Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Sosiale afstand – in ’n ‘ruimtetuig’

Wanneer dit by ruimte en sosiale afstand kom, is Namibië sowaar die superster van Suider-Afrika. Is daar ’n beter plek om net weer ’n bietjie kopruimte te vind as in die land se oop vlaktes, verlate grondpaaie en diverse landskappe?
Die oker ovaalvorminge “ruimtetuig” lyk asof iemand dit versigtig op die rand van ’n koppie gebalanseer het, en kyk uit oor die verlate oop vlaktes van die Namibwoestyn.Foto’s: Melanie van Zyl

Ryafstande in Namibië is amper altyd ’n stywe stootjie – die land moet eintlik teen ’n stadige pas verken word.

Teen alle goeie raad in ry ek nietemin 16:00 op ’n weeksdag by Windhoek uit met ’n stewige vier uur lange rit wat voor my uitstrek. Ek is haastig om by my eindbestemming – ’n private woestynreservaat digby die Namib-Naukluft-park – te kom.

Rehoboth flits verby, en soos die son agter die westerkim inskuif, verruil ek teer vir gruis. Ek swenk en swaai my huurmotor, ’n Suzuki Jimny, op die kronkelpaaie, terwyl ek luidkeels The Eagles se “Hotel California” sing. (Ek’s dan immers op ’n donker woestynpad.)

Langs my kan ek vaagweg die donker silhoeëtte van vlakvarke en koedoes uitmaak.

’n Gemsbok, een van die Namibwoestyn se bekendste inwoners.

Namibië spog deesdae met sy status as Afrika se mees ylbevolkte land – ’n goeie bemarkingstrategie in ’n era waarin “sosiale afstand” en “afsondering” belangrike klinkreëls in toerisme­bemar­king geword het.

Die bevolkingsdigtheid word op 7,8 mense per vierkante myl geskat (3 mense per km²) – dus is hier baie plek vir jou om afstand van jou medemens te kry.

Toe ek net ná 20:00 by die private Gondwana Namib Park-natuurreservaat stop, is dit net ek en die bestuurder op pad na die argitektoniese verbeeldingsvlug The Desert Whisper, my tuiste vir die volgende twee dae.

‘Ruimtetuig’

’n Stuitige neonbuislig by The Desert Grace se kroeg.

Ek word afgelaai voor ’n ovaalvorminge oker “tuig” wat lyk asof iemand dit versigtig op die rand van ’n koppie gebalanseer het en wat uitkyk oor die verlate vlaktes van die Namibwoestyn.

“Ruimtetuig” kry hier nuwe betekenis – met al die ooptes rondom jou.

Die struktuur lyk soos ’n kruising tussen ’n postapokaliptiese Mad Max-vaartuig en ’n skepping van die Brasiliaanse argitek Oscar Niemeyer. Die afgeleë “villa” is sowat twee uur se ry vanaf Sossusvlei.

Jy word omring deur die Namibwoestyn se roesrooi duine. Gemsbokke, gewoonlik statige en elegante diere, laat vaar soms hul sierlikheid en galop al ploeterend by die sandduine af.

The Desert Whisper is die geesteskind van die Windhoekse argitek Sven-Erik Staby wat die endemiese !Naraplant, ’n rateltaai vetplant met doringbedekte, span­spek­agtige vrugte, as inspirasie vir die eenheid se funksie en vorm gebruik het.

Vir talle van die Namibwoestyn se bewoners is dié plant ’n belangrike vorm van kos en water.

Nes die !Nara moet Staby se struktuur ook uiterse en uitdagende weerstoestande trotseer en oorleef.

Die genadelose Namibiese son, wind en sand moes alles in ag geneem word toe die geboë dop van die eenheid ontwerp is.

Die struktuur boots ook die !Nara se knobbelrige buitekant na, en die geboë oppervlak staan sterk teen die aanslag van die Namib se ongenaakbare klimaat. Die ventilasiegaatjies, in die vorm van die plant se saadjies, laat wel ’n ligte bries deur vir lekker lugvloei.

Soggens het ek myself verkyk aan die ligstrale wat die gaatjies deurpriem en as te ware ’n skimmespel op die houtvloer gelewer het soos die son deur die dag deur die hemelruim beweeg het.

Nes met die !Nara se vrug is die dop miskien hard, maar die binnekant ruim, weelderig en heerlike sielskos vir jou lyf en gees.

Ek het omtrent myself soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel gedra en elke hoekie en gaatjie van die eenheid verken.

Die “nessies” op die stoep, waar jy met ’n boek kan ontspan.

Eers het ek rondgeplas in die swembadjie, toe ontspan met ’n boek in die leeskamer, en gepeusel aan middagete by die skemerkelkietoonbank.

Later het ek weer ’n draai gemaak by die wynkelder om my glas te hervul met vonkelwyn, voor ek myself op die stoep tuisgemaak het in een van die hangende “nessies” en oor die vlaktes voor my getuur het.

Die kersie op die koek by The Desert Whisper is die uitsig – joune alleen vir myle aaneen, sonder ’n enkele siel in sig.

Ek het die fyn katoengordyne heeltyd oop gelos tydens my verwyl hier – dis privaatheid en sosiale afstand op sy beste en uiterste.

Die eenhede is ontwerp vir wittebroodspaartjies op soek na ’n unieke ervaring. Om alleen hier te bly in die Namibwoestyn se ruwe terrein het die ervaring vir my net nog meer spesiaal gemaak.

Vir my was die grootste luuksheid die geleentheid om op my eie gelaat te word, net ek en ’n uitsig waaroor ek nog vir jare sal droom.

Die Dooie Vlei by Sossusvlei is een van Namibië se gewildste toeristeaantreklikhede.
Ek wil ook gaan

Teen R15 286 per nag wil ’n mens so bietjie aan jou tee stik, maar SAOG-lede het die opsie om ’n Gondwana-kaart te koop, wat hulle tot 40% afslag op verblyf, aktiwiteite en etes bied.

As jy ’n Suid-Afrikaanse burger in besit van ’n Gondwana-kaart is, bring dit die prys van The Desert Whisper af na R4 578* per persoon per aand en dit sluit al jou etes en drankies in.

Dis beslis die bederf werd vir ’n unieke wittebrood of ’n spesiale huweliksherdenking.

As jou skip egter nog nie gekom het nie, het Gondwana verblyfkeuses vir elke sak.

’n Kort rit van Desert Whisper is The Desert Grace, ’n prettige (maar steeds luukse) alternatief, teen helfte die prys (hoewel jy jou ruimte met ander reisigers moet deel). Die lodge is ’n samevoeging van retro- Skandinawiese elegansie met ’n Afrosjiek-kinkel, met ’n paar prettige elemente soos spookasempienk bybehore en neonpienk lampe. Elke eenheid het ook sy eie private plonspoel.

Ek het heerlik aan ’n mengeldrankie in die lodge se sitkamer geteug, waar ’n neonpienk buislig “One Night in Namibia” gekoggel het. Selfs die kos pas in by die pienk kleurskema, met aarbeipap wat op kougompienk breekware bedien is vir ontbyt.

Vanaf R2 142* per persoon per aand, ontbyt ingesluit.The Namib Dune Star bied ook uitstekende waarde vir geld vir Suid-Afrikaners, teen R1 289* per persoon per aand, ontbyt ingesluit. Dis ’n wegbreek vir reisigers wat op soek is na meer aardse, onopgesmukte verblyf. Die nege ekovriendelike seilhutte, wat op die rooi duine van die Namib geplaas is, het eindelose uitsigte oor die woestyn. Besoekers kan ook ’n komplimentêre woestynuitstappie geniet, waar jy saam met ’n gids in die veld stap en meer uitvind oor die Namib se kleiner vreugdes – die reptiele, plante, voëls, en ja, skerpioene. Die beddens het almal wieletjies en saans kan jy jou bed op die dek uitstoot en onder die sterre slaap.

Knus toegedraai in ’n duvet het ek myself aan die sterrehemel bokant my vergaap. Ruimte bokant my, om my, eindelose wonderlike ruimte.

Besoek gondwana-collection.com vir meer inligting of bel +26 4 061 427 200


Groot afslag vir Suid-AfrikanersSuid-Afrikaners en lede van die SAOG-lande kan vir R300 per persoon ’n Gondwana-kaart koop, wat hulle tot 40% afslag by Godwana-eiendomme bied. Die kaart bied jou:


40% afslag op verblyf, wat bed en ontbyt insluit;


40% op jou aandete (uitsluitende Klein-Aus Vista);


25% afslag op jou aktiwiteite;


40% afslag op kampeerverblyf (dit sluit die Klein-Aus Vista kampeerterrein uit); en


40% afslag op Godwana se Camping2Go.


Die kaart is geldig vir vyf jaar. Besoek gondwana-collection.com.


Die tariewe is reeds bereken met die Gondwana-kaart se afslag.

So lyk koffie en beskuit in die bed by The Desert Whisper.
Sossusvlei

Sossusvlei en die ikoniese Dooie Vlei is van Namibië se gewildste toeristeaantreklikhede. Albei is geleë in die Namib-Naukluft Nasionale Park, sowat 110 km, of twee uur, se ry van die Gondwana Namib Park-natuurreservaat. As jy vroeg in die park wil wees en die sonsopkoms op die Big Daddy-duin wil beleef, bly eerder naby die ingangshek of binne die park.

Namib Desert Lodge was die eerste hotel in die park en is steeds ’n staatmaker onder reisigers. Bed en ontbyt vanaf R1 101 per persoon.

Namib Camping2Go is reg langs die oorspronklike lodge en as jy hou van kampeer, maar nie jou eie tent wil opslaan nie, is die verblyf perfek. Die tente, wat ook en suite is met hul eie kombuis, staan onder kameeldoringbome. As jy nie lus is om kos te maak nie, kan jy van die lodge se restaurant gebruik maak. Daar is ook ’n swembad. Vanaf R410 per persoon selfsorg.


Gondwana het ook hul eie motorhuurafdeling, Namibia2Go. Ek het die pad gevat in ’n lemmetjiegroen Suzuki Jimny, wat beslis die koppe laat draai het.


Voor jy waai

Jy moet ’n negatiewe Sars-CoV-2-polimerasekettingreaksie- (PCR)-toetsuitslag by die grenspos of paspoortbeheer indien, wat nie ouer as 72 uur is nie. Dié toets moet deur ’n gesertifiseerde laboratorium uitgereik word en verkieslik in Engels wees. Maak ook seker of die lughawe waarnatoe jy vlieg hul eie vereistes het.

Indien jou toets tussen 72 uur en sewe dae oud is, mag jy steeds die Namibiese grens oorsteek, maar jy gaan vir sewe dae in kwarantyn moet wees – by jou blyplek of in ’n plek wat die regering aanwys. Die kwarantynverblyf en al die onkoste wat daarmee gepaardgaan, soos opvolgtoetse, moet jy self betaal. As jou resultate ouer as 72 uur is, moet jy ook ’n Namibiese nommer hê waar jy bereik kan word.

Maak dus seker jou toetsuitslag is nie ouer as 72 uur nie, om ekstra uitgawes en rompslomp te vermy.

Paspoort, registrasie, Covid-19-toets

Maak seker jy het saam met al jou ander reis -en motordokumente, ook die volgende gesondheidsdokumente:

1. ’n Voltooide gesondheidsvraelys van die Namibiese departement van gesondheid en maatskaplike dienste.

2. ’n Voltooide waarnemingsvorm van die Namibiese departement van gesondheid en maatskaplike dienste.

3. Jou negatiewe Covid-19-resultate en ’n afdruk van jou reisplan.

Die vorms kan afgelaai word by die Namibiese toerismeowerheid se webwerf: https://namibiatourism.com.na/.

Met jou terugkeer

Jy het weer ’n negatiewe toets jonger as 72 uur nodig wanneer jy terugkeer na Suid-Afrika, maak dus seker jy beplan jou reis rondom ’n dorp of stad wat Covid-19-toetsgeriewe het.

Die inligting was teen druktyd akkuraat, maar kontak die Namibiese toerismeowerheid by +264 61 290 6000 of info@namibiatourism.­com.na vir die nuutste inligting oor grensposte wat oop is en Covid-19-maatreëls vir reisigers.

Foto:

Van Zyl was ’n gas van die Gondwana Collection, wat ook die uitgawes van haar reis gedek het.

Aanvullende bron: Weg

Meer oor:  Namibië  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.