Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Skuilplek teen stad

By Parque de Malongane sit Carina Laubscher saam met krappies op die strand en vind vrede, vryheid en wegkruipplek van die stad se rumoer. 

Een van die vele paadjies van jou tent af na die strand.Foto’s: Sarel Cilliers

As jy graag in jou vrye tyd skubaduik, snorkel, in die son braai of op jou maag die see se agterste deinings op ’n lyfplank wil bekyk, hoef jy nie verder te soek as ­Parque de Malongane nie.

Dit duur net langer as sewe uur per viertrekmotor vanaf Johannesburg en vyf uur van Durban om daar uit te kom, maar grote Griet, dis die moeite werd. Die natuurskoon, stilte en veilige kampeerplek maak hierdie oord erg kosbaar.

As jy nie ’n viertrekmotor het nie, los jou wiele by die groot parkeerterrein by die grenspos en kry dit weer op pad terug.

Jy kan jou grensrit na Ponta Malongane bespreek teen R250 per persoon. Dan word jy met ketel, slaapsak, duikbottels, tent, skottelgoed en al op ’n lorrie gelaai en rustig op die 15 km lange sandpad na die oord gekarwei. Nee, jy kan nie jou eie boot bring nie, maar bring genoeg kontant. Dit maak dinge net makliker.

Volg die groot tjorre se spore en só kruis die laaities, duikers en kampeerders se paaie.

Deur ’n skilpad agtervolg

Duikers in Ponta leef in ’n onmeetbare wêreld van hul eie, met ’n keuse van 24 duikriwwe wat wissel van 8 m tot die 40 m diep avontuur. Vra maar enige duiker wat ná ’n duik uit die water geloop kom. Die oge blink, die hande praat saam. Die divemaster het presies geweet wat om te doen, waar om hulle te drop, die viz was goed en dit was sommer ’n lekker lang bottomtime. Een duiker is deur ’n seeskilpad agtervolg, palings wou net heeltyd kom kyk wat gaan aan, en sommige kan selfs beskryf hoe die dolfyne windgat verbygeflits het. Die gelukkiges sien soms ’n walvishaai.

Die houthuisies naby die duikkamp word gewoonlik eerste bespreek.

Onder ’n boomplafon

As jul gesin nie lus is om alles saam te karwei nie, kan jy duik- en kampeertoerusting by Ponta huur om dié avontuur te ervaar. En selfs al duik jy nie, of kan dit nie bekostig nie, is dit steeds heerlik om hier te kampeer.

Vir diegene wat régtig nie kampeer nie, is daar ook goed ingerigte selfsorgchalets, -rondawels en -houthutjies om van te kies. Die huisies en 67 kampplekke wat ’n kilometer lank al langs die kus afstrek, staan almal onder ’n lieflike groen boomplafon. Daar is oral paadjies tussen die bosse deur om by die strand uit te kom.

En dis eers wanneer jy een van hierdie voetpaadjies vat dat die towerkrag van die plek jou ten volle tref. Jy hoor die see voordat jy dit sien. En die wit strand en blougroen see vou soos ’n fliek-toneel voor jou oop.

Besoek gerus die mark om die draai van Ponta. Vir plakkies en dinge.

Als te koop

Wanneer die kampeerareas nie beset word nie, is die meeste kuiermense bo by die 4 m hoë houtdek bokant die duikkamp.

Die uitsig is asemrowend en die bier is yskoud. Dit is nie ongewoon om die hele dag daar te kuier nie.

’n Paar lapverkopers en ander verkopers van stranddrag, armbande, kasjoeneute en houtvisse is op die strand te sien. As jy nie iets wil koop nie, moet liewer nie vir hulle kyk nie. Die desperaatheid op hul gesigte en die strandganger se skuldgevoel is ’n dodelike kombinasie. Daar is ook ’n mark buite die oord en dit verg ’n gesonde stappie van ongeveer vyf minute om te bereik, maar die verskeidenheid van plaaslike ware is ’n plesier om te aanskou.

As jy goete soos blikkieskos, rakmelk, hoofpynpille, brood en ys benodig, kan jy dit by die oord se winkeltjie langs die restaurant koop. Drink ook liewer gebottelde water.

Die restaurant is daagliks oop van 08:00 tot 21:00 vir diegene wat regtig nie meer vir braaibroodjies kans sien nie.

Vroegoggend se duikvergadering.Foto:

Die gezoem van muskiete

Die oord se honde hunker na mense-aandag en van hulle hardloop reeds by die grenspos rond. ’n Mens kry die gevoel hulle sal beslis nie nee sê vir ’n koudingetjie nie. So ook die gretige apies in die boomtoppe wat sommer soggens afkom om die tente te bespied vir ’n broodrolletjie of ’n biertjie . . .

Die ablusiegeriewe is heeltemal gangbaar en word daagliks skoongemaak, want die sand kom mos maar oral in. Soms sit daar groot stokgoggas wydsbeen in die wasbakke en op die stortkoppe, maar hulle is meestal aan die slaap. Die muskiete slaap egter nooit nie en bespreek hul strategie voor sononder reeds . . . watter eskader watter kampeerterrein gaan tref. Maak dus seker dat jy nie die eerste nag leeggesuig en swetsend in die donker na jou mozzie-spuitgoed moet soek nie.

Die oord se honde kuier graag saam en soek net ’n bietjie liefde.

Bewys jouself ’n guns

Gaan sit laatmiddag doodstil op die sand en kyk rustig vir die see. Dan kom die krappies uit hul gaatjies en kyk sommer saam met jou – totdat jy jou groottoon beweeg en almal skeef-skeef terug gate toe skarrel.

Parque de Malongane bied ’n skuiling, vryheid en doepa teen die stad. Jy sal straks jou tweede huis hier vind en heeltemal van jou selfoon vergeet. Daar is in elk geval nie juis opvangs nie . . .

Meer oor:  Braai  |  See  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.