Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits: ’n Brokkie Engeland
Die Glen Avon-gasteplaas is al byna 200 jaar in dieselfde familie. Foto: werner klopper
Vissermanne kan lyne natmaak in die foreldamme op die plaas. Foto:
Angora-bokke is deel van die plaaservaring op die Glen Avon Gasteplaas. Foto:
Op Glen Avon roep ’n klok nog soggens die werkers na hul poste. Foto:
’n Voetslaanpad lei jou na dié mooi waterval.
Walter Battiss se Birds at Sunset hang in die Walter Battiss-museum op die dorp. Foto: Litnet.co.za
Selfs twee tegnologie-voos tieners het hulle vergaap aan Walter Battiss se skilderye in dié museum op die dorp. Foto:

Wanneer jy deur Somerset-Oos loop, voel dit asof jy deur ’n outydse prenteboek stap wat jou deur die geskiedenis lei, skryf Leon van Nierop.

Die kwik draai digby die 40 °C en kruip moorddadig noord. Die Karoo koes vir die son onder die Boschberg, maar selfs in sy diepste skeure het die peperbome al begin hensop. En dan, asof jy ’n bladsy in ’n outydse prenteboek omblaai, vou Glen Avon, die bekendste gasteplaas in die Somerset-Oos-distrik in die Oos-Kaap, voor jou oop.

Hier blaai jy van moordend hittig na lawend wanneer jy deur ? laning ry wat 200 jaar al oor die ingang waghou. En interessant genoeg vier hierdie angora-, bees- en skaapplaas binnekort sy 200ste bestaansjaar met dieselfde familie wie se nasate hom steeds bestuur.

Hier bewaar pekanneutbome ’n grasperk wat die Karoo groen inkleur en waar Alison Brown ’n reeks 200 jaar oue geboue gerestoureer en omskep het in kothuisies. Sommige van die mure is so dik soos akkerboomstamme om ’n mens teen die elemente te beskut. So het

Alison se man, Jim, se voorsate eeue gelede reeds die huisies bewoon terwyl die plaashuis in aanbou was.

As jy dus al ooit vakansie wou hou op ’n plaas waar ’n klok die werkers soggens roep en beeste en skape jou wakker bulk en blêr, lê Glen Avon soos ’n brokkie Engeland uit ’n Jane Austen-roman vir jou en wag.

Stappaaie vat jou na die omgewing se hoogste waterval, een van die oudste meulens in die land (in 1825 gebou) en damme waar forelhengelaars kan lyn natmaak.

Ontmoet die ou inwoners

? Goeie 12 km knap oor die nek van die Boschberge vind jy Somerset-Oos.

Vergeleke met sommige ander klein dorpe sit die inwoners hier ooglopend skouer aan die wiel om die dorp te laat werk. Dit is in hierdie omgewing waar Anders Sparrman in 1775 saam met Willem Prinsloo skuiling teen die einste berg gesoek het en ’n plaas aangelê het wat vandag deel is van die dorp.

Maar dit was lord Charles Somerset, gepoeier en gepaint, wat in 1815 besluit het om ’n regeringsplaas tot stand te bring onder die Boschberg om voer en kos vir die Britse soldate te verskaf. ­Hulle was by die Grensoorloë teen die Xhosas gewikkel en só is ’n handjievol dikmuurhuise opgerig wat later ’n volwaardige dorp sou word.

Een van die mooiste ou geboue is die Walter Battiss-museum aan die onderpunt van die dorp.

Op pad daarheen is die Gill-Kol­lege. Die skool is in 1869 aanvanklik as ’n universiteit gestig uit die erflating van Dr. William Gill, destydse distriksgeneesheer. Vandag nog pryk naamplate bokant klaskamers wat trots verkondig: “huishoudkunde” en “Afrikaans.”

Die naam Walter Rubusana word ook gereeld hier gehoor. Hy het die Bybel in Xhosa vertaal. Een van die doyens van Afrikaans, Ernst van Heerden, is hier naby in Pearston gebore, terwyl prof. Jakes Gerwel, akademikus en eertydse direkteur-generaal onder Nelson Mandela, ­Somerset-Oos sy bakermat kon noem.

Wat dadelik opval van die dorp is sy monumente en outydse inkleurboek­huise waarvan baie oor die 150 jaar oud is. Die Gill-Kollege-kapel word al langer as ’n eeu deur twee palmbome bewaak, terwyl kerke soos All Saints en die ou Metodistekerk ook aandag trek in strate omsoom deur huise met broodknie-dakkies wat stoepe teen die son beskerm.

Van die mooiste geboue is die NG kerk wat in 1871 voltooi is. So ook die ou pastorie wat tans ’n museum is en met sy wit dubbelverdiepingvoorkoms sorg dat jy nie by hom verby kan ry nie. Ook die flambojante Somerset Hotel waar mense reeds vroeg-vroeg begin laer trek.

Die geblêr en die gebulk van skape en beeste maak jou soggens in jou kamer wakker.

GLEN AVON-GASTEPLAAS
5 km voor Somerset-Oos vanaf Cookhouse

6 km goeie grondpad na die plaas.

Tariewe: R250 – R400 per persoon (selfversorgend)

Boereontbyt: R70

Aandete net op versoek

Kontak: Alison Brown,042 243 3628 brown@glenavonfarm.co.za

Die eksentrieke skilder

Die pièce de résistance is natuurlik die huis, later ook hotel, van die dorp se bekendste seun, die skepper van die fantasie-eiland Fook, Walter Battiss. Hierdie eksentrieke en visioenêre kunstenaar het trots gesê: “I invented myself!” En selfs al woerts jy net deur die dorp, draai beslis af en ry tot teen die berg en dan af in Pauletstraat waar nie net die gebou nie, maar Battiss se skilderye en spreuke jou sprakeloos sal laat.

Moenie ’n muwwerige plek vol stroewe oudhede verwag nie. Selfs twee laaities wat aanvanklik net in hul trillende selfone belanggestel het, se SMS-voos duime het gevries toe hul ouers hulle in die museum invat. Hulle het voor Battiss se Birds at Sunset gaan staan, koppe skeef gedraai, ’n selfoonfoto geneem en dit skynbaar vir ’n cool vriend gestuur.

Wys jou net: Vakansies gaan veral om dit te ontdek waarby jy vinnig verby-woerts en nie gedink het jy gaan aanklank by vind nie . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.