en goud voor die wonderlikste stilte oor die valleie daal. Beesstertpotjie. Rooiwyn. Kaarte.

Dis Oujaarsaand. In die waai van die duisende jaar oue kranse skiet vuurwerke by honderde klein huisies.

Die volgende oggend vloei die Tugela teen wil en dank steeds doer onder soos kwik. Rooivinke, muisvoëls en swaeltjies is van ons salig onbewus. Dit voel opeens of die sprokiesmooi land en sy innemende mense hierdie era van venynige politiek sal oorleef. Want daardie vent van Nkandla is teenoor die magiese landskappe en smake van ons land – en sy geesdriftige, diverse mense – eintlik klein, en die paaie na ou en nuwe plekke lê oop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.