Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
So ry ons trein

Op die Bloutrein tussen Kaapstad en Pretoria is dit asof jy ’n stilfliek oor Suid-Afrika kyk, skryf Alet Wichmann.

Die Bloutrein op Kimberley se stasie

Om 16:00 op ’n warm Saterdagmiddag begin die Bloutrein se wiele stiptelik draai. Die kajuit is ’n oase teenoor die snikhete hitte op Platform 24 op Kaapstad se stasie.

Ons sit terug op ’n rusbank (wat later plek sal maak vir ’n dubbelbed), die kajuit word ons fliekteater, die venster ons silwerdoek. Vir die volgende amper 48 uur is die landskap wat verby flikker, ’n stilprent wat ons land se verhale vertel.

Die eerste tonele wat oor die skerm flits, is die stad en voorstede. Goodwood, Bellville, Brackenfell, Kraaifontein lees die bordjies by vaalgrys platforms. Maar dis nie die middelklasbestaan van dié dele wat uitgebeeld word nie. Hier teen die treinspoor kan ’n mens nie raai wat eens die regte en verkeerde kant van die woonbuurte kon wees nie. Weerskante lyk ewe vervalle en plek-plek staan plakkershutte styf teen die spoor.

Tonele wat buite die treinvenster verby flits. Foto:
’n Passasier ontspan in een van die uitsigwaens. Foto’s: alet wichmann

Ons het skaars opgeklim, maar dis klaar tyd om te gaan aansit vir middagtee. Of, in ons geval, vonkelwyn en koek. Die tafel is volgepak met soet en sout: sjokoladekoek, karamel-rolkoek, koeksisters, aarbeie in ’n sjokolade-kombersie, croissants met gerookte salm, souttertjies, beskuitjies en kase...

Dit is net die eerste van sewe etes wat tydens ons rit van Kaapstad na Pretoria bedien word. Boonop kan jy drink net wat en soveel as wat jy wil. Anders as met die meeste sulke aanbiedinge is die aanbod werklik nie verwater tot goedkoop “huiswyne” en bekostigbare, plaaslike hardehout nie.

Álles is ingesluit, dis nou behalwe “kaviaar, Franse sjampanje en oproepe”.

Skemerkelkies in een van die uitsigwaens. Die blou drankie word ’n Blue Train genoem. Foto:
Aandete is ’n deftige geleentheid.

Die stad lê agter ons.

Ons en ’n paar van die ander passasiers ontspan nou in die sitkamer-wa. Die wa is heel agter aangehaak en het weerskante en agtertoe panoramiese vensters. Die tonele is nou groen ingekleur met die wingerde van die wynlande. Die son sak weg agter die berge by Wellington en wanneer die windplaas by Gouda op ons “skerm” wys, kan ons dit net-net nog in die skemer sien.

Aandetes op die trein is ’n deftige affêre waarvoor jy jou Sondagbeste of aanddrag moet aantrek. Mans moet minstens ’n das dra.

Die eetgerei wat in 1988 op die Bloutrein gebruik is. Dit word uitgestal op die Kimberley-stasie.

Terwyl ons by Worcester se stasie stilhou om diesel aan te vul, word die eerste gang van ons vyfgang-maal bedien. Worcester se stasie is ook die eerste mooi, netjiese stasie wat ons sien. Dis duidelik gerestoureer en vernuwe.

’n Musikant vermaak passasiers tydens aandete. Foto:

Ek bekyk die gedrukte spyskaart en kies ’n seekos-pakkie en garnale met ’n vinkel- en boontjiespruitslaai vir voorgereg, gevolg deur ’n lensie-en-kekerertjiesop. Die hoofgereg is rooivleis, vis of eend. Op my bord is wildsvleis met ’n swartpeperkors en lam met ’n pistachio-kors. Ons eet terwyl ’n musikant in die paadjie tussen die tafels loop en ’n saxofoon speel.

’n Sjokoladesigaar en bessie-sorbet vir nagereg.

Ons sluit die ete af met sjokolade-looppoeding en bessie-sorbet. Daar’s ook nog ’n kaasbord, maar daarvoor het ons nie plek nie. Ons gaan ontspan liewer in die sitkamer met ’n glas konjak. Dit word deftig bedien in ’n bolglas op ’n platboomglas met warm water en ’n paar koffiebone in. Die reuk van koffie ontsluit glo van die konjak se geure verduidelik die kroegman. Hoe dit ook al sy, dit voel lúúks wanneer jy dit so drink.

In die sitkamer kan jy na aandete terugsit met ’n konjak en Kubaanse sigaar. Foto’s: Alet Wichmann
Konjak in die sitkamer ná aandete. Foto:

Dan is dit slaaptyd. Die personeel het tydens aandete ons kajuit gaan omskep in ’n slaapkamer. Die rusbank, leerstoel en skryftafel is weg. Nou is daar ’n dubbelbed met sagte wit beddegoed en natuurlik ’n sjokolade op elkeen se kussing.

Tydens aandete word jou kajuit omgeskep in ’n slaapkamer.

Ons kajuit het sy eie badkamer met ’n stort, toilet en wasbak. Wat my veral beïndruk van die Bloutrein is dat die afwerkings nie goedkoop plastiek is soos wat ’n mens deesdae meestal teëkom nie. Die matte is sag (en heel) en die hout solied.

Van die wonderlike slaap terwyl die treinwiele klikke-klak, soos ’n mens gereeld in liedjies hoor, ervaar ek min. Die trein skommel en wieg onreëlmatig en ek sou nou nie juis sê dis wondersoet nie.

Deur die Karoo

Wanneer ons wakker word, is die tonele buite die venster vaal, wyd en oop. Ons ry deur De Aar in die Groot Karoo.

Die tonele raak eentonig, afgewissel deur klein gehuggies: Houtkraal, Potfontein, Poupan, Kraankuil . . . alles eens belangrike landboustasies wat die plase met die beskawing verbind het. Nou is dit meestal verkrummelende murasies. By Potfontein staan net ’n stellasie waar ’n tenk eens was. ’n Verbleikte padpredikant wys na Strydenburg.

Staaldwarslêers wat uitgestal word op Kimberley se stasie. Die uitstalling is ongelukkig verwaarloos. Foto:

By Reynekespan aan die oewer van die Oranjerivier is daar darem weer lewe. Daar is silo’s wat duidelik nog in werking is en ’n stoor vol bale.

Ritchie, so 50 km voor Kimberley, lyk soos ’n oase. Dis groen lusernlande, pekaneutboorde en op die stasie lê hope katoenbale. Dis duidelik dat vele vragtreine nog hier aandoen.

’n Uitsig oor die Groot Gat by Kimberley. Foto:

Ons hou op Kimberley stil. Daar is tyd om af te klim en die Groot Gat te besoek. Die hele uitstappie met vervoer, gids en al, is ingesluit by die prys. (Sien kassie)

Kimberley se gat

Op Kimberley se stasie wag ’n gids met ’n bussie vir ons. Die Groot Gat is net ’n paar blokke weg.

Ek was op laerskool, ’n kwarteeu gelede, ’n hele paar keer hier, maar goeiste, het dinge verander! Ons het toe teen ogiesdraad geleun en in die gat afgekyk. ’n Paar koekepanne met gekleurde klippies in, het eenkant gestaan. Nou is hier ’n houtdek wat loop tot oor die gat.

’n Fliek in die moderne besoekersentrum vertel die verhaal van hoe hoopvolle delwers van heinde en ver gekom het om vanaf 1871 tot 1914 ’n gat van 240 m diep en 463 m in deursnee met die hand te grawe opsoek na diamante en rykdom.

Daar is ook ’n museum waar die geskiedenis verder vertel word en regte ­diamante in ’n kluis uitgestal word.

Ons stap af met trappe tot onder in ’n tonnel waar die ervaring in vandag se ondergrondse myne nageboots word.

Selfs al ry jy nie trein daarheen nie, is die museum werklik ’n besoek werd. Volwassenes betaal R100 en kinders tussen vier en twaalf jaar oud R60.

Ons staan lank. Daar is kans om die trein se buitekant van nader te besigtig en ook ’n klein museum wat die geskiedenis van Suid-Afrika se Spoorweë vertel. Ook die Bloutrein se verhaal word vertel. Daar is uitstallings van die mooi porselein-eetware oor die jare, kompleet met die ou Suid-Afrika se wapen, silwer-eetgerei en spyskaarte in keurige Afrikaans. Aspersiesop, vis met kaassous Mornay, Reënboog-blanc-mange en portwynjellie met vla is alles bedien.

Ons drentel deur die museum met ’n glasie port in die hand. Op die glasie staan ‘The Blue Train’ en ons mag dit hou as aandenking. Op die platform staan vele oudhede uitgestal. Daar is ’n ou hefboomraam met sinjaal, ’n beddingklipploeg wat eens deur ’n lokomotief getrek is om die spoorbaan instand te hou, ’n Lister-enjin wat gebruik is om water te pomp en ’n ou stoomlokomotief. Dis ongelukkig alles verwaarloos en effe toegegroei.

Die agterste wa bied uitsigte aan al die kante. Foto:

Die wag raak baie lank. Die treindrywer vir die volgende skof het glo nog nie opgedaag nie. Dis jammer, want dis al donker wanneer ons weer vertrek en ons kan niks buite die venster sien nie. Op die laaste oggend kom die son op oor Klerksdorp.

Wanneer ons die Goudstad binnery, verstaan jy waarom jou treinkaartjie duidelik stel dat die Bloutrein nie verantwoordelik gehou kan word vir vertragings nie. Ons wag al hoe langer vir ons beurt om te ry. Die passasierstreine kry altyd voorkeur.

Ons is veronderstel om teen 10:30 by platform 4 op die Pretoriase stasie in te trek, maar dis al ná 12:00 wanneer ons daar aankom. Minstens wag ons in die luuksheid van die Bloutrein en gee nie juis om dat die kort wegbreek ’n bietjie langer gerek word nie.

  • ’n Kaartjie tussen Kaapstad en Pretoria kos gewoonlik R18 405 per persoon wat deel op www.bluetrain.co.za. Daar is gereeld spesiale aanbiedinge en vele van ons mede-passasiers het vertel hulle het net sowat R10 000 vir hul kaartjies betaal. ’n Vinnige Google-soektog het ook ’n hele paar spesiale aanbiedinge opgelewer. Dit sluit álles in, soms selfs ’n eenrigting-vliegtuigkaartjie.


Meer oor:  Bloutrein  |  Trein  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Roete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.