Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Soete vryheid van die Zuurberge

Boeta, jy beter nie die Oos-Kaap skeef kyk nie, orraait? Pres. Cyril Ramaphosa het weliswaar die strande gesluit, maar daar is steeds berge en dale vir die vale om te verken, veral as jy van plan is om dié somer in die omgewing van die Addo-olifant Nasionale Park te gaan kuier.

Avontuur. Daai woord lê wyd . . . Vir party mense is dit sinoniem met op die rusbank sit en groot-oog na Ultimate Beastmaster of iets dergeliks staar, terwyl ander se adrenalienklier eers begin pomp wanneer hulle ’n haaivin naby hul branderplank gewaar.

Die goeie nuus is dat dit nie rêrig saak maak waar jy persoonlik op die endorfieneskaal inpas nie, veral nie wanneer jy in die Oos-Kaap gaan vakansie hou nie.

Die Addo-Zuurberg streek – sowat ’n uur se ry van die Nelson Mandelabaai-metropool – is sonder twyfel een van Suid-Afrika se mees unieke (en ongerepte) natuurbestemmings. En daar is stap-, bergfiets-, draf- en ander avontuurroetes om van te kus en te keur. Foto’s: Jacques Marais

Mense verwys juis hierna as die “avontuurprovinsie” en dit raak gou duidelik waarom wanneer jy die Zuurberge binnevaar.

Wuiwende en goud-groen graslande oorvou die hoogliggende heuwels, met koperdraad-polle en rooigras wat kombers so ver as wat die oog kan sien. Troppe boerperde wei hier teen die steil hange, met rooiribbokke, hartbeeste en koedoes wat ook gereeld daar ver teen die rante staan. Vir my is die mooiste mooi egter die prehistoriese cycadifolia- plante.

Dié Encephalartos longifolius-broodbome dateer uit die Jurassiese tydperk en groei plek-plek tot meer as 4 m hoog. En wanneer jy langs hulle op ’n krans staan, is dit kwansuis asof jy kan opkyk en dalk pterodaktiele teen die hemele sien sirkel.

Of miskien nie . . . maar definitief ’n jakkalsvoël of kroonarend wat op die lugstrome sweef terwyl hulle Addo en Zuurberg se “Groot Sewe”- nasionale park bespied op soek na prooi. Doer onderkant hulle ontvou diep klowe, dig begroeid met huilboerbone, kalanders, kiepersolle en reuse-, ou geelhoutbome.

Towerklowe

Hoe dieper jy in die klowe afsak, hoe meer voel dit asof jy Hobbits en towenaars daar in die boendoes gaan raakloop . . . Ek en ’n groep mede-avonturiers het juis onlangs een van dié weggesteekte rivierlope gaan verken en moes rondom watervalle klouter, deur donker poele plons en hier en daar handeviervoet deur die dig-begroeide bos kruip.

Hoe dieper jy in die klowe afsak, hoe meer voel dit asof jy Hobbits en towenaars daar in die boendoes gaan raakloop.

Die strome self was sommer propvol lewe. Dosyne rooivin-galaxia-vissies het van poel tot poel geflits, met bruinkopvisvangers wat elke nou en dan blitsvinnig toeslaan. Hierdie visspesie (die Pseudobarbus afer) is ’n merker van ongerepte en gesonde berg strome, met van die subspesies wat endemies is aan spesifieke Oos-Kaapse riviere.

Hier en daar het yslike varswaterkrappe heen en weer geskarrel. Een van hulle was besig om aan ’n songololo (oftewel ’n duisendpoot) te smul en dit is sonder twyfel die eerste keer in my lewe wat ek hierdie spesifieke gedrag aanskou het.

En toe kom ons op die otters af . . . Twee jong welpies het in een van die dieper poele weggekruip en toe sommer spelerig met mekaar gestoei terwyl ons hulle beloer het. Dit was asof hulle glad nie mense gewoond was nie (en dit is glad nie onmoontlik dat dit die eerste keer was wat hulle met ons “twee-bene” te doen gehad het nie).

So, daar het jy dit. Die Addo-Zuurberg-streek – sowat ’n uur se ry van die Nelson Mandelabaai-metropool – is sonder twyfel een van Suid-Afrika se mees unieke (en ongerepte) natuurbestemmings. En daar is stap-, bergfiets-, draf- en ander avontuurroetes om van te kus en te keur.

Die mikroklimaat in die hoër-liggende dele hier is in die algemeen warm en gematig gedurende die somer. Winters gaan gepaard met die “Groot Bibber”, so verwag vriesende nagte en ’n koue dag of vier.

Draf verby die prehistoriese cycadifolia- plante. Dié Encephalartos longifolius-brood­bome dateer uit die Jurassiese tydperk en groei plek-plek tot meer as 4 m hoog.

Reën val eweredig deur die jaar, met die hoogste neerslae gedurende die somer. Vir meer inligting oor die streek, besoek www.addotourism.co.za.

Fiets. Tjek. Hardlooptekkies. Tjek. Stewels en verkyker. Tjek.

Tik nou “Hayterdale” in jou GPS in en daar gaat jy. Hierdie noorsveldplaas teenaan die voet van die Zuurbergpas is net die plek waar jy jouself in die wildernis wil gaan verloor.

Die broers Trevor en Rob Hayter skaaf nou al vir meer as ’n dekade aan die roetenetwerk hier op hul eiendom tussen die Addo- en Zuurberggedeelte van die nasionale park en ek waarborg jou, jy kan hier speel tot jou tong uithang. Dit is geen wonder dat hierdie buitelugbestemming ook beroemd geraak het as die tuiste van ’n reeks van drie Great Zuurberg-avontuursportbyeenkomste nie.

Die Great Zuurberg Trek-multidag- bergfietsresies is die bekendste van die lot, met die driedag-GZ Trail Run kort op sy hakke. En volgende jaar word die nuwe GZT-e-skofresies vir e-fietse ook aangebied (spesiaal vir daardie atlete wat nou al effens gatvol is om so teen die opdraandes uit te sweet en swets)!

Troppe boerperde wei hier teen die steil hange van die Zuurberge.

Hayterdale is egter ook ’n uitmuntende bestemming indien jy eerder die enkelspoor op jou eie – of met ’n groep goeie vriende – wil ondervind. Daar is sowat 40 km pasmaakroetes vir sowel die bergfiets- as velddrafbrigade en met ongelooflike staproetes en klowe om teen ’n stadiger pas te gaan verken.

Dis hier waar berugte roetesegmente soos die “Sewe Dwergies” en “Drie Stiefsusters” op jou wag, so maak seker jy eet genoeg pap voordat jy jou fiets opsaal. Dit is ’n uitmuntende dikwielspeelgrond, met bostonnels, berms en houtbruggies wat in ’n orgasme-ritmiese pedaalsessie gaan ontaard.

Dit is net die plek om Afrika se buitelug te ervaar. Raak rustig in ruim tente – toegerus met puik matrasse, ’n klererak, tafel, donsbeddegoed, lig en handdoeke.

Besoek www.greatzuurbergtrek.co.za en www.addotrailrunning.co.za vir meer inligting.

Binne Addo se klowe skuil daar ’n versteekte paradys. Avonturiers kan hier van dié weggesteekte rivierlope gaan verken, rondom watervalle klouter, deur donker poele plons en deur die dig-begroeide bos kruip.

Doen dit self

Gaan stap (of draf)

Die ongerepte Zuurberg-afdeling van die Addo-olifantpark spog met roetes na almal se smaak en fiksheidvlakke, van rustige uitstappies tot uitmergelende multidag-staptogte. Ontsnap na smaraggroen klowe of bewonder asemrowende uitsigte vanaf die plato; dit is alles deel van die jaarlikse Great Zuurberg Trail Run. Besoek www.gztrun.co.za

Gaan trap

Die Hayterdale Trail Centre spog met van die land se beste bergfietsroetes, met pasgemaakte en puik enkelspoor wat voorsiening maak vir alle vlakke en vaardighede van bergfietsryers. Jy sal al die pad deur inheemse woude glimlag en na jou asem snak (as daar nog asem is) wanneer jy van die kusvlaktes tot teen die Karoo trap tydens die Great Zuurberg Trek. Besoek www.greatzuurbergtrek.co.za vir meer inligting.

Perdry

Verruil jou ysterperd vir ’n regte perd op ’n uitstappie in die Nyathi-afdeling van die Addo-olifantpark. Die twee uur lange oggendritte is ideaal vir beginners, terwyl die langer middagritte ervare ruiters sal pas.

Kyk uit vir sebras, olifante en buffels tydens dié uitsonderlike wilderniservaring; al die ritte word deur ervare gidse gelei en die perde is goed gemanierd.

Bespreek by www.sanparks.org.

Verblyf

Zuurberg Mountain Inn

Hierdie eksklusiewe bergoord, hoog teenaan die Zuurberg-pas, dateer uit die 1850’s. Dit word omring deur 160 ha inheemse bergveld. Die praguitsig oor die Addo-olifantpark maak dit ’n top-familiebestemming. Geriewe sluit in ’n restaurant, kroeg, tennisbane en swembaddens – asook ’n klein kapel – met begeleide “Groot Sewe”-wildritte na die park self. Besoek www.zuurbergmountainvillage.co.za.

Kuzuko Lodge

Kuzuko (oftewel die “Plek van Glorie”) kyk uit oor die dramatiese Kabougavlaktes en die Winterberge. Dit beskik oor ’n private watergat slegs vir gaste, wat gereeld deur die Groot Vyf besoek word. Die 24 chalets, elk met sy eie veranda en luuks uitgerus vir ’n prima ondervinding, sorg vir ’n onvergeetlike wilderniswegbreek. Besoek www.kuzuko.com.

Camp Figtree Mountain Safari Lodge

Camp Figtree is ’n heiligdom in die hartjie van die natuur en bied rustigheid, gemak en luuksheid in ’n eko-vriendelike omgewing. Die verblyf wissel van ’n gesin-suite tot luukse suites en tente, elkeen met ’n pragtige uitsig. Kontemporêre Suid-Afrikaanse cuisine word in die restaurant bedien. Besoek www.campfigtree.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.