Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Sonnige somer in die Alpe

Ski-oorde in Europa is nie nét vir wintervakansies nie.Terésa Coetzee beleef die hellings in die somer.

’n Perfekte uitsig vir elke ete. Foto’s: Terésa Coetzee

Om by ons bestemming teen die hange van die Alpe in die suide van Frankryk te kom, is gewis nie ’n vinnige tog nie.

Die Club Med Les Arcs-oord is so ’n uur se ry vanaf die Italiaanse grens – dit beteken ’n vlug na Parys, dan na Genève in Switserland, en staal jou vir nog ’n goeie drie uur se ry terug Frankryk toe van daar af. Maar ’n groot deel van die rit ry jy deur die pragtige Franse platteland, deur dorpies soos Albertville en verby Annecy, ’n meer waarlangs derduisende mense op warm somersdae uitspan en die sonlig indrink. Soos mens nader aan die oord beweeg, word die berge groter en die pieke witter, selfs al skyn die son fel.

“Net daar oorkant is die bekende Mont Blanc,” beduie ons bestuurder en dié skielike assosiasie laat die omgewing sommer bekender voel. Toe ons weer sien, is ons ook midde-in die berge en dit voel kompleet as jy jou arms wyd genoeg uitstrek, of jy daaraan kan raak.

Die tog was die moeite werd.

Selfs in die somer is daar nog sneeu op die hoogste bergtoppe en jy kan lekker op die ys speel. Foto:
Sulke mooi veldblomme sal jy nie tydens ’n skivakansie kan sien nie.
In die somermaande groei die veldblomme geil. Foto:

Wees gelukkig, dis ’n bevel

Club Med se filosofie is: die doelwit van die lewe is om gelukkig te wees; die plek om gelukkig te wees, is hier; en die tyd om gelukkig te wees, is nou. En glo my, hulle maak seker jy’s gelukkig.

Die G.O.’s (gentil organisateur) is die hoeksteen van elke oord en hulle is daar om seker te maak die gaste het die beste tyd van hul lewe.

Tydens middagete het ek op my eie by die tafel gesit en binne oomblikke was daar ’n G.O. wat kom hoor het of ek alleen wil eet of geselskap soek.

Saans op die partytjies kan jy maar weet dat jy nie lank alleen gaan rondstaan of soos ’n muurblom aan die kant gaan sit voor ’n G.O. jou dansbaan toe verlei nie.

Die ander werkers se Engels is maar taamlik gebroke, maar desnieteenstaande is hulle altyd gewillig om te help.

Nog voor ek in my kamer was, word ek al eetsaal toe gestuur. Ál die etes hier is ’n groot storie.

Ek sit aan vir die buffet-ete en kan enigiets denkbaar kies Z dis kreef, steurgarnale en krap, kaasborde, bakke vol vars vrugte, koue vleise, roomys . . .

Dis veral by die charcuterie-afdeling waar ek vashaak, want as jy in Frankryk is, maak jy soos die Franse maak . . .

Ek verstom my aan die bakke vol vars vrugte. Alles lyk selfs groter en beter as by ons – die nektariens is stroopsoet en die kiwivrugte vet en baldadig. Druiwekorrels ontplof in jou mond.

En dan rond jy die ete af met ’n paar skeppies Italiaanse roomys. Daar’s genoeg geure dat jy elke dag ’n ander een kan kies.

Hier is twee restaurante om van te kies, die buffetstyl-restaurant en die deftiger à la carte-restaurant.

Selfs in die somermaande lê daar nog lappies sneeu op die berge.

Fietsry in die berge

Hierdie oord is bekend vir sy ski-fasiliteite, maar dis ook slim uitgebrei in ’n fietsry- en buitelug-vakansieoord vir die somermaande.

Terwyl duisende vakansiegangers in die wintermaande kom ski, het hulle ook nou spesiale bergfietsroetes rondom die ski-bane gebou waar entoesiastiese fietsryers elke dag kan gaan rondry. En nee, jy hoef nie fiks of ervare te wees om hierdie geleentheid aan te gryp nie, daar is opsies vir oud en jonk met enige tot geen fietsry-ervaring.

Selfs die ski-hysers is baie slim en doeltreffend aangepas dat jy jou fiets daaraan kan haak en tot bo-op die pieke kan ry. Aan die bopunt is iemand wat jou help om vinnig jou fiets van die hyser af te haal en voilà, jy kan soos ’n ware afdraandekampioen met die enkelspoorpaadjies tot onder ry. Laat niemand jou vertel ski is lekkerder as dít nie.

Jy hoef jou ook nie dood te trap nie. Daar’s elektriese fietse en ons het ’n opgeleide en ervare gids gekry wat ons op ’n e-fiets-uitstappie in die Alpe geneem het.

Die wonderlike voordeel van ’n elektriese fiets is die feit dat jy regtig nie fiks hoef te wees om deel te hê aan die pret nie.

Waar die opdraandes regtig inspanning sou verg op ’n gewone fiets, is die terrein skielik heeltemal toeganklik en rybaar op ’n elektriese fiets.

Ons het selfs op van die enkelspoorpaadjies in die omgewing gery en dit was groot pret. Bo-op die hoë dele was daar groot gedeeltes wat nog toegeys was en dit was groot pret om bo-op die stukke ys te probeer ry.

Daar is ook gewone bergfietse by die oord te huur, maar ek sal dit nie eens oorweeg as daar e-fietse beskikbaar is nie.

Die staptogte neem jou na skouspelagtige plekke.
Die staptogte neem jou na skouspelagtige plekke.Foto:

Stap in Heidi se berge

Buiten fietsry, kan aktiewe besoekers ook daagliks staptoere in die berge saam met opgeleide gidse onderneem en dit hang heeltemal van jouself af hoe lank en hoe ver en hoe moeilik die roete moet wees. Daar is verskillende opsies wat wissel tussen 3 km, 5 km, 7 km en 9 km.

Soggens by ontbyt is daar ’n hele aparte stasie waar jy vir jou “padkos” kan inpak vir die uitstappie en dis ’n baie lekker toevoeging tot die oord. Buiten ’n piesang, het ek vir my ’n lekker vars croissant gemaak met salami en kaas op, wat jy in ’n sakkie kan sit. Daar was ook versuikerde jelliestafies as jou suikervlakke dalk laag word.

Ons groepie het die 3 km-roete gekies en nadat ons vir sowat 40 minute met ’n bussie na die Nant d’Ant-reservaat vervoer is, het ons staptog begin. Ons gids was die rustigheid vanself en hy het glad nie omgegee dat ons spulletjie draal en heeltyd stop vir foto’s nie.

Die omgewing was kompleet soos ’n toneel uit Heidi en as ’n mens mooi luister, kon jy sweer jy hoor haar helder klokkelaggie iewers daar in die berge.

Die deel waar ons gestap het was lowergroen met veldblomme oral en dit was regtig fabelagtig mooi. Hier en daar kon mens watervalle in die bergskeure sien vanweë die sneeu wat oral besig was om te smelt.

Ons staptog het sowat twee en ’n half uur geduur en daarna is ons weer terug na die oord, waar ons ’n heerlike middagete op die buitestoep met die mooiste uitsig oor die berge geniet het.

Een van die grootste voordele is dat alle kos en drank en peuselhappies tussenin by die prys ingesluit is. Jy kan dus baie gemaklik jou gunstelingdrankies bestel sonder om ’n nare verrassing in euro aan die einde van jou vakansie te wagte te wees. En wat is nou beter as om ’n aktiewe dag met ’n gin & tonic af te sluit terwyl jy oor die wit bergpieke tuur en vir jouself vertel dat hierdie oomblik verseker ware geluk moet wees . . .

  • Club Med het Terésa se reiskoste betaal.Buite seisoen, gedurende die somermaande, betaal jy R19 990 per persoon vir ’n weeklange vakansie. Dit sluit alle kos en drankies, die huur van die fietse en uitstappies op die staproetes in.

Kom daar

    Met EgyptAir kan jy volgende Julie vir sowat R9 900 vanaf Johannesburg na Genève, Switserland, vlieg.

    Club Med sal jou vervoer vanaf die lughawe na die oord reël.

    Meer oor:  Alpe  |  Ski-Oorde  |  Winter  |  Somer.Berge  |  Vakansies
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.