Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits: Kry jou Kaap en transport

Sjjj. Kapenaars sal dit nie maklik vir jou sê nie, maar die winter is een van die beste tye om die Moederstad te besoek. Dis wel ’n bietjie kouer en die dae korter, maar jy hoef nie jou weg deur swetterjoele toergroepe te baan nie. Boonop is dit sag op jou beursie. Carla Lewis wys vir jou hoe om ’n winternaweek in die Kaap deur te bring.

Vrydag

18:00

Vrydag, 18:00: Eet vars oesters by die Mojo Market in Seepunt.

Begin jou naweek by die Mojo Market ­(Regentweg 30, Seepunt), ’n nuwe kosmark wat onlangs hier oopgemaak het. Soos alle dinge in Kaapstad is die kos hier trendyen op die gesofistikeerde palet gerig. Jy kan smul aan oesters en vonkelwyn, ’n bak poke (die jongste kosgier van Hawaii) probeer, of ’n craft-G&T bestel. Ons het egter vasgehaak by die Mussel Monger & Oyster Bar, wat vet, vars oesters teen billike pryse verkoop. Die oesters word reg voor jou skoongemaak en as jy nie jou begroting dophou nie, kan jy weggevoer word deur die knewels. ’n Bord van ses groot oesters kos R99, en ses reuseknewels gaan jou R140 uit die sak jaag.

21:00

Lus vir kuier? Die koel mense van Kaapstad is maar wispelturig oor hul drinkplekke, maar met my besoek was The ­Power & the Glory in Tamboerskloof (Kloofnekweg 13) die plek waaroor almal gepraat het. Voorgestelde drag is “Te koel om te hard te probeer,” en dit is verpligtend dat jy ’n jenewer van een of ander obskure stokery bestel, of ’n kombucha-en-boerekool-smoothie.

As jy egter nie op hoogte is van die jongste Arcade Fire-treffer nie en nie werk in die media, kuns of advertensiebedryf nie, mik na Ace ’n Spades (Houtstraat 62) in die middestad. Dit is ’n onopgesmukte kroeg waar jy na hartelus op 1980 se poptreffers kan dans en 30-plussers nog nie hul vervaldatum bereik het nie. Die kroegman sal jou ook nie veroordeel as jy ’n brannas-en-Coke bestel nie.

Saterdag

08:00

Een van die lekkerste dinge van ’n Kaapse winter vir ’n Gautenger soos ek is die laatslaap. Jy hoef nie skuldig te voel omdat jy nog nie op die voetheuwels van Tafelberg rondklouter nie, want dis immers nog donker.

As dit ’n mooi dag is, vang ’n Uber Seepunt toe en huur ’n fiets by Up Cycles ­(Kusweg, Seepunt-Paviljoen) om die promenade te verken. Maak seker dis ’n cruiser-fiets, ’n ware koel Kapenaar sal nie op iets anders raakgesien word nie.

As jy nie omgee vir roomys vir ontbyt nie, koop gerus vir jou een van The ­Creamery (Kusweg 163) se tuisgemaakte geure in Mouillepunt. Daar is klassieke geure soos karamel-en-seesout, koffie-en-grondboontjiebotter, maar ook treffers soos kardemom, malvalekker en rooswater.

As jy egter soos die meeste Seepunters jou figuur dophou, kry eerder ’n Super Green-sap by die One-Juice-sapkroeg ­(Regentweg 190). Die boerekool-spinasie-komkommer-piesang-seldery-avokado-en-hennepsaad-konkoksie sal jou sommer baie gesond en baie selfvoldaan laat voel.

11:00

Saterdag, 11:00: Maak ’n draai in die Bo-Kaap, nie net vir die mooi foto’s wat jy daar kan neem nie, maar ook om meer te leer van die geskiedenis.

Mik na die Bo-Kaap, die natuurlike habitat van Kaapse Instagrammers en bloggers danksy die helderkleurige geboue. Jy is egter nie hier om mooi foto’s te neem vir jou Facebookblad nie, maar om meer te leer van die Kaap en sy geskiedenis.

Ons ontmoet vir Shireen Narkedien, (082 423 6932) ons toergids by die Bo-Kaap-museum.

As ’n Suid-Afrikaner en joernalis roem ek myself op ’n redelike kennis van Suid-Afrikaanse geskiedenis en somtyds kan toergidse se rympies sonder enige konteks maar gou vervelig raak.

Shireen is egter een van daardie wonderlike toergidse wat gou jou vlak van kennis oor ’n onderwerp peil en daarop kan uitbrei.

Aan die einde van ons toer het ek nie net nuwe feite geleer nie, maar ook ’n veel beter begrip gehad van die snelle ­ontwikkeling, verfraaiing en uitdagings wat die Bo-Kaap te bowe moet kom.

Shireen het ons ook geneem na haar gunsteling-speserywinkel, Atlas Trading Company (Waalstraat 104), waar jy die varsste speserye in die Kaap koop, teen die beste pryse.

Die rakke kreun onder vet medjool-dadels, skoonma-se-wraak-kerriepoeier en tandoori-speserye, maar die sakkies quinoa en pienk Himalajasout herinner jou egter steeds dat dit ’n eg Kaapstadse ­instelling is.

12:30

As dit kom by regte, egte Kaaps-Maleise kos, is Biesmiellah (hoek van Waal- en Pentzstraat) ’n instelling. ’n Gunsteling is hul denningvleis, ’n Maleis geïnspireerde skaapvleisgereg wat met geurige speserye soos tamaryn, wonderpeperkorrels en lourierblare gemaak word.

Vir onder R50 kan jy jou dik eet aan ’n verskeidenheid van hul snoephappies: ’n aartappelwada, amper soos ’n diepgebraaide, speserygegeurde aartappelkroket, dhaltjies wat van rissies en kekerertjiemeel gemaak word, en aartappelsamoesas. ’n Soet sonde is die Kaapse koeksuster, ’n diepgebraaide bolletjie geluk, gegeur met anys, kardemom, gemmer en bedek met fyn klapper en suikerstroop.

14:00

Ek was al in talle internasionale kunsmuseums, maar dis ’n skreiende skande dat ek so lank gevat het om ons eie Nasionale Kunsmuseum (Goewermentslaan in die Kompanjiestuin) te besoek. As jy een kunswerk moet sien, is dit Jane Alexander se Butcher Boys, iets wat binne die Suid-Afrikaanse kunskonteks net so belangrik is soos Michelangelo se Dawid vir die Renaissance. Drie demoonagtige figure sit op ’n bankie en lyk besonder gatvol vir die lewe. Toegang vir volwassenes is R30. Studente, skoolkinders en pensioentrekkers betaal R15.

17:00

As ’n mens regtig gaan stilsit by die knus, intieme Honest-sjokoladewinkel (Waalstraat 64), dan besef jy watter waarde vir geld die Moederstad jou bied. Ek het al in Parys, Frankryk, €5 betaal vir ’n louwarm kitskoppie sjokoladegegeurde melk wat nie die titel chocolat chaud verdien het nie. By Honest kry jy ryk, vloeibare sonde in geure van Mexikaanse rissie en lemoen vir R42. Dis net die regte doepa as daardie fyn misreën begin uitsak en die Kaapse kilheid in jou bene intrek. As jy lus is vir iets sterker, is daar ’n versteekte jenewerkroeg aan die agterkant van die winkeltjie net vir jou.

18:00

Kaapse winters beteken spesiale aanbiedinge by restaurante. As jy nog altyd by ’n deftige restaurant in die Kaap wou eet, sonder om jou beursie te verrinneweer, stel ons die volgende voor:

’n Driegangmaaltyd by Kyoto Garden Sushi (Kloofnekweg 11) met ’n glas wyn en groentee kos R220 per kop. Dit word van Maandag tot Saterdag 17:30 tot 22:00 aangebied en geld tot 31 Augustus.

La Tête (Breestraat 17) se snoet-tot-stert-eetfilosofie val nie in almal se smaak nie, maar hier is steeds baie opsies vir fiemies­eters en vegetariërs. ’n Tweegangmaaltyd gaan jou R220 uit die sak jaag en ’n driegang R260. Dit geld op ’n Saterdag van 18:00 tot 23:00.

20:00

Die Baxterteater is ’n klein, intieme teater waar wêreldklas-Broadwayproduksies soos Funny Girl al opgevoer is. En anders as in die West End in Londen, gaan ’n glas vonkelwyn jou nie meer as R50 ruk nie, in vergelyking met die £10 per glas Franse sjampanje wat my reismaat in Londen opgedok het. Besoek hul webwerf (baxter.co.za) om hul program vir die res van die jaar te sien.

Sondag

09:00

Mik jou motor se neus na Muizenberg en Kalkbaai, en stop eerste by die Casa Labia Café, (Hoofweg 192, Marina da Gama) ’n Italiaanse herehuis wat lyk asof dit eerder in Florence of Venesië hoort. Sondagmiddagete hier is ’n groot bederf, maar as jy vroeër kom, voor 11:00, kan jy hier inval vir ’n stukkie koek en tee (botterbroodjies en room kos R45, koek van die dag R50). Jy voel omtrent soos ’n lid van die adelstand, omring van vergulde plafonne en skone kuns terwyl jy aan jou Earl Grey teug in fyn porselein, pinkie in die lug terwyl suurgesigtannies vanuit die skilderye na jou terugloer.

12:00

Voordat jy jou wat verbeel, kom eers weer terug aarde toe by ­Kalky’s, die bekende vis-en-tjips-winkel by die Kalkbaai-hawe. Hoewel mense hierheen stroom vir hul diepgebraaide vis-en-tjips, het ons ’n gebraaide geelstert, twee kreefsterte en ’n reusagtige porsie calamari bestel vir twee mense. Wys vir my enige plek in die wêreld waar jy so ’n feesmaal vir twee mense kan kry vir onder R250. Ná die tyd kan jy op die pier gaan loop en jou aan die robbe verkyk wat soos vet bosluise rondlê en hul oog oophou vir ’n meevallertjie.

Die res van die middag kan jy ronddrentel in Kalkbaai se strate. Die boekwinkel Kalk Bay Books (Hoofweg 124) is ’n fees, veral wanneer jy met die trap opgaan na waar die sakpas tweedehandse boeke en ou plate gestoor word.

Sluit die middag af met ’n Portugese melktertjie en ’n cappuccino by die Olympia Café (Hoofweg 134).

* Carla Lewis was ’n gas van die Kaapse toerismeowerheid (www.capetown.travel)

Meer oor:  Carla Lewis  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.