Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rustig in ’n verborge paradys

The Hidden Valley doen sy naam gestand. Dié verborge juweel, net buite Hoedspruit in Limpopo, is langs die Blyderivier versteek en omring deur natuurskoon.
wegbreek
Met een van jou staptogte kan jy langs die oewers van die Blyderivier mediteer. Foto’s: Dale Williams

Op pad na die bestemming word jy omhels deur die geur van sitrusvrugte vanweë die sitrusplase in die omgewing.

Vanaf die afdraai op die R527 is dit ’n 15 minute-grondpad voor jy by The Hidden Valley aankom. Frans en Louise Botha, eienaars, wag jou spesiaal in – gedurende jou verblyf gaan hulle uit hul pad om jou welkom te laat voel.

Of jy nou ’n familiewegbreek in gedagte het, jou geliefde wil bederf met ’n romantiese naweek, of sommer net asem wil skep en weer jou battery herlaai, is dit die ideale bestemming.

Daar is baie wateraktiwiteite, onder meer om op ’n buiteband op die rivier te dryf.Foto: VERSKAF

As jy boonop van onopgesmukte, private verblyf hou, gaan dit voel asof jy by ’n paradys aangekom het. Lees ’n lekker slapband-misdaadriller onder een van die mingerhoute of huilboerbone langs die rivier se oewer. Hier is ook niks selfoonsein of televisie nie (hoewel die houthutte WiFi het), wat jou toelaat om van die buitewêreld te ontsnap.

Die hutte – wat eintlik ruim houtkothuise is – skuil tussen ’n woud massiewe bome en elkeen het ’n rivieruitsig. Die hutte is ook almal en suite, met die kombuis wat buite op die dek is.

Daar is ook braaigeriewe – jy het die keuse om ’n vleisie oor die kole te gooi of op ’n Weber. By die vuurpit kan jy agteroorsit en kyk hoe die kinders malvalekkers braai, terwyl die gloeiende spikkels van vuurvliegies in die rivieroewerwoud rondom jou flonker.

Dis die enigste twee hutte op die Blyderus-reservaat, wat vir besoekers privaatheid bied. Hier is dit net jy, die rustigheid van Moeder Natuur en die wildernis wat sommer so reg op jou voorstoep is.

Albei hutte het ’n lieflike uitsig oor die Blyderivier.

Van stap tot rivierdobber

As jy op jou houthut se stoep wil sit met ’n misdaadriller en vir bloukuifloeries tussen die bome se blarekrone soek, is dit reg. Maar bring ook jou bergfiets en stapskoene saam – hier is beslis nie ’n tekort aan aktiwiteite nie.

As jy graag stap, is daar ’n reeks roetes wat jy self kan aandurf, selfs al is jy ’n bietjie onfiks. As ’n gereelde stapper het ek glad nie die staproetes moeilik of uitputtend gevind nie. Meer avontuurlustige gaste kan hul eie pad volg en voetslaan deur die reservaat. Stap net langs die Blyderivier en weet dat die 5 km-roete jou langer as gewoonlik sal neem. Jy gaan kort-kort stop en jouself aan die natuurskoon rondom jou verwonder. Daar is ’n 5 km lange strook van Laeveldse rivieroewerwoud wat deur die reservaat loop. Miskien sien jy ’n skugter duiker wat in die ruigtes verdwyn, of ’n kameelperd wat na kos bo-in ’n doringboom soek. Jy kan ook die reservaat per fiets verken.

Met die Blyderivier wat daardeur vloei, is dit ’n wonderlike plek om in die somer van die Laeveldse hitte te ontsnap. Ná jou staptog kan jy ook afkoel in die helder, skoon rivierwater. As die watervlak dit toelaat, kan jy roei met ’n kajak, of teruggeneem word na jou kinderdae en op ’n binneband al langs die vlakwaters afdryf. ’n Mens raak sommer nostalgies.

Hengelaars kan ook hul lyne hier natmaak en geelstert of karp uit die waters trek. Indien jy van jou toerusting by die huis vergeet het, kan die Bothas jou ook uithelp. Daar is bergfietse, kano’s, kajakke, binnebande en selfs visstokke wat besoekers kan benut.

Is jy ’n voëlkyker?

Skaars spesies soos watertrappers en vis­uile is al binne die reservaat aangeteken. Visvangerspesies, soos die helderblou bosveldvisvanger, fladder van tak tot tak, en in die aande hoor jy die spookagtige gekoer van ’n Afrika-naguil.

Met die dag van ons vertrek het ons goed hondehartseer gehad – ek wou nie weer huiswaarts keer nie. Dis ’n plek wat jou, nadat jy dit die eerste keer besoek het, weer en weer sal terugroep. In jou kop maak jy reeds sommetjies oor langnaweke en ekstra afdae, sodat jy weer na dié unieke wegsteekplekkie kan ontsnap.

Só lyk die verblyf:

Die kombuis is buite op die dek.

Elke selfsorgeenheid het ’n dubbelbed en ’n enkelbed in ’n ruim slaapkamer, met ’n en suite-badkamer met ’n stort en ’n bad.

Die eenhede is ten volle toegerus met alles wat jy vir ’n selfsorgwegbreek benodig.

Die toegeruste kombuis is buite op die dek en albei hutte het ’n lieflike uitsig oor die Blyde­rivier. Die hutte se dekke is die perfekte plek om saans ’n glas wyn te geniet, of in die oggende wakker te word met ’n koppie boeretroos, terwyl jy kyk hoe die voëls in die water baljaar. Daar is selfs ’n Nes-presso-masjien vir koffiesnobs.

Waar:

The Hidden Valley is geleë in die Blyderus-wildreservaat, sowat 30 km of 45 minute se ry van Hoedspruit. Dis ook ’n lekker afslaanplek op pad Krugerwildtuin toe. Dis sowat 80 km van die Orpen-hek en 100 km van die Phalaborwa-hek.

Die plek is ook dierevriendelik. Goedgemanierde honde is welkom wanneer daar vooraf met die Bothas gereël word.

Koste :

Pryse beloop R1 200 per hut per nag met ’n minimum van twee nagte se verblyf. Daar is ook ’n spesiale middel-van-die-week-aanbod: Bespreek twee nagte gedurende die week en kry een nag gratis.

Die aanbod sluit nie Vrydae, Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae in nie.

Besoek thehiddenvalley.co.za vir meer inligting, stuur ’n e-pos na infothehiddenvalley@gmail.com­ of stuur ’n Whats­App na 064 636 9311.

Raymond Willemse was ’n gas van The Hidden Valley.

Meer oor:  Raymond Willemse  |  Wegbreek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.