Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Skiereiland aan jou voete op die Kaapse Camino

Almal ‘ken’ die Kaap en sy beroemde skiereiland. Maar niks kom by die Kaap te voet nie. Om die Skiereiland só te verken, is ’n volronde, sensoriese ervaring.

Kommetjie, ’n branderplankparadys, se strand is vroegoggend nog verlate. Foto: Zarine Roodt

Die somerson brand witwarm op jou kop en ’n koel luggie waai onverwagse lafenis aan; jy snuif die subtiele geur van fynbos in; klam seesand wriemel tussen jou tone en skerp skulpies sny die sagte, wit vel van jou voetsool; die yskoue Atlantiese seewater slaan teen jou kuite op terwyl brandersang teen jou oordromme aandruis; ’n ongekende palet van blou omring jou, en jou oog keer weer en weer terug na die magiese berg se vorm; die aandster wink vanuit ’n donker wordende hemelruim.

Natuurlik stap jy ook op warm teer, met motors wat haastig verby raas en die binnestilte verdryf; daar is klimhoogtes en stelle trappe af op dae wanneer voete klop en kuite styf is. En daar is dae dat die bestemming, 20 km weg, onbereikbaar ver voel en die son ondraaglik is.

Boonop is jy aan die wisselvallige aard van die Kaapse natuur blootgestel soos op min ander wyses.

Aan die vooraand van ons staptog word ek deur ’n reënbui verras en toe ek by my blyplek aankom, knetter ’n gesellige kaggelvuur in die kuiervertrek – dít in die eerste week van Desember. Dit beteken dat ons reeds oorlaaide rugsakke skielik nóg swaarder word: Ons het gereken op Desember se fel hitte en het die ligste van stapklere gepak, met slegs ’n paar stapskoene en gemaklike sandale vir die aand. Ons moet onbepland reënjasse en warm goed vir die aand pak en inderhaas poncho’s of reënbedekkers vir die rugsakke koop.

Die Smitswinkel-tentkamp se gemeenskaplike boma- en braai-area. Besoekers moet voorraad saambring aangesien daar nie winkels in die nabye omgewing is nie. Foto: Zarine Roodt

’n Kaapse Camino

Die Cape Camino is op die eeue oue Camino de Santiago geskoei wat uit verskillende rigtings in Santiago de Compostela in Spanje tot ’n einde loop.

’n Ma-en-dogterspan het dié konsep in die Kaap gevestig nadat hulle dié staproete in 2011 gestap en sodanig daardeur geïnspireer is dat die ma, Ga­brielle Andrew, ’n paar maande ná haar terugkoms daaraan begin werk het, en haar dogter Peggy Coetzee-Andrew haar vier jaar later heeltyds by haar ma aangesluit het. Die Kaapse Camino, met ’n afstand van ongeveer 160 km, is in April 2015 amptelik bekend gestel.

Die roete vleg rofweg in die vorm van die oneindigheidsimbool deur die Kaapse Skiereiland. En ’n mens moet verstaan dat die Kaapse Camino ’n stedelike staproete is en nie ’n veldvoetslaanroete nie. Konseptueel is dit spesifiek daarop gemik om die Kaapse Skiereiland se hoogtepunte uit te lig. Gevolglik behels dié sirkelroete sewe bene, waarvan sommige verder uitkring. Die hele roete kan gestap word, met uitsondering van die deel oor Chapmanspiek.

Die laaste dag van stap: al langs die Atlantiese kuslyn, verby Llandudno op pad na die Twaalf Apostels. Foto: Zarine Roodt
Die Schoenstatt Rooms-Katolieke Retreat-sentrum in die Constantia-vallei waar dié staproete begin het. Foto: Zarine Roodt

Hoewel die roete aan die randgebied van die stad strek, is dit meestal weg van die hoofweë af en belig dit die allermooiste natuurtonele. En die name wat die organiseerders aan die onderskeie bene toegeken het, reflekteer die diversiteit van die skone Kaap, soos: Bergskadu; Wyn na water; Kaapse boegoe; Atlantiese hoogtes en sonsondergange; en Karbonkel – vir die bergpiek in Houtbaai wat deel is van die Tafelberg Nasionale Park.

Die Kaapse Camino werk op een van drie wyses: Jy stel jou eie staptog saam, sluit jou by ’n groep aan, of kies ’n pakket. Vir die eerste opsie beplan en bespreek jy jou eie staptog en vind self jou weg met behulp van die inligting wat op die Cape Camino-webtuiste as deel van die onderskeie roetes gelys word; jy ontvang ’n Camino-paspoort waarmee jy afslag kry by medewerkers, soos restaurante en verblyfplekke, asook ’n betroubare kaart.

Met die tweede opsie stap jy as deel van ’n groep op vasgestelde, vooruitbepaalde datums en ál die reëlings word deur die organiseerders getref.

Die laaste opsie bied pakkette aan wat oor ’n tydperk van een tot 12 dae strek, na gelang van die stappers se keuse en op die datums wat hulle verlang; al die reëlings word ook deur die organiseerders getref en die stappers word deur ervare gidse begelei, in die meeste gevalle uit die omliggende gemeenskappe.

Die Anglikaanse kerk van Sint Peter die Visserman in Houtbaai. Die kapel van Sint Peter is in 1896 opgedra. Foto: Zarine Roodt

Dié opsie bied ’n keuse van rugsakreisigers-verblyf of verblyf in gastehuise en die pakket sluit in die meeste gevalle ontbyt en aandete in, asook daaglikse vervoer van rugsakke van een punt na ’n ander.

Die pakkette wat deel van die laaste opsie is, sluit ook ’n Camino-paspoort en handleiding in, toegangsgeld soos nodig, vervoer oor Chapmanspiek (indien dit deel van die roete vorm), en laastens ’n Cape Camino-T-hemp.

In ons geval het ons groepie van vier ons eie pakket saamgestel en ses dae lank gestap. Die “amptelike” getal kilometers vir die tydperk was 88 km, maar gewoonlik stap ’n mens meer om by sekere plekke uit te kom, soos om vir aandete na ’n restaurant te gaan en so aan.

Ons het nie vir rugsakreisigers-verblyf kans gesien nie en gastehuise verkies waar ontbyt voorsien is; ons het ook nie van die amptelike vervoer van ons rugsakke gebruik gemaak nie en ons eie aandetes gekry – een heerlike voorbeeld is toe ons by ’n restaurant in Kommetjie vars geelstert weggeneem het en by kerslig op ons gastehuis se oordekte stoep geëet het, die see ’n sagte weerklank agter die sandduin wat voor ons uitgestrek lê.

’n Wolkespel op Kommetjie se strand. Foto: Zarine Roodt
Scarborough se strand bied ’n welkome verposing en die geleentheid om stapskoene uit te trek om aan moeë voete en seer blase aandag te gee. Foto: Zarine Roodt

Vat die pad

Ons roete het gestrek vanaf die Schoenstatt Rooms-Katolieke Retreat-sentrum, deur die Constantia-wynlande na Muizenberg; van daar deur Kalkbaai na Simonstad; van Simonstad af ’n korterige afstand na die Smitswinkel-tentkamp; van Smitswinkel af deur Scarborough na Kommetjie; van Kommetjie af strandlangs na Noordhoek, van waar ons oor Chapmanspiek vervoer is. Vanaf die voeten­ent van die ikoniese Chapman’s Peak-hotel in Houtbaai het ons strandlangs na ons verblyfplek gestap.

Op die laaste dag het ons van die Houtbaai-hawe af gestap verby Llandudno, deur Kampsbaai en Bantrybaai tot by Seepunt, en al langs Seepunt se promenade tot in Groenpunt, waar ons ons motor ’n week vantevore by ons gastehuis vir die laaste aand se verblyf parkeer het.

Benewens die natuurskoon, sonder die Kaapse Camino ook ons kulturele erfenis uit deur plekke uit te wys waar pelgrims kan aandoen. Voorbeelde is weggesteekte kramatte, ’n heilige Khoisan-grot en ’n labirint in die vorm van ’n walvis se stert en ander kulturele juwele wat vir die toeris en selfs motoris versteek is.

Dit is juis by plekke soos dié waar die spirituele aspek van die staptog sterk na vore tree.

Die verblyf-hoogtepunt van ons staproete was ongetwyfeld die Smitswinkel-tentkamp, wat deel is van die Tafelberg Nasionale Park en ook een van die verblyfopsies op die Hoerikwagga-roete. Die tentkamp met sy ses tweebedtente (en suite) en goed ingerigte kombuis- en eetarea is deur die bekende Makeka Design Lab in Kaapstad in opdrag van Sanparke ontwerp volgens streng volhoubaarheids- en ekologiese beginsels.

Padlangs na die weggesteekte Scarborough, ’n bewaringsdorp en voorstad van Kaapstad. Foto: Zarine Roodt

Op die betrokke Maandagaand was ons die enigste inwoners in die kamp en die ingangshek is toegesluit sodat ons soos ware verkenners gevoel het, ten spyte daarvan dat ons nie vuur mag maak nie (dít mag slegs onder toesig van die kamppersoneel gedoen word). Dit was weliswaar ’n uitdaging om eet- en drinkgoed vir aandete en ontbyt tot in die kamp te kry aangesien ons dit nie soontoe sou kon dra vanaf die naaste punt nie, maar danksy ’n plaaslike portier het ons ’n godsalige aand omring deur stilte daar deurgebring – die juiste stilte wat, in samehang met die natuur, die hoeksteen van ’n pelgrimstog vorm.

Zarine Roodt

Een van die redes om dié roete te oorweeg, is die feit dat die organiseerders dit vanuit die staanspoor op drie sterk bene gesetel het: Die Kaapse Camino is ’n voorstander van gemeenskapsontwikkeling; dit ondersteun en bou plaaslike individue en ondernemings (trouens, dit is hulle wat in die handleiding opgeneem word); en laastens is dié staproete daarop gemik om ons eiesoortige, ryk kultuur te bewaar en die diversiteit van ons land te huldig, wat sowel die mens as natuur betref.

Ons gids, Faizel Adams, is ’n sprekende voorbeeld van hoe plaaslike potensiaal deur die Kaapse Camino ontwikkel word. Tydens ons staptog het hy met ons gedeel hoe hy op 12 noodgedwonge lid van ’n bende geword het, en natuurlik daarna alkohol en dwelmmiddels begin gebruik het. Op 30, as totale verslaafde en as pa van drie kinders met wie hy geen kontak gehad het nie, is hy – oorspronklik van Islamitiese religieuse oortuiging – tot Christen bekeer nadat hy ’n visioen gehad het waarin hy ’n bonatuurlike lig tegemoet loop. Vandag is hy getroud, het nog ’n kind, en stap is sy lewe. Hy ken ongeveer vyf staproetes soos die palm van sy hand en lei individue en groepe hierop wanneer hy deur Cape Camino gekontrakteer word.

  • Cape Camino se volgende groepstaptog word vir September 2019 beplan, van 6 tot 12 September. Vir meer inligting besoek capecamino.co.za.
Een van die ses permanente tweebedtente in die Smitswinkel-tentkamp naby Smitswinkelbaai. Dié been van die staproete strek van Simonstad na Kommetjie. Foto: Zarine Roodt
Die Kalkbaai-teater in die hoofstraat word gehuisves in ’n prag-kerkgebou wat in 1876 gebou is en as ’n gedenkwaardigheid verklaar is. Foto: Zarine Roodt
Voetslaan deur die Constantia-wynlande is deel van die sogenaamde Wyn-na-water-been van die Kaapse Camino. Foto: Zarine Roodt
Kampsbaai se bekende strand wemel van mense en aktiwiteite – en ’n werklose messelaar span sy troffel in om ’n vliegtuig in die sand te skep. Foto: Zarine Roodt
Talle veelkleurige bote lê in die dorpie Kalkbaai se historiese hawe vasgemeer. Foto: Zarine Roodt

Meer oor:  Kaapse Camino  |  Skiereiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.