Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Selfde sjarme, net besig

Ná twee dekades reis Ilse Zietsman terug na Dubrovnik en vind ’n stad wat wêrelde verskil.

NOU: Dubrovnik loop nou oor van restaurante. Selfs die piepklein restaurantjie waarby ons destyds bier gedrink het, het uitgebrei tot teen die blou water. Foto’s: Ilse Zietsman

Dit was die jaar 2000. Twee van ons – ’n blondine en ’n brunet – het besluit om Oos-Europa te gaan verken vóór dié deel van Europa deur toeriste oorstroom word. Ons toerplan was soos volg: begin in Helsinki, Finland, en gebruik oorwegend treinvervoer tot in Turkye.

Veral die lokstem van Kroasië, ’n land waaroor toe nog min bekend was, en die dorpie Dubrovnik, het sterk geroep.

Toe dit nog stil en leeg was

Vanaf die hoofstad, Zagreb, ry ek en Phoebe met ’n bus – ’n regte ou skedonk – na Dubrovnik. Met die afklim loop Silvana ons tegemoet en vra of ons ’n kamer by haar en haar pa wil huur. Ja, ons wil baie graag!

Oor ’n Karlovacko-bier hang ons aan Silvana se lippe toe sy vertel hoe sy gedurende die Kroasiese onafhanklikheidsoorlog in die vroeë 1990’s by haar pa agtergebly het en hoe moeilik dit soms was om te oorleef.

Ons wil so graag nog verder luister, maar is net so nuuskierig om die klipvesting (sitadel) van Dubrovnik te gaan besigtig. Skaars oor die drumpel van die vesting is daar ’n klipfontein met yskoue water. Hoe lank sou dit al hier wees? Wie het al almal hul dors by dié fontein kom les? Ons kan maar net wonder.

Die Kroate het hul nuwe toekoms met albei hande aangegryp.

Namate jy in die Stradun, ’n breë, gladde, natuurlik gepoetste marmerloopgang afstap, is die meeste geboue netjies genoeg, hoewel daar koeëlgate in sommige te sien is. Net enkeles is bouvallig.

Aan die einde van die Stradun is twee kerke en ’n handvol restaurantjies. Weerskante daarvan loop die nouste stegies af waar piepklein restauranttafeltjies hier en daar staangemaak is.

Ons besoek verwonderd die Franciskaanse klooster waar ons monnike hoor sing. Dit moet wees soos hulle eeue gelede ook gesing het. Binne die klooster is Europa se derde oudste apteek wat nog in gebruik is. Die apteek dateer uit 1317.

Benewens die Franciskaanse klooster, loer ons ook in by ’n Dominikaanse klooster.

Albei kloosters het pragtige, swaar silwerwierookdraers en kandelare. Die wierookdraers word deur die priesters rondgeswaai as hulle deur die kerk loop.

Verder is daar min detail in die kerke, maar dit wat daar is, staan uit teen die wit klipmure: loodglasvensters, ’n Madonna-skildery, donker, vergulde ikone – en dan natuurlik die altare.

Ons eet seekatrisotto met seekat-ink by die Marco Polo-restaurant wat, soos heelwat van die ander restaurante, deur Italianers bestuur word. Die Italiaanse invloed strek van kos tot Italiaanse woorde en gewoontes. Die volgende dag eet ons op ’n dakterras met ’n lieflike uitsig. Dit herinner ons daaraan dat ons nog nie bo-op die stadsmuur reg rondom Dubrovnik geloop het nie.

Ons betaal ons toegang en stap reg rondom. Ons is pas klaar en kom af op ’n piepklein kroegie buite die stadsmure. Van daar kan jy in die water duik as jy die avontuurlustigste in die geselskap van twee is. Of jy kan kies om aan ’n koue Karlovacko te teug.

Toe ons Dubrovnik groet om na Zagreb terug te keer, neem ons plegtig ’n eed om terug te kom. Hoe lank dit ook al kan neem.

TOE: In 2000 het daar net ’n paar bootjies in die hawetjie van Dubrovnik gelê.
NOU: Vandag is die hawe gepak met seiljagte, plesierjagte, vissersbote en toeristebote.

Amper 20 jaar later

Dis bykans twee dekades later en ek is terug in die stad om weer op dieselfde voetspore te loop. Phoebe doen dieselfde, maar nie saam met my nie.

Hoewel ek ’n reisgeheue het wat my min in die steek laat, is Dubrovnik my een voor. Ek sukkel reg van die begin af om agter te kom hoe die strate loop. Dis net só ontwikkeld in vergelyking met wat dit was. Ek vind byvoorbeeld nooit waar die vis-en-varsproduktemark met my eerste besoek was, of naastenby waar Silvana en haar pa se huis was nie.

Met ons aankoms by die klipvesting se ingang gaan staan ek eers weer buite die stadsmure en wys vir Pieter (my man is hierdie keer my reisgenoot) hoe ’n mens selfs van hierbo elke klippie op die seebodem kan sien. Destyds was dit die eerste ding wat ek met my tuiskoms aan hom oorvertel het; synde ’n visskieter het ek geweet hy sou dit interessant vind.

Het jy my toe geglo? Kon jy dit vir jouself voorstel?, brabbel ek van voor af opgewonde.

TOE: Destyds het wasgoed oral gehang en gesorg vir kleurvolle kontras.
TOE: Amper elke stegie is in 2000 deur helderkleurige wasgoed opgevrolik.
NOU: Daar’s nie meer so baie wasgoed wat die stegies vol hang nie.
NOU: Daar’s nie meer so baie wasgoed wat die stegies vol hang nie. Foto:

Die gróót verskil is egter dat ek en Phoebe in 2000 die enigste twee mense was wat hier na die seebodem getuur het. Nóú is ons omring van toeriste.

Voor ons vaar ’n goudgeel kamma-duikboot verby waarop jy jou kroos op ’n vaart kan neem. Op die klippiestrand lê ’n ry kano’s wat flink uitverhuur word.

Tussen die hordes toeriste poseer Game of Thrones-karakters in kettingharnasse. Vir die oningeligtes (soos ek), Game of Thrones is ’n fantasiedrama wat in die Middeleeue afspeel, en dele van die reeks is in Dubrovnik geskiet.

Skaars binne die vesting sien ons dat in elke liewe onderste verdieping nou ’n winkeltjie, restaurant of kroeg gehuisves word. By Captain Candy staan lekkergoed hoog op wynvate gestapel, by die Razonoda-wynkroeg het die skemerkelkies verbeeldingryke name, Pizzeria Mea Culpa se kelners wink almal wat verbystap oorywerig nader, en om die draai verkoop kunsgalerye nuutgeverfde ikone.

Op kerktrappe sit mense bankvas, ’n bruid en bruidegom verskyn asof uit die niet en orals drom toeriste saam.

’n Deel van Dubrovnik se sjarme het dalk verlore gegaan, maar die res daarvan sal altyd behoue bly.

’n Mens verwonder jou selfs aan die marmerstrate waarop jy tree vir tree gee. Wie sou oor die eeue almal hier geloop het? Hoe het hulle gelyk? Wat het hulle aangehad?

TOE: Destyds was daar net enkele restaurante in die stad.
TOE: ’n Mens kon die oorlogskade in 2000 nog duidelik sien. Foto:
NOU: ’n Dramatiese foto-uitstalling vertel van die skade wat die aanvalle deur Serwië en Montenegro destyds in Dubrovnik veroorsaak het.Foto:
NOU: ’n Blik uit die bus op Dubrovnik deesdae soos ons van Montenegro se kant naderry.

Die piepklein kroegie

Ons skep asem by Soul Caffe & Rakija Bar in ’n agterstraatjie. Liewers nie rakija (vrugtebrandewyn) nie, keer ons.

Julle kan bly wees dis nog stil in Dubrovnik; die seisoen begin eers werklik oor ’n paar weke, sug die kelnerin. Ons sukkel om dit te glo, maar is heimlik baie bly.

Ek vind weer die piepklein kroegie. Dis nie meer so klein nie; om die rotse is nou plek-plek met sement opgevul sodat hulle nog sitplekke kon inrig. Daar is nou Coke op die spyskaart, nie meer net Pepsi nie. Darem ook skemerkelkies, wyn en bier.

Ek is ingenome toe ek die een kerkie ná die ander ontdek. Baie van dié kerkies was destyds toegespyker en meestal nie eens herkenbaar as plekke van aanbidding nie. Dit lyk ook of daar meer ikone en skilderye in die kerke teenwoordig is; dalk is dit tydens die oorlog in veilige bewaring geplaas, bespiegel ek.

’n Foto-uitstalling getiteld Ne Zaboravi! (Sodat ons nie vergeet nie!) dokumenteer die Serwiese en Montenegrynse aanvalle in die 1990’s op Dubrovnik. ’n Kunstenaar wat met ’n kombers oor sy skouers voor sy uitgebrande galery staan, gryp ’n mens aan die hart. Ek lees: Dié kunstenaar, Ivo Grbic, het alles wat hy besit het, insluitende sy private biblioteek en sy versameling oudhede én al die werk wat hy geskep het, in die sinnelose aanval verloor.

Volgens die uitstalling het die bombarderings op 6 Desember 1991 begin en tot in 1993 voortgeduur. Die Kroate praat nie graag oor hierdie tydperk in hul onlangse geskiedenis nie. Hulle volstaan daarmee dat almal nou in vrede leef, maar dat dit nie vergeet sal word nie.

Die Kroate het oor die algemeen hul nuwe toekoms met albei hande aangegryp. Dis nie net Dubrovnik wat in ’n toeristemekka omskep is nie. Die bewoonde eilande in die Adriatiese See raak jaar ná jaar al hoe gewilder.

Party Kroate gaan onverstoord met hul daaglikse lewe aan, ander grom oor die toeriste wat by hul deure inkyk en deur hul vensters loer, en nog ander gryp die geleentheid aan om ’n ekstra kuna, die plaaslike geldeenheid, deur die toerismebedryf te verdien.

Die stringe en stringe wasgoed wat bokant jou kop in die systraatjies van Dubrovnik gehang het, is deesdae maar yl. Die meeste plekke is omskep in ondernemings wat inkomste kan genereer. Dubrovnik spog selfs met ’n restaurant wat deur die Michelin-restaurantgids aanbeveel word: die Proto-visrestaurant.

En ja, die Marco Polo-restaurant waar ons twee dekades gelede seekatrisotto geëet het, is ook nog steeds flink aan die sake doen, hoewel aansienlik deftiger en besiger.

Die veranderinge wat ek gadeslaan, getuig van die herstel.

Kroasië en sy mense verdien ’n nuwe begin.

Koste toe (2000) en nou

Dubrovnik was destyds ’n spotgoedkoop bestemming, maar dis vandag darem steeds redelik bekostigbaar.

Verblyf

Toe: Verblyf per persoon per nag in ’n private kamer: R68

Nou: Verblyf in ’n Airbnb binne stapafstand vanaf die sitadel: R320

Aandete: Risotto met drie glase wyn

Toe: Minder as R100 per persoon

Nou: R350 per persoon

Wandeling op die stadsmuur

Toe: R9; Nou: R300

Hoe kom ek daar?

Daar is nie direkte vlugte uit Suid-Afrika na Dubrovnik nie. Die goedkoopste opsie is om met Qatar Airways via Doha en Athene of Rome na Dubrovnik te vlieg. Pryse begin rondom R9 900.

Meer oor:  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.