Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits: Vrede langs die see

Moeg vir die lewe in die stad? Die ongerepte strande van die ou Transkei is net die plek om jou sorge te gaan afstap, skryf Géta Hancke

Die roetes tussen die hotelle loop ook nie net strandlangs nie, soms swenk die paadjie binneland toe en stappers kan die heerlike lowerbedekking vir ’n wyle geniet. Foto: Elismarie Hamman

Privaatheid. Dis die groot verskil tussen die Transkei en die res van ons kuslyn langs die warm seewaters.

Ons het tydens ons vakansie van amper tien dae in dié omgewing selde ander mense gewaar waar ons strandlangs tussen die hotelle gestap het.

Boonop was ons in die winter hier en die water was steeds warm genoeg vir oud en jonk om in te baljaar.

Ons avontuur het die Saterdagmiddag by die Trennerys-hotel naby Keimond begin. Die kamers is eenvoudig, maar silwerskoon en die sowat 30 eenhede het bykans almal ’n uitsig oor die see.

Maarten Stoltz en Elismari Hamman geniet ’n bordspeletjie met die see net ’n tree of wat weg.

Die hotel se voorstoep is so te sê op die strand en in die hoofgebou is daar onder meer ’n eetplek, kroeg en kinderspeelhoekie.

Saterdagaand by elkeen van die hotelle is omtrent ’n bederf. Jy kan na hartelus weglê aan seekos wat die tafels laat kreun onder die lekker.

Die see het ons hier nuwe asem gegee vir die res van die jaar.

Ons het Trennerys se seekosfees geniet, maar gerugte het dit dat Kob Inn s’n die beste is. Verblyf en drie etes by Trennerys het ons R860 per persoon uit die sak gejaag.

Die volgende oggend was dit tyd vir aanbeweeg.

Ons geselskap het in twee groepe verdeel: die stappers wat die sowat 16 km strandlangs na die Wavecrest-hotel by KwaGcaleka aandurf, en diegene wat die 70 km padlangs sou voltooi.

Stappers strandlangs onderweg tussen Wavecrest en Kob Inn.

Dit het sowat vier en ’n half uur gevat om tot by die hotel te stap, en boonop het ’n vyfjarige seuntjie die eerste 5 km saamgestap voordat sy pa hom kom oplaai het.

Die roete was heerlik en vol avonture. Soos wafferse Trekkers van ouds is ons deur een heuphoogte riviertjie en met beespaadjies teen ’n paar effe strawwe heuwels op.

Die roete was darem nooit bo ons vuurmaakplek nie.

Wavecrest is vir my die mooiste van al die hotelle.

Daar kon ons ons sandsandale uitskop en met sielevrede sit en uitkyk oor die strandmeer.

Gaste moet met een van die hotel se bootjies oor die strandmeer roei om by die amperse private strand te kom en weer het ons die strand heeltemal vir onsself gehad.

Wavecrest kos R907 per persoon per nag vir slaapplek en drie etes.

Die kos is basies maar vullend en ’n tipiese ontbyt bestaan uit spek en eiers, spaghetti bolognaise vir middagete en hoender of vis saans.

Drankies is heel billik geprys en die hotelle bedien bykans alles waarvoor jy lus kan wees. Ons het heelwat van ons eie wyn saamgevat en die kurkfooi was tipies R30 per bottel.

Die uitsig vanaf jou kamer by Kob Inn. Foto’s: Géta Hancke

Op Wavecrest se heerlike houtdek wat oor die strandmeer uitkyk, het ons ure lank kaart en bordspeletjies gespeel.

Mazeppabaai was vol, so ons kon nie die volgende aand al daar oorslaap nie. Daarom het ons van Wavecrest direk na Kob Inn by Willowvale geloop, wat beteken ons moes weer van daar af as’t ware terugloop op ons spore tot by Mazeppabaai.

Weer het ons ’n kargroep en ’n loopgroep gevorm.

Dié been was die moeilikste om te stap en die langste tog van ons vakansie. Die sowat 25 km oor sand langs die Manubi-staatswoud verby het drie volwassenes bykans ses uur geneem om te voltooi. Om so lank op sand te stap is maar moeilik vir Gauteng-voetjies.

Ek kon die pyn darem dadelik regdokter met ’n yskoue bier in Kob Inn se kroeg met sy asemrowende uitsig oor die Indiese Oseaan. Kob Inn was my gunsteling-
hotel met die lekkerste kos – hier gaan jy R920 per persoon per nag opdok.

Anders as by Wavecrest met die strandmeer tussen die hotel en die see hoef jy hier net oor ’n paar rotse te loop, dan is jy op die strand.

Begroting

Hierdie wonderlike wegbreek het ons so R10 000 per persoon vir nege dae gekos.

Die bedrag het ruweg bestaan uit R3 000 vir kos en drank en R6 000 vir verblyf.



My sentiment oor dié hotel het waarskynlik ook deels te make met die feit dat ek 25 km soontoe geloop het – die mooi was my beloning.

Die ponieritte op die strand was waarskynlik die aktiwiteit wat die kinders die grootste plesier besorg het. Sommige lede van ons geselskap het ook vrugteloos probeer visvang, sommer met hotel-gekoopte kindervisstokkies.

Ná ’n heerlike kuiertjie by Kob Inn het ons weer die pad gevat, al op ons eie spore langs terug na Mazeppabaai toe.

Die omtrent 5 km lange staproete was kindervriendelik, met die jongste lid van ons geselskap, ’n vierjarige, wat dit met ’n bietjie hulp kafgedraf het.

Die Mazeppabaai-hotel se geriewe bestaan uit ’n eetplek, ’n kroeg op die grondvloer én ’n kroeg op die tweede verdieping.

Vir die laaste skof van ons strandavontuur Mazeppabaai toe was ek deel van die kargroep. Die pad deur die ongerepte deel van die Oos-Kaap was wel nie langs die see nie, maar steeds baie mooi.

Mens raak meegesleur deur die landskap van kleihutte (van alle kleure en skakerings) en eindelose groen heuwels.

Ons het die hele dag op die strand by Mazeppabaai deurgebring, perfekte rus vir stadsiele wat van die liggies wil ontsnap. Die see het ons hier nuwe asem gegee vir die res van die jaar.

Ek het geleer backgammon speel en ons het ook ’n heerlike verjaardagviering gehad.

Op die ou einde moet ek sê Trennerys se verblyf, al het alle kamers nie ’n see-uitsig nie, was die lekkerste.

Wavecrest het basies woonstelle en rondawelhuisies gehad. Kob Inn se verblyf is miskien nie die luuksste nie, maar die hemelse see-uitsig vergoed daarvoor.

Meer oor:  See  |  Verblyf  |  Vakansie  |  Privaatheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.