Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Sagte sand en warm water

    Die Seychelle is ’n plek waar jy nié teleurgesteld sal wees omdat jou verwagtinge afsteek teen die werklikheid nie, skryf Landi Slatter.

    The Luxury Travel Expert het die Anse Source d’Argent-strand op die Seychelles vanjaar as die mooiste ter wêreld aangewys. Foto: iStock

    Dit is met goeie rede dat mense soos prins William en hertogin Kate dié eiland-land as hul wittebroodbestemming gekies het.

    Dit is ook nie nét omdat die Anse Source d’Argent-strand vanjaar as die mooiste ter wêreld aangewys is deur The Luxury Travel Expert nie – dit is ook danksy die mense se omgee-kultuur.

    The Luxury Travel Expert het die Anse Source d’Argent-strand op die Seychelles vanjaar as die mooiste ter wêreld aangewys. Foto: iStock
    Die strande is regtig iets om hoor huis toe te skryf.Foto: Landi Slatter
    Die sonsondergang op ons laaste aand.

    Op die 115 eilande waaruit die Seychelle bestaan is daar meer Aldabra-reuseskilpaaie (tot 150 000) as mense. Die totale bevolking, meestal Katolieke, is sowat 100 000.

    Die grootste eilande is Mahé, Praslin en La Digue. Victoria is die kleinste hoofstad in Afrika.

    Nie een strand in die Seychelle is privaat nie, want inwoners moet ook hul land kan geniet.

    Seybrew-bier is ’n plaaslike gunsteling.
    Slaai by die Kempinski Seychelles-oord.
    Die Arul Mihu Navasakthi Vinayagar-tempel in Victoria.
    By dié mark kry jy toeriste en plaaslike inwoners gemeng, almal op soek na die dag se winskopies.Foto: Landi Slatter

    Plastiek is verbied (jy sal nie ’n plastieksak in ’n supermark kry nie, hulle gebruik lapsakke) en dis nie vreemd om drankies deur ’n pastastrooitjie te nuttig nie.

    Een aand op pad na ’n strandkroeg op Beau Vallon, waar die stalletjie-eienaars besig was om op te pak, kon ek nie anders as om op te let dat daar nie ’n enkele papiertjie of ander gemors op straat lê nie. Waar die asblikke té vol geraak het, is gebruikte kokosneute en straatkoshouers netjies langs die asblikke opgestapel.

    Selfs die inwoners groet almal vriendelik, nie net diegene wat iets aan jou wil smous nie.

    Vars haanknorders (Grunters) te koop.Foto: Landi Slatter
    Visse van alle kleure en geure wag by die ingang van die mark. Foto’s: Landi Slatter
    Groente en vrugte is spotgoedkoop by die mark.Foto: Landi Slatter
    Byna oral waar jy gaan kan jy ’n vars kokosneut koop.Foto: Landi Slatter
    Die stekelrige komkommers word in slaai gebruik.Foto: Landi Slatter

    By die gewilde varsproduktemark Sir Selwyn Selwyn-Clarke in Victoria, hoofstad van die hoofeiland Mahé, voel jy nie soos ’n indringer-toeris nie. Jy kan rustig hier verby die rye en rye vars haanknorder en papegaaivisse wat vanoggend gevang is, stekelrige komkommers, vars kokosneute en speserye loop.

    Gepraat van kokosneute, geen reis na die Seychelle is voltooi sonder ’n besoek aan die Vallée de Mai-reservaat op Praslin-eiland nie.

    Hier is “Little Ben” in die besigste straat in Victoria.Foto: Landi Slatter
    Coco de Mer in haar verskillende stadia by Valleé de Mai.Foto: Landi Slatter
    Gerookte marlynslaai by die Constance Lemuria-hotel.
    Ek kon nie weerstaan om voor dié uitsig te staan vir ’n foto nie.Foto:
    Sjokolademoussekoek, tres leches-koek, tiramisu en ’n pynappelkoek.
    Hierbinne word vloeistof gekook, gemeet en vermeng om op die ou end die gewilde Takamakarum te vervaardig.Foto: Landi Slatter

    In dié Unesco-wêrelderfenisgebied kom die coco de mer, die wêreld se grootste neut en een van die Seychelle se waardevolste uitvoerprodukte, voor. In dié woud was ek ook gelukkig genoeg om ’n rare swartpapegaai te sien vlieg tussen die boomtoppe.

    En dan is daar natuurlik die strande –spierwit, poeiersagte sand tussen jou tone en louwarm water. Op die Anse Lazio-strand in Praslin (die tweede grootste eiland) swem byna deursigtige visse met saffierblou rande sommer hier om jou voete.

    Vir die wat bereid is om ’n ent te swem om te gaan snorkel rondom die kenmerkende granietrotse wat halflyf in die see staan, wag die mooiste onderwaterwêreld. Die eilande is natuurlik ook ’n paradys vir skubaduikers en diegene wat hou van diepseevisvang.

    Die Takamaka rumdistilleerdery het twee skilpaaie, Taka en MakaFoto: Landi Slatter

    As jy hou van lekker kos en kuier, moet jy in ’n hotel gaan bly wat ontbyt insluit. Mens weet nie waar om te vat en waar om te los nie, want die tafels kreun onder wavragte lekkernye soos wafels, pannekoeke, kase, konfyte, sjampanje en natuurlik ook spek en eiers.

    Vir aandete kan jy natuurlik vis (vars gevang), heerlike kerries, baie groente, slaaie met gerookte marlyn, papaja en basiliekruid verwag.

    Mengeldrankies met die plaaslike rum, Takamaka, is ook volop. ’n Mai Tai in ’n strandkroeg sal jou sowat SR160 (R170) kos.

    Dié bestemming is die moeite werd om voor te spaar. Wanneer jy jou vakansie beplan, voeg minstens drie dae by - ek kan jou waarborg jy gaan langer wil bly.

    Lekker aktiwiteite
    • Besoek die Takamaka-rumdistilleerdery vir ’n toer en proesessie. Dit sal jou SR150 (R160) kos. As jy dapper genoeg is, kan jy die witrum met 69% alkohol probeer. In die lughawe se belastingvrye winkel sal ’n liter Takamaka Coco jou SR290 (R314) uit die sak jaag. Dis ’n lekker geskenk vir vriende by die huis.
    • Besoek die Vallée de Mai op Praslin. Hiervoor sal jy ongeveer 20 minute in ’n 18-sitplek-vliegtuigie tussen die eilande moet vlieg. Dit kos SR350 (R379) vir persone ouer as 12.
    • Gaan op ’n toer van Victoria, waar jy “Little Ben” sal sien en ’n yskoue Seybrew-bier kan drink in die restaurantjie bo die mark.
    • Pak jou stapskoene in, die Seychelle bied ongelooflike staproetes.

    Die hotelle

    Pryse verskil afhangend van pakkette en seisoen.

    Savoy Seychelles Resort and Spa in Beau Vallon

    ¦

    Prys: Vir ’n standaardkamer in die vyfsterhotel met ontbyt ingesluit sal jy R5 229 per nag betaal.

    ¦

    Wat maak dié hotel uniek? Dit is op Beau Vallon-strand en naby heerlike plaaslike restaurante en strandkroeë. Besoek www.savoy.sc.

    Avani Seychelles Barbarons Resort & Spa

    ¦

    Prys: Vir ’n kamer vir twee wat op die see uitkyk in die viersterhotel sal jy gemiddeld R4 525 per nag betaal, buffetontbyt ingesluit.

    ¦

    Wat maak dié hotel uniek? Dit is ’n kleiner, stiller hotel met slegs 124 kamers en suites. Besoek www.avanihotels.com

    Eden Bleu Hotel Seychelles (vierster)

    ¦

    Prys: ’n Standaardkamer met ontbyt ingesluit sal jou R6 190 kos.

    ¦

    Wat maak dié hotel uniek? Die hotel is op die “Suid-Afrikaanse Eiland”, waar die meeste eiendomme deur Suid-Afrikaners besit word en deur die jaar uitverhuur word.  Besoek www.edenbleu.com.

    • Landi was ’n gas van Air Seychelles en die Seychelle-toerismeraad om hul nuwe Airbus A320NEO se eerste vlug mee te maak. Air Seychelles bied daagliks vlugte tussen Johannesburg en die Seychelle aan.

    Meer oor:  Seychelle  |  Besoek  |  Eiland
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.