Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Sonkrag en stilte, na 2020

’n Swembadjie bied vroegoggend of laatmiddag lafenis teen die hitte. Die res van die dag bly ons uit die son se pad en skuil onder die stoepie met ’n dak van latte, of lê in die hangmat onder die peperboom. Foto’s: Clifford Roberts
Die stilte van die Karoo, uit op ’n grondpad agter sewe plaashekke, is die rus wat ’n mens nodig het ná 2020, skryf Maryke Roberts. 

‘Agt dae in Desember in die Karoo? Is julle mal?” was vriende se reaksie toe hulle hoor ons hardloop weg van die malligheid van Kersfees-inkopies, hopeloos te veel mense op die strand en virusvoos-vakansiegangers, om sonder krag of sein as’t ware ons sawwe lyf-batterye te gaan herlaai.

Die bestemming is Snyderskloof se kliphuisie 26 km van die Matjiesfontein-afdraai op die N1. Dié skaapplaas is droog en warm dié tyd van die jaar. Die bye se gezoem in die peperbome soms oorverdowend in die stilte. Sonder die ewige teenwoordigheid van selfone, tablette en al hul versoekings, trek die stres uit ons gebeentes uit, soos joghurt die wilde reuk uit wildsvleis trek.

As jy van die Keurkloof-grondpad afdraai en die bordjie sien, weet jy jy is amper by jou bestemming. Sewe hekke en nog so ’n paar kilometer en die kliphuisie wag.

Voor jy behoorlik besef wat aangaan, is die ritme van die hitte en die koelste plek in die huis deel van jou daaglikse wees. Die deure en vensters is heelnag oop, vir net ingeval die koel windjie laatnag opkom en alles laaf. Die windpomp draai dan saggies en sussend.

Die beskawing is ’n ongemaklike grondpad en sewe plaashekke ver en daar is sekerlik nader plekke om te teiken. Vreesloos leef ons.

Die beskawing is ’n ongemaklike grondpad en sewe plaashekke ver en daar is sekerlik nader plekke om te teiken. Vreesloos leef ons.

Die een wat eerste wakker is, sit koffiewater op die gasstofie. Die beskuit word stoep toe gedra en een vir een dop ons uit ons kamers uit. Brekfis van eiers en spek en ander luukses, is ’n laatoggend tydverdryf, voordat een in die hangmat onder die peperboom gaan lees; ’n ander in die plaaspad afstap en klippe en bossies beskou; nog een lê op die swembad se rant vir ’n rukkie.

Ons huisie op Snyderskloof, waar jy geen ander siel sien of hoor nie.

Die dik boeke wat saamgery is, se bladsye woel onder die vingers. Ons speel kaart en vertel grappe en stories. Ons kyk hoe bokkies teen die grensdraad afstap om by die trog onder die peperboom onder by die hek, water te drink.

Rondom ons huisie met sy hoë houtstoep is die vermaak klein voëltjies wat vlerkslepend kos soek by hul ouers en ’n streepmuisie of twee wat ons braairooster fynkam vir iets te aas. Namiddagslapies word tot amper vyfuur uitgerek, voordat ons in die swembad sit met jenewer en tonikum en versnaperings op die rant.

Skuins ná sesuur word die vuur in die ronde braaiplek gepak en ons gooi nog hout op, totdat die hitte van die dag heeltemal bedaar het en die eerste sterre digby ons koppe verskyn. Braaivleis of potjie of potbrood met plaasbotter en appelkooskonfyt, word by kerslig en naggeluide geniet.

Spoke en baie praat

Een dag, in die middel van ons kuier, ry ons Matjiesfontein toe. Die dorpie is ’n bedrywigheid met vakansiegangers op pad Kaap of Gauteng toe, wat ’n vinnige besoek aan die museum, ou motors en lokomotiewe maak voordat hulle iets eet; gou by die kroegie inloer om saam met die vrolike Johnny “Baiepraat” ’n liedjie te sing, terwyl hy die klavier à la Western saloon-styl tokkel, of gou “die hotel se spook” gaan kyk. Koelbokse word vol ys gemaak en drinkgoed vir die pad ingepak.

Dis vier uur later toe ons terugry na ons Karoohuisie se stilte. Met die wêreld se malligheid, wens ek ons kon langer daar in die koppies wegkruip sonder nuwe Covid-19-statistieke en inperkingsvlakke.

Meer oor:  Bestemming  |  Karoo  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.