Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rugby en ruimtetuie
Soos ’n brandwag staan een van Burgersdorp se twee militêre blokhuise uit die Anglo-Boereoorlog op die heuwel bokant die dorp.

Die Noordoos-Kaap kan jy nie met ’n navigasietoestel verken nie, gebruik liewer ’n regte padkaart, skryf Sam J. Baschná ’n besoek aan dié kontrei.

Burgersdorp se taalmonument ter viering van die Nederlandse taal is tydens die Anglo-Boereoorlog beskadig en deur die Britse regering vervang. Foto’s: Sam Basch

Wanneer jy uit die Kaap noordoos ry en jy dit gelukkig tref dat die Gariepdam oorloop, hou daar stil en gaan kyk; dis ’n skouspel om te beleef. Eet dan sommer of bly oor by die stylvolle De Stijl Gariep-hotel met ’n praguitsig oor die dam. Volgens die wêreldbekende gholfspeler Gary Player wat hier naby met perde geboer het, is dié boetiekhotel een van sy gunstelinge.

Andersins ry deur Bethulie, self ’n dorp met baie besienswaardighede en geskiedenis. Hier ry jy die Oos-Kaapprovinsie binne, oor die langste pad-spoorbrug in Suid-Afrika – dit strek 1 152 meter ver.

Nou bevind jy jouself in die Noordoos-Kaap. Dis een van daardie vae geografiese terme, byna soos wanneer die weerberig sê: “Elders mooiweer en warm”. En hier kán dit warm word – én vreeslik koud.

Gesoute rugbymanne weet van Noordoostelike Distrikte – ’n gedugte span wat in 1910 in Burgersdorp teen die Britse Leeus gespeel het. Klippie Spies vertel in ’n artikel op landbou.com dat 10 Augustus daardie jaar Burgersdorp se eerste internasionale wedstryd was. Die telling het 8-8 gelykop geëindig.

Sestig jaar later, in 1970, vermorsel die All Blacks egter die Noordoos-Kaap: 85-0. Nog erger, die koerante berig dat die senter Deus van Vuuren “gesterf het as gevolg van breinskade ná ’n laat duikslag deur sy All Black-opponent Graeme Thorne”, skryf Klippie. ’n Joernalis wat Burgersdorp se polisiekantoor egter oor die tragiese nuus skakel, is verstom toe “die einste ‘oorlede’ Deus van Vuuren self die telefoon beantwoord!”

Dit klink soos die skrywer Mark Twain wat gesê het: “Berigte oor my dood is grootliks oordryf.”

Sonsopkoms verdryf die mis oor die historiese dorpie Rhodes, wat toegevou tussen die berge lê.

Streng regulasies

’n Minder oordrewe kwessie was ’n krygswet wat in 1901 op hierdie streek van toepassing was. Fralie Marx, ’n vooraanstaande boer van Sewefontein naby Venterstad, bewaar met groot sorg nog een van die oorspronklike pamflette. Hy het dit van sy oupa Frans Marx geërf. Van die inperkingsregulasies – in Nederlands – lees byna soos dié wat tydens die Covid-19-grendeltyd gegeld het:

“Alle Winkels in het Distrikt buiten de steden Burghersdorp en Venterstad moeten gesloten worden en alle voorraad goederen moeten dadelyk ingebracht word naar Burghersdorp.”

Om die vyand, wat seker Kaapse rebelle sou insluit, aan bande te lê, moes alle perdesaals, tooms, hoefysters, hoefspykers en draadtange ook ingebring word. En fopnuus is verbied:

“Geen persoon zal onverschillig of moedswillig valsche informatie verspreiden of rapporteren bedoeld om alarm en wanhoop te veroorzaken.”

“Vals informasie” het ook in 1962 die mense in Aliwal-Noord op hol gehad. Gloeiende stukke metaal uit die ruimte wat op die plaas Driefontein geval het, sou kwansuis ’n inval deur die “Rooi Russe” wees.

By nadere ondersoek deur Amerika se ruimteagentskap Nasa blyk dit toe brokstukke van ’n Amerikaanse ruimtetuig te wees – nogal die Mercury Friendship 7 waarin die befaamde ruimtevaarder John Glenn op sy eerste vlug om die aarde gewentel het. Die VSA het dié stukke aan Suid-Afrika geskenk wat vandag in die Wetenskapmuseum in Pretoria is.

Gepraat van Aliwal-Noord. Dit was die hoofsetel van die Albert-distrik wat sir Harry Smith in 1848 tot stand gebring het. Hy het dit na koningin Victoria se man, prins Albert, vernoem en die dorp na sy beroemdste veldslag in 1846 by Aliwal in Indië. Die “noord” is bygevoeg omdat Mosselbaai se voorgestelde naam Aliwal-Suid sou wees.

Die langste pad-spoorbrug in Suid-Afrika bring jou in die Noordoos-Kaap.

Kerk en taal

Op die plaas Roosterhoek naby Venterstad is ’n monument in die vorm van ’n kerkgebou. Dis waar die bekende dominee Dirk Postma die GereformeerdeGemeente Burgersdorp in 1860 gestig het. Hierdie geweste is feitlik die bakermat van die Dopperkerk. Op die dorp is die museum waar die teologiese skool (of meer korrek: seminarium) ontstaan het. Dié is later na Potchefstroom verskuif.

Van die geboue wat die museum uitmaak, sluit die De Bruin-huis in met sy misvloere en rietdak. Sommige mense sê dit spook hier: Jy sal dit glo op jou foto’s sien wat jy binne geneem het!

’n Uitsonderlike oornagplek is Burgersdorp se Kingsman-boetiekhotel in die hoofstraat. Oorspronklik is die plaaslike drukkery in die 1855-geboutjie gehuisves, waarna dit vir jare leeg gestaan en vervalle geraak het. Nuwe eienaars het die gebou pragtig herstel en met smaak ingerig: vir die kieskeurige gas.

Vóór jy Burgersdorp behoorlik bekyk – hier is minstens tien nasionale monumente – eet gou ’n smaaklike ontbyt by Hagenhuis. Dis nog ’n regte huis in die Victoriaanse styl met sy voordeur teenaan die straat tussen twee hortjiesvensters. Die verrassing wag binne: snuisterye, heuning, boetiek-boerseep en kunswerke in die ou voorkamer, nogal met ’n kaggel, en agtertoe ’n groot tuin met bome en skroppende, kloekende pluimvee.

Pasgeskeerde skape word ligweg met water natgespuit om hulle te beskerm indien die nag skielik baie koud sou word.

As dit koud is, probeer gerus hul botterskorsiesop. Daar is ook pannekoek met kaneelsuiker en heerlike cappuccino’s. Die spyskaart maak voorsiening vir kinderporsies – en die grootmense kan ’n koue een afsluk.

Op die Jubilee-plein is die Taalmonument – eintlik nou twee. Dis die enigste monument in Suid-Afrika ter viering van die Nederlandse taal.

Burgersdorpers was vóór in die stryd om Nederlands in die toentertydse Kaapse parlement naas Engels te kon praat. Om hul sukses te vier, is die beeld van ’n mooi jong vrou in ’n lang gewaad, van Italiaanse Carrara-marmer, op die plein staangemaak. Tydens die Anglo-Boereoorlog is die beeld beskadig en weggevoer. Die Burgersdorpers het geëis dat die Britse regering dit vervang. Jare later is die oorspronklike, sonder kop, in King William’s Town gevind en langs die plaasvervanger opgerig.

Stap ’n entjie straatop om die militêre blokhuis te sien. Eintlik spog Burgersdorp weer met ’n tweetal; ander blokhuise is opgerig in Aliwal-Noord, Molteno en Queenstown – trouens oral in die land – om die Boerekommando’s se bewegings in te perk en die spoorlyne te beskerm.

Onthou, die Britse magte het laat in 1899 ’n groot nederlaag naby Molteno in die Slag van Stormberg gely. Die Boere het selfs ’n nuwe Republiek van Stormberg verklaar.

Bergpasse en Passiespel
Jongmanne besig om wol te klas op die veepos by Sipresdal, plaas van Harm Marx. Hierdie is skaapwêreld.Foto:

Genoeg van oorlog. Kies nou koers op die R58 na Lady Grey en Barkly-Oos, ou koloniale name wat die destydse goewerneurs in herinnering roep: sirs George Grey en Henry Barkly. As jy die padkaart met aandag bekyk, val ander interessante name jou op: Platkoppiesdrif, Floukraal, Swempoort.

Beplan jou reis om Lady Grey se Passiespel in April by te woon. Die Lady Grey-kunsteakademie bied dié jaarlikse skouspel reeds die afgelope 18 jaar aan; dis vanjaar weens Covid-19 afgestel, maar beloof om in 2021 besonders te wees.

Jy kan in Barkly-Oos by die Royal Manor oorbly; ’n netjiese landelike hotel in die suidelike Drakensberg wat die Steenekamps onlangs mooi opgeknap het. Ry ná hul stewige ontbyt verder, oor die Bokspruit en Bellrivier by Moshesh’s Ford na waar Lesotho met ’n punt bokant Rhodes by die Noordoos-Kaap inwig.

Dan is jy by Suid-Afrika se gewilde Tiffindell-ski-oord. Vir die avontuurlustiges is daar die onlangs voltooide Ben MacDhui-pas, wat nou die hoogste pas in die land is: 3 001 m bo seevlak.

Rhodes is op sigself ’n besonderse trekpleister, selfs vir mense wat permanent hier wil woon of aftree. Só beskermend voel die inwoners oor hul dorpie dat hulle nie wil instem om die pad soontoe te teer nie. Maar dit word in die wintermaande ook bitter koud hier. G’n wonder die toetse vir koue weer en ys vir die Lugmag se Rooivalk-gevegshelikopter is destyds hier uitgevoer nie.

Hagenhuis se aantreklike voorkant verklap iets van die besonderse eetplek.

Vir die aardigheid moet jy Naudésnekpas aanpak. Dit is een van die hoogste bergpasse in die land, 2 500 m bo seevlak. Dit neem lank, vier of vyf uur, om die 110 km of wat van Rhodes na Mount Fletcher of Maclear oor die Drakensberg te ry. Twee Naudé-broers het die pas met pik en graaf uitgekap om in die 1890’s hul vee by die mark te kry.

Draai liewer bo-op die bergtop terug na Rhodes om ’n smaaklike maaltyd in een van die knus oorblyplekkies te geniet met ’n soetetjie voor die kaggel.

Burgersdorp met die Gereformeerde (‘Dopper’)-kerk voor. Die mooi sandsteen NG-Kerk agter is onlangs in ‘n brand beskadig.Foto:

Bly hier:

Slaapplek by die Gariepdam: De Stijl Gariep-hotel by www.destijl.co.za; of op pad na Venterstad Christa van der Walt se mooi gastehuis Morning Glory by www.morningglorycottages.co.za op Gelykfontein, waar haar man, Schalk, met resiesperde en ngunibeeste boer.

In Burgersdorp: The Kingsman-boetiekhotel by www.thekingsman.co.za; en in Barkly-Oos die Royal Manor-hotel by royal-manor-hotel.business.site.

Lady Grey se Passiespel: Ladygreypas­sionplay.co.za/program-of-events.

Meer oor:  Gariepdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.