Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Smul op straat in Kolkata

Kolkata in Indië se smake is ’n malle mengelmoes van speserye. Maryke Roberts onderneem ’n kostoer deur die stad.

Sonder ons kosgids Avik Mitra se hulp, sou ons dit nooit waag om by straatstalletjies in Kolkata te eet nie.

‘Niemand maak kos soos Kolkata nie,” verklaar ons gids, Avik Mitra, toe ons hom buite uitgang vier van die besige Esplanade-moltreinstasie in Jawaharlal Nehrustraat ontmoet. Ek het nog nooit soveel mense op een slag gesien nie. Hulle skarrel soos miere in en uit by die stasie Z party op pad huis toe, vir ander begin hul nagskof. Avik gaan ons vyf uur lank trakteer op tradisionele geregte wat Kolkata se restaurante en kosstalletjies bied.

“Elke kosplek is al in dieselfde familie vir vyf of ses geslagte en gekies vir my toer omdat hulle die beste is in daardie spesifieke gereg,” verduidelik hy. Hy groet links en regs mense by stalletjies en verklaar: “Hierdie toer is nie geskik vir vegetariërs nie. Kolkata is nie baie vegetaries-vriendelik nie.”

Sommige restaurante het min sitplek, so ons wag maar ons beurt af op die sypaadjie. Foto:

Ons stop vinnig by ’n klein beeldjie van Hanuman, ’n god met ’n gesig wat lyk soos ’n aap. Avik sit blommetjies en ’n paar munte neer, vou sy hande en vra seën op ons kostoer. Ons eerste stop is ’n kosstalletjie op die sypaadjie – die soort waarteen gidsboeke jou waarsku. “Die stalletjie is 30 jaar hier en maak vars lassi. Dis so tradisioneel Indies as wat kan kom,” verduidelik Avik.

Die eienaar, ’n jong man, is die sesde geslag in sy familie wat hier ’n straathandelaar is. Ek kies granaat, my man tradisionele mango. Die man krap ’n granaat se pitte uit vir myne en slaan vars mango fyn vir die ander een. Uit ’n houer skep hy tuisgemaakte jogurt en meng dit met ons vrugte.

Om die draai gaan sit ons in ’n restaurantjie waar net plek vir agt mense is. Dis al 40 jaar op daardie selfde hoek. Hulle maak glo die beste saggestoofde vleis: mutton kossa. Avik verduidelik dat “mutton” op spyskaarte verwys na bokvleis, en as dit reg gaargemaak word, dit selfs beter smaak as lam. Dit word hier bedien met baratha (plat brode), piekel-uie, mentblare en tamaryndoopsous.

Avik Mitra weet waar jy die beste tradisionele kos in Kolkata kan proe. Foto:

Die res van die aand stop ons by straatverkopers wat lensies en grondboontjies saam rooster en in koerantpapier-kegeltjies verkoop; ons probeer pani puri, ’n klein opgeblaaste hol deegballetjie met aartappel binne; en eet vars vis en basmatirys op piesangblare en leer dat jy altyd lemmetjie op jou gestoomde rys uitdruk voordat jy seekos eet. By Allen Kitchen is dit so besig, ons sit op die sypaadjie op kantoorstoele en wag vir ’n tafel. Hier eet ons garnaal-kabiraji.

Op pad huis toe verklaar Avik dat “soos die lewe in elke Britse dorpie om die plaaslike pub wentel, so draai die lewe hier om ’n lekkergoedwinkel”. Ons koop fyngemaalde pistachioneute wat in ’n roomysvormpie gevries word. Die yskoue soeterige lekkerny is ’n lafenis teen die hitte.

Ons sluit die toer af met tee in klein kleipotjies wat soos reuse-vingerhoede lyk. Die klei kom uit die rivier en elkeen word net een keer gebruik. Die tee is sterk, soet en strelend. Ons sit op omgekeerde plastiekdromme op die sypaadjie saam met tien ander mense. Die stalletjie-eienaar hou aan om die potjies te vul, tot jy wys dis genoeg.

Meer oor:  Indië  |  Kolkata  |  Besoek  |  Reis  |  Kostoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.