Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
So kleurryk soos paprika

Smul aan ghoelasj, maar moenie die hanekam bestel nie, skryf Ilse Zietsman.

Szimpla Kert is die eerste ruïnekroeg wat sy deure in Boedapest oopgemaak het. Foto’s: Ilse Zietsman

Hongarye laat ’n mens dadelik aan paprika en ghoelasj dink.

Hongaarse ghoelasj is egter nie die vaal koshuis- of kafeteriabrousel wat ’n mens gewoonlik oproep nie. Dis ’n geurige sop, eerder as ’n bredie, weliswaar met geroosterde vleis, waarvan die oorsprong van die Middeleeue strek.

Ghoelasj (gulyás in Hongaars) is tradisioneel deur beeswagters gemaak terwyl hulle beeste na die groot Europese veemarkte aangedryf het. Omdat ghoelasj goedkoop was om te maak en groot hoeveelhede op een slag op ’n oop vuur gemaak kon word, was dit ook gewild onder soldate.

In 1793 het die Hongaarse koerant die Magyar Mercurius berig dat Hongaarse troepe deur Franse soldate langs die Rynrivier aangeval is terwyl hulle ghoelasj gemaak het.

Jy kan nie Hongarye besoek sonder om paprika terug huis toe te bring nie.

Hoe smaak paprika?

Paprika of kapsikum is inheems aan die suide van Noord-Amerika en die noorde van Suid-Amerika. Nadat paprika ’n draai in Spanje, Portugal en Turkye gemaak het, het dié rooirissie in Hongarye beland.

Dit was toe nie lank voordat paprika sino­niem met die Hongaarse kookkuns geword het nie.

Hongaarse paprika is donkerrooi, baie geurig en effens soet of soms rokerig. Party soorte paprika is redelik skerp, maar nie so skerp soos brandrissies nie; die skerp smaak is te wyte aan ’n chemiese stof, kapsaïsien, wat in die rissies voorkom.

Wanneer die soetrissies heeltemal ryp is, word dit tot poeier gemaal of fyngemaak. Dié poeier word paprika, die Hongaarse woord vir rissie, genoem.

Paprika-patee word ook in buise soos dié van tandepasta verkoop; jy kook daarmee op dieselfde manier as met die gemaalde paprika-speserypoeier. Die Hongare gebruik paprika rojaal in ’n gereg; ’n knypie bestaan nie in hul koswoordeskat nie.

Paprika is baie gewild in die Hongaarse kookkuns omdat dit kleur én geur aan kos verleen.

Vars paprika of rooipepers word ook net so geëet, soos wat ons ’n appel sal eet. In Nederlands word vars paprika heel gepas puntpaprika genoem.

Diana Vreeland, voormalige redakteur van die modetydskrif Vogue, het op haar dag gesê: “ ’n Titseltjie slegte smaak is soos ’n goeie knypie paprika. Almal van ons het so ’n titsel slegte smaak nodig – dis, soos paprika, goed vir ons.”

Gedroogde rooipepers en -rissies begroet jou by elke hoeveelste groentestalletjie van die varsproduktemark.

Ontmoet by die mark

’n Besoek aan die varsproduktemark in Boedapest is ’n móét en dié kosmark is in 2013 deur CNN as Europa se beste en mooiste mark bekroon. Die drieverdieping-markgebou is in 1897 gebou neffens die oewer van die Donau in Pest en is ’n pragstuk op sigself, veral die dak met sy Zsolnay-teëls.

Die markbrosjure spog dat prinses Diana, Margaret Thatcher, George Bush en keiser Hirohito van Japan al hier inkopies gedoen het.

Elke dag van die week, behalwe Sondae, word flink sake in die sentrale marksaal gedoen. Daarby is dit so gewild dat dit deel van die roete van die rooi hop-op-hop-af-bus uitmaak.

Hongaarse gerookte wors en salami is heerlike peuselhappies of piekniekkos.

Slaan ag op die reiswenk om vroegerig in die oggend reeds hier te wees, want dit beteken jy kan saam met die markhandelaars by die kosstalletjies ontbyt eet sonder om verdring te word deur groepe toeriste wat ’n toerleier volg wat ’n vlaggie omhoog hou.

’n Tradisionele Hongaarse varkworsie, toegedraai in repe spek en kaas, by die Halsütö Büfé-stalletjie was koningskos.

Voor ons besoek het ons ewe getrou beplan om Andrew Zimmern, aanbieder van die reis-en-kos-programBizarre Foods, se raad te volg wanneer ons die mark besoek: Toeriste koop by die stalletjies regs, die Hongare links. Dis egter heeltemal ooglopend wanneer jy die marklokaal betree.

Aan die linkerkant is die vars groente opgestapel en staan besnorde omies en tannies met gekreukelde inkopiesakke geduldig en wag om hul bestelling te plaas. Aan die regterkant pryk produkte soos laventelstroop, druiwepitolie, pruimtoffie en swartbessiekonfyt.

Die M.-restaurant is een van die toptien-restaurante in Boedapest.

Watter kos is tipies Hongaars?

Die Hongare is baie lief vir sop (“leves” in Hongaars) en varkvleis. Vrugtesop is ’n gewilde nagereg.

Bredies word met kluitjies en suurroom bedien. Souterige paprikakaas en ’n verskeidenheid aartappelgeregte word as bykos voorgesit.

Hongaarse salami en pekelworsies is heerlike peuselhappies.

In Hongarye eet hulle ook baie brood. Voor die val van die kommunisme in 1990 was witbrood ’n stapelvoedsel. Die Hongare is baie trots daarop dat witbrood tydens die kommunistiese bewind oral beskikbaar was, veral aangesien dit in baie ander Oos-Europese lande nie die geval was nie.

Mmm, dis lekker by die M.-restaurant

Die M.-restaurant (M. étterem in Hongaars) word deur TripAdvisor as een van die toptien-restaurante in Boedapest gereken.

Dit het ons nie geweet toe ons toevallig daar verbystap en die knus plekkie met enkele sypaadjietafels ons aandag trek nie. Ons moes wag vir ’n tafel aangesien die plek baie gewild is; bespreek dus op die webblad metterem.hu/#/en voor jou vertrek uit Suid-Afrika.

Die M.-restaurant se spyskaart verander daagliks. Die restaurant behoort aan ’n pa, die sjef, en sy dogter, die restaurantbestuurder.

Met my eerste besoek het my voorgereg van brein met geposjeerde vye in rooiwynsous my hart verower.

My hoofgereg van biefwange het my hart in twee geskeur.

Met ’n daaropvolgende besoek ’n paar maande later het ek vooraf ’n e-pos gestuur om te vra of hulle weer hanekam (ja, die kam van ’n hoenderhaan) op die spesifieke aand wat ons bespreek het, op hul spyskaart kon hê.

Met my vorige besoek het ek dit nie bestel nie . . . spyt kom altyd te laat.

Sowaar, my wens is vervul.

In die somer word die hanekam met Chinese slaai opgedien; in die winter met room en groente.

Dit is egter beslis nie iets wat ek weer gaan eet nie, maar dit is nie die restaurant se skuld nie. Ek wóú dit proe – en ek hét.

Dit is soos om die binneband van ’n fiets te kou. Nie eens ’n sousie kikker die rubberagtige tekstuur op nie.

Sou ek ooit weer gaan, hoop ek die murgsagte brein is weer op die spyskaart. Of die wildevarkterrien met bloubessies en frambose, of die beenmurg met paprika en knoffel.

Eintlik is daar te veel om van te kies.

Begroot sowat R260 per persoon vir ’n hoofgereg en ’n kraffie wyn.

Die sentrale mark is in ’n imposante gebou op die oewer van die Donau.

Red ’n ruïne

Die Joodse buurt van Boedapest is die in-plek om by uit te hang, en dit is nie net oor die ruïnekroeë wat uniek aan Hongarye is nie.

In 2002 was Szimpla Kert die eerste ruïnekroeg wat die lig gesien het. Die eienaars het met die idee vorendag gekom om ’n partytjiekroeg in ’n vervalle gebou in te rig. Daarna het dit ’n gewilde tendens geword.

Die ruïnekroeë is boheems en so gemaak, so laat staan. Die dekor is eklekties, selfs gehawend, en jy moet dit vat soos dit kom.

By sommige ruïnekroeë kan jy ligte maaltye bestel; by ander is daar slegs bier, wyn en skemerkelkies om van te kies.

Drink minstens een keer edellaatoeswyn van die Tokaji-distrik in die noordooste van Hongarye. Tokaji-wyn word selfs in die Hongaarse volkslied besing.

’n Ruïnekroeg is die ideale plek om ’n dag se besigtiging van Boedapest af te sluit.

Wanneer jy gaan
  • Dis glad nie so maklik om ’n visum van die Hongaarse ambassade (pretoria.mfa.gov.hu/eng) te verkry nie. Die proses is maklik genoeg; dit is om hulle in die hande te kry om ’n afspraak te maak wat hare op die tande verg. Sorg dat jy lank voordat jy gaan reeds hieraan begin beplan. Begroot sowat R1 500 vir die Schengen-visum.
  • Die Aventura-boetiekhostel (aventurahostelbudapest.com) verhuur vakansiewoonstelle wat baie sentraal geleë is. Die prys is uiters billik en die diens baie goed.
  • Die M.-restaurant is by Kertész utca 48 naby die operahuis in die Pest-deel van Boedapest.
  • Die Szimpla Kert-ruïnekroeg se adres is Kazinczy utca 14 in Pest.
  • Die sentrale marksaal is in Vámház-boulevard 1-3, op die oewer van die Donaurivier.

Meer oor:  Kos  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.