Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rus in suiwere plaaslekkerte

Daardie geluid! Naas die gedruis van die see en water oor spoelklippies is die wind se gefluister om jou stresvlakke onder dennebome te streel, die heel mooiste. Dit is ’n sagte binneoorklank wat met jou sintuie praat sonder om opdringerig te wees. En dis hoe jy verwelkom word wanneer jy by Whispering Pines stilhou – ’n tuisvoel-lodge tussen Koster en Magaliesburg.

Landelike stilte weg van die stad se gegons wag by Whispering Pines. Foto: Whispering Pines

Al wat kortkom, is ’n hoenderhaan wat jou oopkeel, kam vlammend in die wind, begroet. Die res is suiwer plaaslekkerte. En volgens die vriendelike personeel wás dit eers ’n plaas. ’n Boorgat, wat vandag steeds water uitpomp, spog daagliks met ’n straal waaronder jy sommer in jou Adamsgewaad wil stort. Al is die stad skaars 50 km hiervandaan, is dit net ver genoeg om sy dreun-hartslag te vergeet. Dis hoekom die dennebome daar is. Om die stadsgeruis te verdoesel.

Whispering Pines, met sy 14 chalets wat afkyk op drie reuse-akkerbome, laat jou voel of jy doodveilig by jou oom en tannie op die plaas kuier. Jy gaan nie noodwendig hier tuis om gholf te speel of perd te ry nie, maar om laag te lê, ’n tjil-pil te sluk en jou koue voete voor ’n vuurherd te pamperlang. Knus kry hier ’n nuwe betekenis, want die atmosfeer is intiem en gemoedelik. Dit voel of jy vroegtydig Kersfees vier met dennetakke wat naald vir naald rustigheid op jou afdrup.

Maar is dit net ’n kits-oorslaapplek, of is daar meer?

Whispering Pines spog met ’n bobaas-fietsryroete. Jy huur ’n fiets by ontvangs, vrywiel af hek toe, en daarna maak jy maats met die Hoëveld.

“Moenie diere skrik maak nie en ry versigtig. Valhelms is verpligtend. Geen uitsonderings nie,” maan die bordjie.

“O my liewe aarde!” Aan die woord is ’n formidabele tante wat my aan Evita Bezuidenhout sonder die pruimedantmond herinner. “Sal ek ooit op ’n fiets kan balanseer? Jy weet tog Bokkie, ek het laas op universiteit saam met jou gefiets!”

Die omgewing is droog ná die winter, maar dit is steeds lekker om na varser lug te ont­snap.Foto: Werner Klopper

Maar Bokkie glimlag net oor sy boepie, swaai sy fris boerebene oor sy fiets en wankel-wikkel af ingang toe. “Fietsry is soos vry, ou vrou. Elke keer as jy dit regkry, raak dit net lekkerder!”

Dit is al aanmoediging wat die tante nodig het. Met ’n vasberade beweging balanseer sy haarself wiegel-waggel agter sy donnerboude aan, en daar gaat sy!

“Ag my liewe hemeltjie tog!” in falsetto.

Maar Bokkie is reg. Fietsry onder deur die dennebome is verslawend, want hierna takel hulle die pannekoek-plat Hoëveldse grasvelde met uitbundigheid.

“So wyd en oop soos die Heer se genade!” sug die tante toe sy met haar geduldige fiets bult af swenk.

Ai, daardie lug. Dis so vars soos ons onderwysers ons altyd geleer het in die destydse LO-klasse met in-en-uitasem-oefeninge, wat ons nukkerig gevolg het.

Een van die gerieflike kamers by Whispering Pines.Foto: Whispering Pines

Die lug hiér ruik soos varsgekapte hout, gesnyde gras en dennenaalde met ’n skerp reuk wat jou neusvleuels baldadig kielie. Jy raak dronk daarvan. Die lekkerste geur talm soggens voor die son stukkie vir stukkie vuurhoutjie aansteek bokant die ysige horison. Dit alleen maak Whispering Pines bobaas-tjil-plesier.

Daar is ook sirkel-staproetes – netjies oopgekap met houtbruggies oor slote en waarskuwings dat dit glad in die reën is. Hier wandel jy “sorgvry” soos in die outydse 1960’s-romans.

Of jy proe-proe tee en skons onder akkerbome wat meer as een eeu al sien kom en gaan het. Hulle groei vry en dominerend oor grasperke wat tot teenaan ’n swembad en konferensie-fasiliteite strek.

Geen elektriese omheinings wat aan die natuur ’n doringdraad-raam gee, of slotte wat Afrika afsper nie. Alles is oop en veilig.

Hier in die kroeg kan daar mos lekker gekuier word.Foto: Werner Klopper

Vertoef ’n bietjie langer

Indien jy langer as net ’n Saterdagaand, wat uitmond in Sondagoggend, wil vertoef, lok Die Wieg van die Mensdom by Maropeng jou daar naby. Skaars 15 km van die lodge af wink die herkoms van die mens. Hier is ’n kop-aan-die-brand-steek-museum waar dit voel of jy in ’n wêreld van skynwerklikheid verdwaal. Dit is hipermodern – geen stowwerige of tam interieur met ’n duisternis kopkrapfeite nie. Elke brokkie inligting word op ’n toeganklike wyse met jou gedeel. Dit is veral kop-rats vir kinders wie se vingertjies net gewoond is aan selfoon-afkortings en rekenaars.

Dit is lieflik om in die tuine te gaan stap en diep asem te haal.Foto: Whispering Pines

Buite is bokke, vlakvarke en ander diere wat die grasvelde peinsend bespied sonder die gevaar van roofdiere. Daarom kan jy jou buite tuismaak tussen hulle, of jy kan jou in die museum begewe, met ’n dodo oor sy herkoms argumenteer, of jou aan aapmense verwonder wat vir die eerste keer leer regop loop het.

Maar dit is die prikkelende wyse waarop die menslike brein en diversiteit geïllustreer word wat Google in die skadu stel.

’n Entjie laer af is die Sterkfonteingrotte met sy lippe-smak-restaurant, plus uitstekende gidse. Wees daarop bedag dat dit steil is en jy soms jou vashou en jou balans moet ken om die maksimum genot uit die besoek te put. Van die grotruimtes is groter as sommige filmsterre se ego’s, dus kan jy maklik daarin verdwaal!

Maar die lekkerste is om daarna terug na die lodge-kalmte te slenter-ry. Hier fluister die wind deur die dennebome vir jou: “Suurlemoen by jou jenewer en tonikum? En hoe groot moet die stompe in jou vuurherd vanaand wees vir lekker gesels?”

Met ’n buitengewone lekker spyskaart (daardie melanzane!) en kelners wat jou op die hande dra en aanmoedig om jou dieet in die onderste laai van jou geheue te bêre, is hierdie kersie bo-op die denneboom bobaas.

’n Soet fluistering wat jou aanmoedig om net te tjil.

Goed om te weet
  • Wieg van die Mensdom, skakel 014 577 9000.
  • Die Sterkfonteingrotte, skakel 014 577 9000.
  • Die Maropeng-Hotel, skakel 014 577 9100. of stuur e-pos aan info@maropeng.co.za.
  • Ander: die Heia-safariwildtuin, die Lesedi-kultuurdorpie, leeu- en renosterparke, warmlugballonritte.
  • Vir meer inligting oor Whispering Pines, besoek www.whisperingpines.­co.za of skakel 014 577 5901/2/9. Whispering Pines is geleë op die Vaalbankplaas, Rietpoort, Magaliesburg. As julle ’n groter groep is, bespreek gerus die Hilltop House op ’n heuwel met sy vyf kamers en slaapplek vir 11 mense.
Meer oor:  Koster  |  Magaliesburg  |  Whispering Pines  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.