Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits: Hou jou hygend hart vas

Die Karoo kies oor wie hy genade uitspreek en wie hy vervloek. Maar wanneer hy voorsien, is dit in oorvloed, skryf Carla Lewis. 

Dis laatmiddag. Roomtyd in die Karoo, soos N.P. van Wyk Louw dit sou stel.

Die huurkarretjie bons-bons-bons oor die sinkplaatplaaspad en die herfsson gooi ’n vergulde gloed oor die landskap.

Die berge van die Kamdeboo strek gryspers uit in die verte, gevolg deur vlaktes van goue grasveld. Ek ry verby klosse witgatbome, hul stokou stamme in knoetse geknoop deur die vingers van Vader Tyd.

Volgens Gibson Mufoya, gids by die ­Samara-wildtuin, is die bome eeue oud.

Ek ry verby ’n bobbejaankarkas oortrek met witborskraaie, smulpape by ’n makabere buffet. ’n Entjie verder is sy makkers besig om die toneel met ’n kil nuuskierigheid te beloer.

Die Samara- private wildtuin se kamers is luuks, sonder om oordadig te wees.

Die kraaie trek die derms uit en draai dit soos rooi wol om ’n spindel. Daar is iets Goties aan die toneel.

Dan dink ek . . . die Karoo word eintlik ’n onreg aangedoen. Dit word verminder tot tjoklitboksietonele wat op herwinde tamatieplankies geverf word, gereduseer tot windpompe en wit blertse met gesiggies, wat eintlik ’n skaap moet voorstel. “Geloof, hoop, liefde,” pryk ook iewers.

Ja, dink ek, terwyl ek vir Kees se lyk kyk. Daai kunstefeeskunsvlyt-tannies moet ’n bietjie vir Cormac McCarthy se No Country for Old Men onder oë kry: “This country will kill you in a heartbeat and still people love it.”

Hygend hert

As ’n mens egter ná ’n lang rit by Samara inry, is dit moeilik om verder nog swartgallige gedagtes te koester.

Die lodge se hoofgebou is ’n ou Karoo-plaashuis, met rooipolitoervloere en ­vintage Boere-sjiek-bordjies wat in die vertoonkamer uitgestal word.

Dit is aards, huislik en gemaklik, maar dit is ook hier waar enige verwantskap met jou oom of ouma se Karooplaas ­ophou.

’n Jagluiperd staar oor die ooptes van die Karoo.

Trouens, dis hoe ek my Wilbur Smith se fiktiewe mynmagnaat Shasa Courtney se Karooplaas voorstel – gemaklik maar luuks, waar mense voor knetterende kaggelvure met ’n glas duur rooiwyn tot die oggendure kuier.

Daar is tans ’n groot tendens in die ­dekorbedryf wat grootliks beïnvloed word deur iets wat jy in Deens “hygge” (jy spreek dit ­hu-ghe uit) noem. Daar is nie ’n eweknie vir die woord in Engels of Afrikaans nie, maar iets wat naby daaraan kom, is ­Karoo-gasvryheid.

Hygge verwys na die gevoel wat jy kry wanneer jy in ’n toestand van behaaglikheid en tevredenheid verkeer. Dit roep ­gekoesterde oomblikke met goeie vriende, trooskos en knus kuiers onder sagte ­winterkomberse op.

En die woord som Samara eintlik in ’n neutedop op. Hier kry jy nie oordadige ­safari-sjiek, luiperdmotiewe en torinkies vreemde bestanddele wat eintlik meer kuns as kos is nie. Die kos hier troos jou en vul jou – koedoefilet met rooiwynsous en ryk lamspotjie. Dit word bedien onder ’n Karoonag in ’n boma, terwyl die vlamme van paraffienlampies om jou dans en die Karoosterrehemel bokant jou kop flonker.

Karoo-oggend

Min dinge bied soveel belofte soos ’n Karoo-oggend. As die oosterkim net ná dagbreek voor jou uitstrek soos ’n pastelskildery, bespikkel met vlieswolkies wat lyk asof dit deur een of ander hemelse wese geskilder is en jy die kruiereuk van die veld inasem, terwyl mikstert-byevangers parmantig tussen die takke van soetdorings rondwip . . .

By Samara eet jy luukse etes onder die sterrehemel ­terwyl ’n kampvuur agtergrondmusiek maak.

Dan kan jy nie help om daai hygge in jou borskas te voel hyg nie.

Samara is ook bekend vir sy gesonde bevolking van erdvarke, een van die skaarsste diere om in die natuur te sien. As jy een van dié diere onder oë wil kry, is ­Samara ’n uitstekende plek. Die eerste oggend al fynkam ons die landskap vir een van daai diertjies wat lyk asof hy deur ’n laslappie-taksidermis aanmekaar gewerk is.

Hy’t die snoet van ’n vark, die lyf van ’n hond en ’n reptielagtige stert wat agter hom aansleep. Die outjies het ook kloue wat vir Freddy Krueger ore sal aansit, wat hulle gebruik om miershope en die hardgebakte aarde van die Karoo oop te kloof, op soek na hul gunstelingkos, termiete.

Ons is nie so gelukkig om ’n erdvark te sien nie, maar ons slaan wel ’n boerpot van ’n ander aard raak.

’n Jagluiperdwyfie het ’n volstruis enkele minute gelede reg in die pad platgetrek. Ons het die vangs gemis, maar terwyl sy onder ’n witgat lê om weer asem te skep ná haar jagtog, baljaar haar vier welpies te lekker op die karkas. Hulle is nog jonk en lyk soos klein rateltjies, ’n vorm van mimikrie waar sommige diere die vorm aanneem van groter, gevaarlike diere, om ander roofdiere af te skrik.

In Samara het die jagluiperd egter nie veel natuurlike vyande nie. Hier is nie leeus of ander groot katte nie, wat gewoonlik die eerste boelies is wat die fyn katte se kos kom steel. Die jagluiperds is ook gewoond aan mense, ons kan die karkas te voet nader (terwyl ons nog ’n gesonde afstand hou en ma een oog huiwerig oor die klomp nuuskierige agies hou.)

Maar dis ’n magiese oomblik, om sonder die grense van ’n kar te kyk hoe die welpies hulle dik vreet, hul bekkies bloedrooi bedruip van die bloed.

Die Karoo kies oor wie hy genade uitspreek, en wie hy vervloek. Maar wanneer hy voorsien, is dit in oorvloed.

Dis soos Eve Palmer geskryf het in haar boek The Plains of Camdeboo:

“Met die eerste oogopslag kan die ­Karoo verlate, droog en ongenaakbaar wees. Dié wat egter die streek ken, weet dit is ’n plek van versteekte skoonheid en eindelose veelsydigheid.”

Werd om te weet

  • Die Samara- private wildtuin is langs die Kamdeboo Nasionale Park geleë. Dis sowat drie uur per kar van Port Elizabeth en ’n uur vanaf Graaff-Reinet. Die private wildtuin beslaan ’n oppervlakte van 28 300 ha.
  • Samara het tans ’n laeseisoen-tarief vir Suid-Afrikaanse burgers, vanaf R2 028 per persoon per aand in ’n ­Sibella-suite.

Dit sluit al jou maaltye, twee wilds­aktiwiteite per dag, ’n kinderprogram vir kinders onder agt jaar, plaaslike drankies op die wildritte en Wi-Fi in. Samara hef ’n bewaringstarief van R65 per persoon per dag.

  • Samara is geleë in ’n malariavrye gebied. Kinders is welkom, maar kinders onder agt word nie op wildritte toegelaat nie.
Meer oor:  Carla Lewis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.