Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits: Ek & Bruce: Die affair

Sommige mense reis agter spierwit strande of eksotiese duikplekke aan. Liryn de Jager se wanderlust het net een doel: Om Bruce Springsteen weer ’n keer op die verhoog te sien.

Bruce Springsteen en die E Street Band tree in 2014 in die Bellville-velodrome op. Liryn het daai jaar vier van sy konserte in Suid-Afrika gesien. Foto: Halden Krog | The Times | Gallo Images | Getty Images

Ek is gebore in 1973 – toe Bruce Springsteen Greetings from Asbury Park, N.J.uitgereik het. Dit was sy eerste studioalbum. En al sou die volle besef van wat sy musiek verteenwoordig eers later kom, laat ek sedertdien my lewe dans op die klankbaan van hierdie musikale meester.

Dit gaan oor veel meer as net die musiek, die woorde en die note, en die man in die middel van die verhoog (en partykeer bo-op die klavier, ander kere plat op sy rug, dan weer leunend teen die mikrofoon) wat dit alles bymekaar hou. Om die waarheid te sê, dit is soos ’n verlossing deur die ewigdurende mag van rock ’n roll.

En as iemand soos Springsteen die evangelie verkondig, dan is ek ’n gelowige. Dit maak nie saak watter 30+ liedjies hy gebruik om keer op keer die preek af te steek nie. In ’n opnameloopbaan van 44 jaar het hierdie musikale bybel geen laaste bladsy nie.

‘Brilliant Disguise’

Snaaks genoeg was dit nie die wegholsukses van Born in the U.S.A. (1984) wat my ingetrek het nie. Dit was die veel meer subtiele klanke op Tunnel of Love (1987) wat my oorrompel het, veral die laaste

reël uit “Brilliant Disguise”: “God have mercy on the man who doubts what he’s sure of . . .” Dalk het die storm en drang van tiener wees iets daarmee te make gehad.

My eerste regstreekse kennismaking met The Boss en die E Street Band was in 1999 in Londen tydens die Reunion Tour. Dit was in die Earls Court Exhibition

Centre en ek het doer bo in die goedkoop sitplekke gesit, maar daardie aand is ek vir drie uur weggevoer en meegesleur en al wat ek geweet het, is ek wil meer hê!

En die volgende keer, in Kilkenny in Ierland in 2013, was ek heel voor, met my elmboë op die verhoog. En nóg 14 keer daarna.

Ek het drie keer na hom gaan kyk in Kaapstad – én ’n kiekie van ons saam gekry. Toe Johannesburg, oor die Atlantiese Oseaan na Atlanta, Fort Lauderdale en Tampa, twee keer in Dublin, Glasgow, Coventry en die Wembley-stadion en begin vanjaar Christchurch en Auckland in die land van die Lang Wit Wolk.

En ja, my kaartjies is gekoop vir sy solovertoning op Broadway in New York in 2018.

Liryn dra ’n aanhanger-T-hemp by die vertoning in Fort Lauderdale in 2014.
In Auckland het Liryn (in die blou hemp) op die groot skerm agter haar held gepryk.

‘The Ties That Bind’

As ek ’n rand gekry het vir elke keer wat ek al gevra is “Hoe doen jy dit, hoe bekostig jy dit?” dan was ek ’n permanente groupie. Daar is nie ’n bodemlose put nie, maar terwyl ander trou en 2,3 kinders het en in ’n huis met ’n wit heining om bly, verkies ek om herinneringe te versamel.

Dit is amper ’n geval van: “Het jy die een gehoor van die Italianer, die Ier en die Suid-Afrikaner?” Net dat dit nie ’n grap is nie – dis ’n spanpoging wat begin die oomblik wat die kaartjies vir die volgende toer aanlyn beskikbaar raak. Oor die wêreld heen is daar vingers op die knoppies, kaarte reg om te betaal en senuwees wat gaar is. Hotelkamers word bespreek, planne vir ander ekskursies weg van die verhoog word beplan en die kalender word nader getrek om die ure te begin aftel.

Ek is nie die enigste aanhanger wat Springsteen om en om die wêreld volg nie. Daar is aanhangers wat al by 300 en selfs 500 van sy konserte was.

Dié tatoeëermerk het Liryn op haar 40ste verjaardag gekry.

Hulle is die Bruce Buds, dié mense wat leef in die warrelwind van kaartjies koop, hotelle bespreek, geld spaar, vlieg, treinry, in ’n ry staan in reën of son of wind, alles om daar te wees wanneer The Boss sy buiging maak.

Daar is ’n band tussen ons almal, hierdie man en sy volgelinge. Ons is een groot familie met hom aan die hoof. Mense in alle gedaantes, oud en jonk, alleen of in groepe, waarvan party selfs groepname het. En almal het ’n storie om te vertel.

Met baie van hulle het ek al lewenslange vriendskapsbande gesmee – Áine en Antoinette en Jenny van Ierland, Cinzia van Italië, Phil en Nick van Engeland, Martin van Duitsland (wat Afrikaans kan praat!), Sherry en Jason en Danny van Amerika, Anne en Lauren van Nieu-Seeland en en en . . . Alles te danke aan een musikale genie.

‘The Fever’

Nie almal verstaan die obsessie nie. Soos ’n vriendin op ’n keer opgemerk het: “Julle Bruce-mense is almal opgesuig na een of ander ruimtetuig, van alle hoeke af ondersoek en toe teruggestuur aarde toe in ’n ander toestand.”

En toe ek my motor verkoop het om hom in Amerika te gaan sien pas nadat ek in een week hier in Suid-Afrika by vier van sy konserte was, het ’n familielid gesê: “As jy vir my gesê het jy gaan Rwanda toe om die gorillas te gaan kyk, sou ek opgewonde gewees het. Maar Bruce, alweer? Het jy nog nie genoeg gehad nie? Is dit nie dieselfde oor en oor en oor nie?”

Nee, ek het nie. En nee, nie naastenby nie.

Ja, daar is die toustanery, droë kele en hongerpyne, die son en die reën, die hitte en die koue, voete vol blase en gebrek aan slaap, die sit en staan en wag. En dan doen jy dit alles weer en weer en weer . . .Ek sal dit vir niks ter wêreld verruil nie.

Jy kom verkwik uit ’n Springsteen-konsert uit. Dit gaan oor soveel meer as die musiek.

Hy bring jou tot op plekke waar jy dalk nie noodwendig sou kom nie – die kerkbanke in Atlanta waar Martin Luther King jr. gepreek het, die befaamde Wembley-stadion, die lys is eindeloos.

My mees onlangse besoek aan Nieu-Seeland, waar daar konserte in Christchurch en Auckland was, was ’n musikale ondervinding sonder weerga.

Maar ek en Áine, my Ierse “suster”, het in ’n gehuurde motor geklim (ons kon egter nie na Bruce luister nie, want daar was net ’n kassetspeler) en die Suid-Eiland deurkruis.

Bykans 2 500 km later het die emmerskoplys só gelyk: ’n boomtoptoer en witwateravontuur in Queenstown, ’n besoek aan Milford Sound waar Lord of the Rings verfilm is, ’n helikopterrit bo-oor Mount Cook waar sir Edmund Hillary diep spore getrap het, ’n 25 km-seekanovaart en 12 km-staptog in die Abel Tasman Nasionale Park en wynproe in Nelson.

‘Man at the Top’

Dit is al meer as vyf dekades sedert die eerste akkoorde op daardie swart-en-goue elektriese Kent geslaan is. In dié tyd het Springsteen my en ’n legio ander siele gekielie en geterg en plekke aangeraak wat ons nie eens geweet het bestaan nie. Soms met en soms sonder die E Street Band, maar altyd het hy iets reggekry waarop min ander hulle kan roem: hy het getrou gebly aan wie hy is en by verstek aan ons, “The Boss followin’, legendary E Street Fans!”

Sy musikale vermoëns het lewe gegee aan talle karakters en hul stories, hul hartseer en swaar tye, hul hoop en drome. Hulle is deel van my lewe.

Bruce het die grondslag gelê vir reise van die vlees, siel en gees. En in die proses het hy ’n gemeenskap geskep van verwante geeste, verenig in hul bewondering, respek en dankbaarheid vir ’n ware kunstenaar.

Dit mag net rock ’n roll wees, maar dit voel soos liefde. Dit is ’n lewenslange affair.

Meer oor:  Bruce Springsteen  |  Reis  |  Verhoog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.