Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Skone Slowenië onvergeetlik

Slowenië in Sentraal-Europa word as een van twee goed beskryf: ’n onontdekte juweel en ’n boetiekbestemming. Zarine Roodt van Bloemfontein gee haar indrukke van dié land wat baie kleiner as die Vrystaat is.

Die Bled-meer en sy kasteel is besonder gewild onder toeriste en die pad wat langs die meer loop, is die meeste van die tyd vol wandelende besoekers en geparkeerde toerbusse. Foto’s: Zarine Roodt

Slowenië is in Sentraal-Europa geleë en sy buurlande is Italië, Oostenryk, Hongarye en Kroasië. Dit is ’n klein land, 20 000 km² en dus minder as ’n vyfde van die Vrystaat, met ’n raps meer as twee miljoen inwoners. Dit word afwisselend as ’n onontdekte juweel in Europa en ’n boetiekbestemming beskryf. Kortom, dit is ’n kompakte land met ’n uiteenlopende samestelling wat dit ’n ideale reisbestemming maak.

Uiteenlopende ervarings

Slowenië bied wyd uiteenlopende ervarings wat des te meer aantreklik is omdat dit in so ’n klein omtrek lê. Die land word rofweg in vier verdeel en wanneer jy dít snap, kan jy jou besoek ten beste beplan. Daar is sentrale Slowenië wat die hoofstad, ook die grootste stad, Ljubljana (lju'bljà?na) insluit. Daar is die Alpynse Slowenië vir die avontuurlustiges en die Mediterreense Slowenië vir die sonaanbidders, en laastens is daar die sogenaamde Pannoniese Plein vir die smulpape.

Die Mediterreense gedeelte van die land sentreer om die dorp Piran wat teen die Adriatiese See lê en as Slowenië se Venesië beskou word.

Die uitgestrekte Bohinj-meer waarop elke moontlike wateraktiwiteit bedryf word.

Prima kosbestemming

Die Pannoniese gedeelte van Slowenië bied ’n rykdom van kos en wyn en dit is hieraan wat die land sy reputasie as een van Europa se prima kosbestemmings te danke het.

Trouens, vanjaar se internasionale topvrouesjef, Ana Roš, en haar Sloweense man se plattelandse eenster-Michelin-restaurant, Hiša Franko, is in die Soca-vallei geleë. Die Sloweense kookkuns ontleen invloede aan sy buurlande en selfs aan Turkye en Rusland.

Nie minder nie as 52 wynkultivars word in Slowenië aangetref. Om ’n besoek aan Slowenië ten beste te struktureer vlieg ’n mens na Ljubljana en slaap ’n paar nagte daar oor, ongetwyfeld in die ou-stadgedeelte wat nou feitlik heeltemal motorvry is.

Gevolglik is dit absoluut ideaal­ om daardie gedeelte van die stad te voet te verken. Begin met ’n besoek aan die kasteel wat uit die vyftiende eeu dateer en op ’n klein heuwel in die middel van die stad geleë is.

Ek het êrens gelees: “From the Castle you can see it all.” Dit ís so. Van bo af kan jy jouself goed oriënteer wat die stad se uitleg betref.

Besoekers kan perdry, tennis speel, ’n fietsroete aanpak, ’n hoëtouroete en glydraad (zipline) beproef en selfs ’n bergfiets- en akwapark besoek.

Bohinj eerder as Bled

Neem metterwyl ’n bus van Ljubljana se hoofstasie na die Bohinj-meer – daar is nie ’n treinroete na Bohinj nie – want my leeswerk het aangedui dat dié meer amper eerder ’n besoek werd is as haar meer bekende en gewilde eweknie, die Bled-meer, met ’n Middeleeuse kasteel.

Die Bohinj-meer is sowat 30 minute se ry verder as die Bled-meer van Ljubljana af en is heelwat meer vreedsaam.

’n Behulpsame restauranteienaar het aanbeveel dat ek eerste na die Bohinj-meer gaan en met die terugkomslag by Bled afklim. ’n Nog beter plan is om ná ’n paar dae in Ljubljana ’n motor te huur, na die Bohinj-meer te ry en daar te oornag. Want, ten einde naby die Juliaanse Alpe te kom moet ’n mens in die Triglav Nasionale Park wees en die Vogel-kabelkar neem om op die naaste moontlike uitkykpunt aan die sneeubedekte Alpe te kom.

Hiervoor het jy tyd en vervoer nodig, want die nabygeleë Savica-waterval is ook ’n aantreklikheid wat ’n mens nie durf misloop nie. Onthou dat ordentlike stapskoene noodsaaklik is, veral wanneer dit gereën het. Daar is ook geriewe vir ’n swetterjoel aktiwiteite om die meer.

Besoekers kan perdry, tennis speel, ’n fietsroete aanpak, ’n hoëtouroete en glydraad (zipline) beproef en selfs ’n bergfiets- en akwapark besoek. Met die terugkomslag kan ’n mens Bled aandoen en selfs daar ’n nag deurbring, want dit is héérlik om al langs die meer te wandel, koffie te drink en roomys te koop. Roomys is hier amper meer gewild as in Italië, indien so iets moontlik sou wees.

Ek het byvoorbeeld my kamera op die lughawe vergeet by ’n restaurant waar ’n mens ook datakaarte­ kan aankoop.

Middeleeuse dorpe

En maak ’n draai in die dorpie Radovljica, ’n hanetree van Bled af. Dié ou stad is een van die bes bewaarde Middeleeuse dorpstrukture in Slowenië. Ry dalk selfs ongeveer twee uur verder, langs ’n skilderagtige roete, na Škofja Loka, een van die oudste en mees sorgsaam bewaarde Middeleeuse dorpe in die land.

Slowenië is in vele opsigte ’n onvergeetlike bestemming en nie net omdat dit só mooi is nie.

Ek het byvoorbeeld my kamera op die lughawe vergeet by ’n restaurant waar ’n mens ook datakaarte­ kan aankoop. Die bestuurder van die pendelbussie het na die lughawe gebel, die kamera opgespoor en dit die volgende dag op eie inisiatief by my blyplek kom afgee.

Europa se skouerseisoen (September en Oktober) is aan’t krimp en die weer is ook in Slowenië op sy kop gekeer, soos die grou botoon in my foto’s aandui.

Blyplek

Van blyplek gepraat: My basis was Ljubljana, waar ek deur Airbnb ’n bespreking gedoen het. En wás ek nie tevrede nie.

Ek het in die hartjie van die ou stad gebly, in Cankarjevo Nabrežje, wat al langs die Ljubljanica-rivier kronkel, ’n paar treë van die hoofplein Prešernov en die drie brûe, oftewel Tromostovje, wat sy aan sy lê en telkens as ’n baken gebruik word wanneer ’n toeris aanwysings vra.

My blyplek was ’n klein, spierwit studio met vensters na alkante toe: Wanneer ek lus was vir geselskap het ek die vensters oopgegooi, en wanneer ek stilte wou hê, het ek die vensters (met dubbele glas) op knip getrek en my van die kuiergeluide om my afgesluit.

Europa se skouerseisoen (September en Oktober) is aan’t krimp en die weer is ook in Slowenië op sy kop gekeer, soos die grou botoon in my foto’s aandui. Dit het ’n hele paar dae aaneen gereën en die rivieruitstappies is party dae heeltemal afgestel. Hiervoor vergoed die heerlike kultuurrykheid van die mu­seums in die dag en konserte van die Sloweense filharmoniese orkes in die aand.

Ek sal móét teruggaan.

  • Bykomende bron: (https://www.thinkslovenia.com/info-activities/area-guides)

Meer oor:  Toer  |  Doendinge  |  Wêreld  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.