
Haight-Ashbury in San Francisco is bekend as die beginpunt van die hippie-beweging.
Hulle het dalk bomenslike musiek gemaak, maar bekende kunstenaars uit die verlede (en hede) was ook maar gewone mense. As jy ’n idee wil kry van hoe jou gunsteling-kunstenaars geleef het en wat hulle elke dag in hul buurt gesien het, besoek dié stede.
Johnny Cash en Elvis
Besoek RCA se Studio B in Nashville, Tennessee, in die VSA, waar legendes soos Johnny Cash en Elvis Presley hul musiek opgeneem het. Dolly Parton vertel in haar boek My Life and Other Unfinished Business hoe sy deur ’n muur van dié gebou gery het (dis steeds sigbaar) toe sy laat was vir ’n opname. Die Johnny Cash-museum is ook in dié stad.
The Beatles
Hulle het dalk later in private vliegtuie gevlieg en die duurste sjampanje gedrink, maar voordat hulle bekend was, het The Beatles gereeld in Liverpool, Engeland, gekuier. John Lennon en Paul McCartney het per bus na hul gunsteling-kroeë in die stad gery. Lennon het in die laat 1950’s by die
Liverpool College of Art studeer. Strawberry Field, ’n kinderhuis in Woolton, ’n voorstad van Liverpool, was die inspirasie vir hul gewilde liedjie “Strawberry Fields Forever”. Vandag word boodskappe aan en lirieke van The Beatles voor die perseel se hekke gelos of selfs op die mure geverf.
Janis Joplin en Jimi Hendrix
Loop in die voetspore van Janis Joplin, Jimi Hendrix en The Grateful Dead in San Francisco in die VSA. Die buurt Haight-Ashbury is bekend as die episentrum van die hippiebeweging, asook die blues en alternatiewe rock waarmee dié kunstenaars die musiekwêreld verander het. Vandag nog word byna daagliks tromsessies op Hippie Hill in dié woonbuurt gehou – wees net versigtig vir die brownies wat te koop is.
‘The Sound of Music’
As jy ’n aanhanger van die musiekblyspel en fliek The Sound of Music is, moet jy eenvoudig Salzburg, Oostenryk, besoek om te sien hoe dié bekende tonele in die regte lewe lyk en wat die akteurs gesien het toe hulle daar verfilm het: grasgroen heuwels en koeie met klokke om die nek in die somer, of hope wintersneeu en waserige blou berge in die agtergrond in die winter.
* Trafalgar bied toere na al dié bestemmings en hul besienswaardighede uit die musiekgeskiedenis aan. Besoek trafalgar.com vir meer.