Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Saligheid bo-op berg

Jare al jaag sy op die N7 verby Koringberg, dan Piketberg, op met die pas na Citrusdal. Min wetende dat daar bo-op die bloupers Piketberge ’n vooruitstrewende plaasgemeenskap is waar van ons land se beste vrugte en blomme vandaan kom. Dié keer het Maryke Roberts afgetrek.

Bo-op die Versfeldpas trek ons van die pad af. Ver onder is die wêreld een groot oker, vaalgroen en roesbruin lappieskombers. Foto’s: Clifford Roberts

Wanneer jy teen die kronkelende Versfeldpas uitry, kan jy jou nie indink dat dit vanjaar al 130 jaar gelede is dat die pas se bouwerk begin is nie. John Paulus Eksteen Vers­feld is die man agter dié pas.

Hy het in 1867 die plaas Langeberg bo-op die berg gekoop. Hy is gewaarsku dat die lewe op die berg bitter swaar sal wees en dat hy en sy gesin grotendeels van die buitewêreld afgesny sal wees. Hy en sy vrou en twee klein dogtertjies het egter teen almal se beterwete hul intrek op Langeberg geneem.

Die naaste dorpie, Piketberg, is maar skaars 30 jaar tevore aan die voet van die berg gevestig, toe goewerneur Benjamin D’Urban die Grotefonteinplaas aan die kerkraad gegee het.

Molly D’Arcy Thompson skryf in haar boek Forgotten Corners of the Cape dat John hoog bo-op die berg gesit het met sy pyp en planne beraam het hoe om ’n pad bo van die berg af te bou, om die lang reis te perdekar aan die ander kant van die berg, verby die Goedverwacht-sendingstasie, uit te sny.

In daardie stadium kon jy net te perd teen die berg af en is spaarperde saamgery as ’n nuwe baba op Piketberg gedoop moes word, terwyl die babas en kinders teen die steil berg afgedra is.

Hy het besef dat haarnaalddraaie die enigste manier is en het in 1889 met 20 arbeiders aan die werk gespring. Alles is met die hand gedoen. Die waens met hul span osse was te lank om skerp te draai, en draaie is dus gewoonlik in die vorm van ’n 8 gedoen, het ek tydens my besoek by ’n grysaard gehoor.

Ons stap oor na die bakkie van Marika Ince van Bugler’s Post waar emmers vol Ayoba Arctic Ice proteas mekaar verdring. Sy is die tweede geslag op die plaas en hulle voer al vir sewe jaar proteas uit.Foto:

Min mense weet dat Piket-Bo-Berg een van die land se vernaamste produsente van boegoe, vrugte, neute en proteas is en dat baie hiervan aan John te danke is, wat meer as 100 jaar gelede begin vrugtebome aanplant het.

Onder die wakende oog van een van sy seuns is boegoe en tee ook later daar aangeplant.

Jy kyk na die Piketberge en kan jou nie indink dat daar ’n hele gemeenskap op die platter gedeelte bo-op die berg woon nie. Of hoe John ook ’n grondpad na die Goedverwacht-vallei aan die ander kant van die berg gemaak het nie.

Die gemeenskap van Piket-Bo-Berg sit as ’t ware hoog en droog op die spits van die bergreeks, bykans 690 m bo seespieël.

Bo-op die Versfeldpas trek ons van die pad af. Ver onder is die wêreld een groot oker, vaalgroen, roesbruin lappieskombers.Foto:
Vir soveel jare jaag ons op die N7 verby, tot die wonderlike gemeenskap van Piket-Bo-berg aan ons bekend word.Foto:

Die pad tot op die berg

Die huidige pad is in 1958 voltooi, nadat die pas twee maal herbou is sedert Vers­feld daar klaargemaak het.

Ons wil gaan verken en bespreek twee nagte by die Hebron-gasteplaas. Daar is geen ander pas behalwe Versfeldpas af na Piketberg toe, en die Januariesfonteinpas af na Goedverwacht toe nie.

Dit is Piket-Bo-Berg se grootste aantrekkingskrag – dit is nie ’n deurvloei-area nie.

By die kruising tussen Elandsbaai, Lambertsbaai en Piketberg aan die voet van die pas, staan ’n trop Nguni’s en ’n paar Ankole-beeste, met hul reuse-horings, rustig aan’t herkou in die veld. Dit lyk nie of die fel somerson hulle pla nie.

Jy kan nie help om te lag as jy die bordjie vir Somersverdriet sien nie en neffens dit staan ’n bloukraanvoëlpaartjie en hul kuiken met hul pootjies in die koel damwater nie.

Jy wil amper oor die draad klim en saam met hulle gaan lafenis soek.

Bo-op die Versfeldpas trek ons van die pad af. Ver onder is die wêreld een groot oker, vaalgroen en roesbruin lappieskombers. Jy sien die donkergroen rytjies bome wat plaasgrense en begraafplaas-blokkies aandui, wat kompleet soos growwe stiksels bo die landskap uitstaan.

Fietsryers kom minute later in die nou teerpad by ons verby en ek is amper jaloers dat hul naweek al vroeër begin het! Die jaarlikse Piket-Bo-Berg Cycle Challenge het menige fietsryer en stapper hierdie ongerepte gemeenskap laat ontdek.

Ons gashere op Hebron is Piet en Elmien Uys. Sy het vir ons ’n pragtige koek gebak en ons moet ons bedwing om nie die bagasie in die motor te los en eers die ketel aan te sit vir koffie en koek nie.

Hebron het selfsorggeriewe en behalwe die lekker swembadjies by elke huisie, is dit ’n bergfietsryer se droom en is daar ook staproetes en visvang- en voëlkyk-geleentheid.

Dis ’n gewilde troubestemming en ons is gelukkig om die ruim, groot huis vir onsself te kon kry, want daar is nie die naweek ’n troue nie.

Ons lek lippe af vir Dorothy Ungwin en Merle Dietrich van die Goedverwacht-sendingstasie se tuisgemaakte hoendersosaties.
Dawid de Koker draai die lipleklekker roosterkoeke en sosaties om.

Markdag op die berg

Saterdagoggend is ons vroeg op, op pad na die plaasmarkie. Daar is proteas langs die pad, eikebome, dennelanings, die duiwe koer vroegoggend in hierdie stukkie vergete paradys. ’n Blou trekker laai hooibale op. Ons ruite is oopgedraai, die koel bergluggie ’n welkome afwisseling van die vorige dag se hitte.

Dis nou tien jaar sedert Riëtte Bryant die mark op die laaste Saterdag van die maand daar op hul plaas, Kruisementvlei, hou. Lewendige musiek onder die ruwe paalstruktuur skep ’n feestelike atmosfeer.

Almal uit die omgewing bring iets om te verkoop. Kort-kort weerklink ’n opgewonde blaffie van ’n weeshondjie by die Adopt a Pet-stalletjie onder die koelteboom.

Daar is ietsie van alles: van handgevlegte besems tot potjies konfyt en bakkievragte vol proteas.

Ons kyk na die lieflike proteas waarmee Nelie Benjamin van Paul en Aniza de Villiers se plaas, Tamarak, doenig is.
Heerlike saamkuier in die koelte van die bome.Foto:
Daar is saligheid daarin om iemand dop te hou wat sonder die gejaag van die stad sy dagtaak voltooi.

Ons eerste stilhouplek is vir moerkoffie, maar dis klaar warm en Mercia Cronjé se yskoue gemmerbier wen die geveg.

Ons kyk na die lieflike proteas waarmee Nelie Benjamin van Paul en Aniza de Villiers se plaas, Tamarak, doenig is en koop sommer kweperlekkers soos my ouma gemaak het by haar.

By Dorothy Ungwin en Merle Dietrich van die Goedverwacht-sendingstasie, lek ons lippe af vir tuisgemaakte hoendersosaties en hulle belowe laggend dat dit binnekort oor die kole in ’n reuse-drom gebraai sal word. Ons moet solank iets anders kry om te kou!

Ons stap oor na die bakkie van Marika Ince van Bugler’s Post waar emmers vol Ayoba Arctic Ice-proteas mekaar verdring. Sy is die tweede geslag op die plaas en hulle voer al sewe jaar lank proteas uit.

Alettha Rust is die pannekoekvrou. Sy vertel dis ’n “gemeenskapsding om bymekaar te kom. Ons is nie mark-mense nie, maar hierdie markdae is ons social outing.”

By die broodstalletjie haak almal vas: Steve Oldroyd van Hebron in Citrusdal se brode is watertandlekker. Ons eet aan botterryke croissants soos honger wolwe.

Die Org de Rac- organiese wynplaas verkoop organiese olyfolie en mense bring hul eie bottels om vol te maak of kan van die klaargebottelde produkte koop.

Ons teug aan varsgedrukte granaatsap voordat ons aanstap. Elmien het ons vertel van Fei Watons se tuisgemaakte Chinese rolletjies, noedels en ander Asiese happies en toe die garnaalrolletjies uit die warm olie kom, staan ons weer in die ry!

By Gaby Levanon van Sababa Farm met al sy organiese produkte, koop ons plaasvars slaai en groente om saam met ons tjoppies oor die kole te geniet.

Seep, handgemaak met liefde.

Saligheid

Net voor 12:00 groet ons met ons armsvol blomme, brood, seep en lekkergoed. Terug op Hebron is die huis koel binne en buite op die groot stoep is verskeie kuierplekke.

Die saligheid van lees en dan wegdommel sonder enige paniek dat jy iets sal mis, is mos ware ontspanning.

Laatmiddag kuier ons in die swembad met ons gin en tonics. Dis reg langs die stoep se braai en die vlamme knetter gesellig, terwyl daar slaai en braaibroodjies gemaak word.

Drie jackrussells kom om die beurt kuier en kom sit geduldig by elkeen se enkels vir ’n kopvryf.

Die braaivleiskole is laataand uitgebrand, toe ons nog op die stoeptrappies onder die sterre na die naggeluide sit en luister.

Sondagoggend is ek eerste in die tuin met koffie en ’n homp brood van die markie. Daar is ’n wit bankie teen die groot akkerboom se stam. Ek wil hierdie stilte so diep moontlik indrink.

Daardie saligheid in ’n groen lushof bo-op ’n berg nogal, is iets wat my vir altyd sal bybly.

  • Piket-Bo-Berg Cycle Challenge & Trail Run is vanjaar vir die 10de keer gehou. Daar is ’n fietsren oor 12 km, 27 km, 37 km, 63 km en ’n padwedloop oor 8 km en 18 km. Besoek www.piketbobergtrails.com vir meer inligting. Die volgende een word op 5 September 2020 gehou.
  • Bespreek by Hebron Landgoed by Elmien Uys by hebron@afriplex.co.za.
  • Die plaasmarkie is elke laaste Saterdag van die maand van 09:00 tot 12:00 by Kruisementvlei-plaas. Kontak Riette Bryant by 022 914 5652 vir meer inligting.
  • Laai by www.piket-bo-berg.co.za/birdwatching ’n volledige voëllys af as jy die geveerdes van die distrik wil bekyk.

Meer oor:  Piketberg  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.