Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
SA bied van héél bestes

Morukuru Family Beach Lodge in die De Hoop-natuurreservaat is deur Condé Nast Traveler aangewys as die beste oord in Suid-Afrika.
Ses Suid-Afrikaanse lodges het die internasionale reispublikasie Condé Nast Traveler se gesogte lys van topbestemmings in die wêreld gehaal.

Die Morukuru Family Beach Lodge in die De Hoop-natuurreservaat tussen Bredasdorp en Witsand in die Wes-Kaap het boaan die plaaslike lys geëindig en agtste wêreldwyd. “Ons is absoluut verheug en trots om vereer te word as die beste oord in Suid-Afrika, dit net twee jaar nadat ons ons deure oopgemaak het,” het Ed Zeeman, eienaar van Morukuru gesê.

Hy vertel een van die grootste uitdagings was om ’n lodge te skep wat sonder elektrisiteit klaarkom, sonder om enige luukshede prys te gee.

Condé Nast se lesers vertel daar’s oorgenoeg om te doen en bergfietse, sandborde, snorkeltoerusting en duikpakke wat jy enige tyd mag gebruik. Die teleskoop op die dak waarmee jy na die sterre kan kyk, is ook ’n hoogtepunt.

Tariewe vir ’n nag by Morukuru begin by R3 750 per persoon. (Morukuru.com)

Singita Boulders Lodge se swembaddens kyk uit oor die bos.
Die ander lodges op die lys is:

Singita Boulders Lodge in die Sabi Sands-wildreservaat aangrensend aan die Krugerwildtuin is in die 17de plek. Elke kamer het sy eie plonspoel op die stoep van waar jy kan wild kyk en hul eksklusiewe wynversameling is net so deel van die ervaring as die Groot Vyf. Pryse begin by R33 370 per persoon per nag (pppn) wat deel. (Singita.com)

Die Lion Sands Game Reserve se lodges op die Sabierivier, ook in die Sabi Sands-wildreservaat, is in die 33ste plek. Jy sal minstens R13 305 pppn wat deel betaal. Besoek Sabi-sands.com en klik op “Special Offers” vir spesiale aanbiedinge wat onder meer gratis verblyf in Kaapstad of by die Victoriawaterval insluit.

Die Tintswalo Safari Lodge in die Manyeleti-wildreservaat, aangrensend aan die Krugerwildtuin, is 43ste. Tariewe begin gewoonlik by R11 985 pppn. Besoek Tintswalo.com en klik op “Promotions” vir spesiale aanbiedinge wat onder meer ’n driedag-stapsafari teen R21 000 insluit. Jy stap, maar slaap in die luuksheid van die lodge.

andBeyond se lodges in die Phinda-wildreservaat in die noorde van KwaZulu-Natal is 44ste op die lys. Dié reservaat beslaan byna 30 000 hektaar en huisves die Groot Vyf, maar is veral bekend vir sy jagluiperds en swartrenosters. ’n Nag by die lodges begin by R8 265 pppn.

Beste van die beste

Condé Nast se lesers reken L’Horizon Resort & Spa in Palm Springs, Kalifornië, is die beste oord om by vakansie te hou.

Dié woonhuis en 25 buite-eenhede is in 1952 gebou as ’n wegbreekplek vir die Hollywood-vervaardiger Jack Wrather. Hy was bekend vir sy werke Lassie en The Lone Ranger. Intussen is dit omskep in ’n boetiekhotel met ’n spa en opelugrestaurant. Hier ervaar jy luukses soos min, die kamers het byvoorbeeld nie nommers nie, maar plaatjies gegraveer met die huidige vakansiegangers se name.

’n Nag hier begin by R7 500 per persoon en die wat weet sê jy moet vra vir ’n eenheid wat wes kyk, sodat jy vanuit jou buitestort kan sien hoe die son ondergaan oor die San Jacinto-berge.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.