Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Sondag-kos lekker langs die see

Jare gelede het daar ’n ou visserman, Malcolm Thom, naby ons gewoon.

Vang ’n vis vir ete of gaan duik om die asemrowende seelewe van nader te beskou. Foto: Media24 argief

Gereeld het ons ’n vars vissie vir die kole by hom gekry en só het hy ons ook aan die Noordhoek-skibootklub ’n entjie buite Port Elizabeth bekendgestel.

Met die jare het ons die klub sien groei van ’n eenvoudige klub waar die vissermanne maar gewoonlik ’n bietjie keel natgemaak het om die lyf warm te kry ná ’n nag of wat op see tot ’n uitstekende gesinsklub wat byna uit sy nate bars van al die lede.

As jy dus lus het om aan die begin van die lente ’n bietjie vars lug in te asem en ’n heerlike bord kos te geniet is hierdie net die regte plek om te besoek.

’n Watertandlekker tuisgemaakte ete word elke Sondagmiddag by die klub voorgesit en bied die vroue ’n geleentheid om ook ’n bietjie terug te sit terwyl hul gesinslede steeds heerlik kan eet.

Wat is dan nou lekkerder as om ’n vroeë Sondag-rit langs die see te neem (dalk sien jy ’n walvis of twee) en dan stap jy by ’n eetplek langs die see in en kry ’n heerlike bord kos wat jou laat tuis voel?

Die behendige vrou aan die stuur van die Groot Kook is Shirley Botha, wat omtrént haar slag agter die potte ken.

Malcolm Thom, visserman van die Noordhoek-skibootklub. Foto: Verskaf
Die Noordhoek-skibootklub. Foto: Media24 argief

“Die maaltye verskil elke Sondag en belangstellendes kan die spyskaart die voorafgaande week op die klub se facebookblad kry,” sê sy.

“Daar is gewoonlik twee soorte vleis, ’n stysel soos aartappels of rys, groente, slaai en nagereg teen R110 per persoon.”

“Meeste van die tyd sit ek ook ’n broodtafel met ’n verskeidenheid brode en tuisgemaakte konfyt voor.”

Shirley se beesvleis-en-uiepastei smelt omtrent in jou mond en jy sal nooit weer self ’n varkgereg maak as jy eers die varknek in rooiwyn geproe het nie.

Die nagereg is nogal avontuurlik. Hoe klink ’n wortelkoek-koekstruif, yskoue pynappel-yskastert op ’n warm somermiddag of tradisionele dadelnagereg met ’n gemmerstropie op ’n reënerige wintersdag vir jou?

“Dis tuisgemaakte kos, net soos wat ek en ander vroue tuis vir hul gesinne sou voortsit,” verduidelik Shirley.

Die porsies is meer as groot genoeg en jy sal definitief nie honger huistoe gaan nie.

Maar as jy daarna te lui is om op te staan, sit dan maar nog ’n rukkie en kyk of jy dalk daardie walvis doer ver in die see kan sien spring.

En dan pak jy laatmiddag ’n vuurtjie.

Braai dan ’n worsie of hoendervlerkies om aan te peusel en kuier tot die son sak.

Shirley Botha, wat die heerlike Sondagmaaltye voorsit.

Braaipakkies met ’n verskeidenheid vleis en hout is ook by die klub te koop en jy hoef nie eens ’n braaitang te pak nie, want dié word ook aan jou verskaf.

By dié klub kan jy werklik behoorlik ontspan terwyl jou kinders en selfs jou hond – mits hy sosiaal opgevoed is – na hartelus op die strand baljaar.

’n Deel van die strand is afgebaken waar swemmers veilig in die baaitjie kan afkoel.

Al langs die strand af is daar kuierplekke waar jy onder ’n afdakkie of sambreel saam met jou familie en vriende kan kuier.

By die klubhuis is daar ook verskeie tafeltjies op die beskutte stoep met verskeie braai-geriewe.

Alkohol en koeldrank moet by die kroeg gekoop word, maar dit is bekostigbaar.

Die klub is rolstoel-vriendelik. Foto: Willemien Green

Daar is ook ’n koffiemasjien as jy dalk baie vroeg reeds daar wil uitspan.

Volg so nou en dan die rugby of krieket op die groot televisieskerms so tussendeur die kuier.

Daar is ook ’n veerpyltjiebord en potspeltafel vir tye wanneer die wind dalk lastig raak.

Die klub is ook bekend vir die jaarlikse nasionale Wildside-duikfees wat gewoonlik gedurende Junie aangebied word.

Dié fees strek oor ’n paar dae en allerhande vermaak word ook gedurende die verloop daarvan aangebied.

Vanjaar was dit die 22e keer dat die fees aangebied is en meer as 800 duike was reeds vooraf bespreek.

As jy nie kan duik nie, kan jy ook visvang, kano- en branderplankry of ander watersport daar beoefen.

Daar word ook gereeld allerhande kompetisies soos die visvang- of potjiekoskompetisies aangebied.

Die klub is ook nou betrokke by die bewaring van die see en omgewing.

Moet weet:

Die onthaalgeriewe word ook aan nie-lede uitverhuur. Dis die ideale plek vir ’n kinderpartytjie met woelige kleingoed!

Nie-lede betaal toegangsgeld by die hek.

Die klub is rolstoelvriendelik.

  • Bespreek vooraf vir die Sondagmiddagete per SMS by 072 456 2684.
  • Skakel 082 320 3945 vir meer inligting of besoek die klub se facebookblad.

Die kroeg by die Noordhoek-skibootklub. Foto: Willemien Green
Braai laatmiddag hoendervlerkies as jy nie jou ry ná Sondagmiddag se heerlike ete kan kry nie.
Die Noordhoek-skibootklub van buite gesien. Foto: Willemien Green
Gaan kyk die rugby by die klub. Foto: Willemien Green

Meer oor:  Visserman  |  Port Elizabeth  |  See  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.