Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Ry trein, dis doepa teen die pandemies
Die Shosholoza Meyl staan reg op Kaapstad-stasie.

’n Treinrit is soos ’n medisyne wat jou vir ’n oomblik van al die siektes van ons tye laat vergeet. Dis ’n ‘kapsule op wiele’, skryf Peet Steyn.

"Ons” en ander mense op die trein.

As ek die groot reisskrywer Paul Theroux sommer so uit die heup kan aanhaal, is trein ry iets waarop mens nogal ’n kans kan waag, ’n paar rand kan wed. ’n Trein, sê hy, bied jou die grootste kans op ontsnapping met die kleinste risiko om te misluk. ’n Middel om jou so bietjie verligting van die alledaagse te gee. Deesdae se alledaagse is lankal nie meer ’n jaar en ’n bietjie terug se alledaagse nie. Daar is ook steeds nie ’n pil ontwikkel vir dié nuwe toedrag van sake nie. Op gesondheidsvlak weet ons nie waar ons staan nie, aan die politieke front is ons besig om deur die 36ste brander van die pandemie van korruptiewe dienste te beur. Meeste van ons het net so bietjie verligting en ontvlugting nodig voordat ons weer die virusse die stryd aansê. “Medikasie” wat jou net so bietjie kan help vergeet of ten minste kan help onthou hoekom jy in die eerste plek in die geveg betrokke geraak het. ’n Lekker sterk pil, iets soos ’n kapsule op wiele.

Daai “ons”
Patrick Khumalo, bestuurder van almal op die Shosholoza Meyl se welstand.

“Ons is jammer om te vra, maar kan u asseblief dalk reeds om half sewe by die stasie wees, ons wil graag aan die lyne werk en wil vroeër as die afgespreekte tienuur vertrek na Johannesburg, Ons is jammer vir die ongerief.”

Ek het lankal reeds geleer dat as die man aan die anderkant van die foon na homself as “Ons” verwys, is hy besig om namens iemand te praat wat die bal laat val het, daar is geen skulderkenning in die naam Ons nie. Ek verseker vir Ons van Onselen dat dit geen probleem sal wees nie en dat ek met graagte my vertrektyd sal aanpas. Ek wil nie dié trein mis nie. Daar is te veel wat reg kan loop op ’n 26 uur-reis deur ’n groot gedeelte van die land. Die reis kan dalk 36 uur neem, jy kan met vreemdelinge praat, jy kan lees, rondloop, stort, by die venster uitstaar, slaap en selfs toilet toe gaan. Jy kan tot piekniek hou en wyn drink in jou kompartement. Dit word selfs deur “Ons” oor die telefoon aanbeveel. Sedert die eetwa en kostrollie afgehaak is weens Covid-19, is dit elke reisiger se maag vir homself en die duiwel vir die res.

Die kapsule se bestuurder en masjinis
Die Same-familie op pad na ’n nuwe lewe in Gauteng.

Ek’s betyds daar en die trein staan en wag reeds op die Kaapstadse stasie, pragtig in geel, pers en turkoois met Shosholoza Meyl in vet letters op die kant van die wa. My kapsule se naam is C9. ’n Twee-slaper ter waarde van R690 waarin ek alleen as een gemaskerde, koors-gemete persoon mag reis weens voor die hand liggende redes.

“Mag ons darem oor en weer kuier en gesels?”

‘‘Solank al die reëls van afstand en masker en reiniging gerespekteer word, is almal op die trein vryburgers om te doen soos hulle goeddink,” haal Patrick Khumalo sommer die “Ons”-is-jammer-vir-die-ongerief uit treinry uit. Net om seker te maak dat ek besef wie pa staan vir die reisigers op dié trein, skuif hy my dadelik na ’n ander kompartement toe hy oplet dat die elektriese punt in C9 nie werk nie. Dit het Patrick 37 van sy 61 jare gevat om van tuinwerker in 1984 deur die gange en kantore van “Ons” tot kompartementbestuurder te vorder. Nog ’n paar jaar, dan tree hy af en gaan terug Newcastle toe waar hy grootgeword het.

Leeu-Gamka, waar die kinders bedel by die trein.

Die fluitjie blaas, die trein ruk en pluk en die sinjale klap en kraak en Tafelberg lê sommer gou agter die drie-lokomotief-en-12-wa-trein. Nie so gou as wat ’n mens sou wou nie, meen die masjinis, “Dave die drywer”. Soos Patrick die bestuurder is en na ons almal op die trein se welstand omsien, is Dave die drywer. Daar is ’n verskil tussen dryf en bestuur. Patrick bestuur almal se welstand en Dave dryf die trein.

Dave is die man agter die stokke en meters en horlosierige goed in die heel voorste van die drie lokomotief-kapsules wat sorg dat almal kan ontspan en die kapsules beweeg. Met amper 9 000 perde se krag in die drie blou lokomotiewe moet jy weet wat jy doen. Dave weet, sê hy, hy doen dit al vir baie lank.

“Dit is die magtigings wat ons spoed breek,” sê hy terwyl hy met die trein onder sy arm by die venster uitloer. ’n Mens wil nie te veel weet oor die geheime taal nie, want jy is hier om vir ’n wyle te vergeet. Ek vra dus nie uit nie, maar ek besef gou dat magtiging die antwoord is op die som van gesteelde kabels en staan en wag. Ná wat ek aanneem ’n paar magtigings was, is ons uiteindelik drie tonnels later deur die Hexrivierberge.

Stemme in my kop en die Karoo
Die stemme in my kop, Michael en sy familie al singend op pad na sy ma se begrafnis.Foto’s: Peet Steyn

Op die perron in Beaufort-Wes met die maan amper vol bo die stasie, rek almal ’n bietjie bene en staan rond terwyl daar oorgeskakel word na diesel-werkesels om ons verder te vat.

Ek spoor uiteindelik die a capella-stemme in my kop op. Met so ’n maan in die Karoo kan jy jou enigiets verbeel en in jou eie gesonde verstand begin twyfel. Die stemme is toe nooit in my kop nie. Dis al die tyd Michael, sy tannie en sy twee niggies in 9A, drie kompartemente in die gang af. So al singend deur die magtigings en ander werklikhede van ’n trein deur die Karoo, is hulle op pad om sy ma te gaan begrawe op Warrenton aan die Vaalrivier in die Noord-Kaap.

“Nee wat, alles is reg dankie,” aanvaar hy my ontydige, misplaaste medelye met ’n glimlag agter sy masker en ’n Bybel onder sy arm. Later, half deur die slaap, iewers op ’n magtiging tussen die Oranjerivier-stasie en Warrenton, hoor ek die laaste keer die stemme agter die maskers en probeer ek die name opnoem van al die verlate stasietjies waar die trein lank­al nie meer stilhou nie. Dis soos die kinders wat bedel by Leeu-Gamka-stasie se gesigte. Ons het hulle lankal vergeet.

As jy eers die drie tonnels deur die Hexrivierberge deur is, is jy in die Karoo.
So deur die trein se venster, is Karoo-tonele jou skildery.
Dave is die man agter die stokke en meters en horlosierige goeters voor in die lokomotief.

Die mense op Warrenton kan maar mooi aantrek, dit gaan ’n pragtige begrafnis wees met minstens vier mense wat noot kan hou.

Met ’n bloedrooi son in die ooste loop ek in die trein se gange en soek geselskap. Ek is op pad na die sitters-klas se kapsules. Is dit dan nie hoeka onder in die Titanic waar Rose DeWitt Bukater, beter bekend as Kate Winslet, die beste geselskap gevind het nie?

Ek hou my voorbarig en knoop ’n gesprek aan met Nodume Same en Daniel Tiyo. Dis meer van ’n getik as ’n gesels. Albei is doofstom. Met die oor en weer aangee van ’n tablet soos ervare Egiptiese skribas hoor ek hul storie.

Nodume is op pad na ’n nuwe werk in Gauteng en die hele familie gaan saam. Sy stel my aan al die kinders voor. Die tweeling Maya en Kwandiwe, dan Zizo en die twee weke oue Zimbini, vas aan die slaap toe gewoel in ’n dik kombers onder haar ma en pa se stoele.

’n Holte, ’n skuilplek
Leeu-Gamka, waar die kinders bedel by die trein.

Op Klerksdorp kom die magtigings nie meer deur nie, daar is te veel kabels gesteel en die trein wat ons nog vir net ’n wyle moes help vergeet, gaan nie verder gaan vandag nie. “ ‘Ons’ gaan ’n bussie stuur,” sê die man wat namens die trein praat. Die bussies het gekom en almal opgelaai en gaan aflaai waar hulle wou wees, al was dit baie later as belowe. By Park-stasie in Johannesburg vat ek die luukse Gautrein, ’n kapsule in eie reg wat jou alles kan laat vergeet, waarheen jy op pad is en wie jy nou weer is.

Maar ek onthou tog vir Zimbini waar sy gelê en slaap het, salig onbewus van die gevare en dinge daar buite, veilig in haar tydelike kapsule op wiele.

Die Amerikaanse skrywer E.B. Wright was volgens Theroux in The Tao of Travel reg. In mý oë, skryf hy, is ’n stapelbed op ’n trein die perfekte lêplek, perfek in konsep en uitvoering. ’n Klein holte in die nag, ’n sagte skuilplek teen ’n harde wêreld.

’n Lang reis op ’n trein, selfs met ’n menigte magtigings, is ’n tonikum wat ek kan aanbeveel. Of die Shosholoza Meyl nog daar gaan wees vir verligting in die toekoms sal net “Ons” weet.

Meer oor:  Treine  |  Pandemie  |  Shosholoza Meyl  |  Covid-19  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.