Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
St. Helenabaai is ’n trotse vissersdorp met vele pêrels

Met die see slegs minute van die witgekalkte huise en die reuk van vars snoek wat soms in die lug hang, is St. Helenabaai een van die pragtigste kusdorpies aan die Weskus. Tasneem van Rooyen lig die hoogtepunte uit.

As jy die kusleefstyl, vars seekos en stilte waardeer, is St. Helenabaai die perfekte plek vir jou. Foto: Belinda Jackson

Dit neem jou seker net ’n halfuur op die meeste om St. Helenabaai van bo tot onder deur te draf. Dis nou te sê as jy nie elke vyf minute die kamera uithaal om nog ’n ongelooflike seetoneel te kiek nie.

Soos jy deur die dorpie ry, sien jy die see aan jou regterkant en fassinerende heuwels aan jou linkerkant.

Dit is hier waar verskeie visfabrieke soos Lucky Star, Oceana Brands, Pioneer Fishing en West Point Processors die seekos verwerk wat jy by die supermark in jou trollie laai.

By die Sandy Point-hawe kry jy die beste vis en tjips in dié geweste en tydens die visseisoen kan jy kyk hoe plaaslike inwoners blitsvinnig visse vlek soos dit van die bote af kom.

Hier is tyd geld, en vis is die meerderheid van die inwoners se brood en botter. As jy groot, vars snoeke soek wat slegs minute tevore uit die see getrek is, moet jy by dié hawe gaan draai.

Dit was ook op hierdie einste strande waar Vasco da Gama destyds aangeland het. Gaan kyk gerus na sy monument onderweg na Stompneusbaai.

By die gesogte Shelley Point-ontwikkeling voel jy asof jy op ’n eiland is danksy die groenigheid teen die see, die vuurtoring en die besonderse ligging.

Verder het St. Helenabaai lieflike blomme gedurende die blommetyd, verskeie voël­soorte, luukse gastehuise en restaurante waar jy aan heerlike kos kan smul.

Hier is ’n paar plekke waar jy kan gaan kuier:

Die St. Helenabaai-hotel bied luukse verblyf met pragtige see-uitsigte. Foto: Belinda Jackson

1. St. Helenabaai-hotel: Vir bekostigbare, maar steeds luukse verblyf, bespreek by dié hotel. Die kamers het pragtige uitsigte oor die see en Steenberg’s Cove.

Daar is verskeie verblyfopsies asook geriewe soos ’n swembad en kroeg. In die restaurant kan jy kom smul aan die heerlikste Weskus-geregte.

Vir meer inligting, skakel gerus 022 736 2373 of besoek die webtuiste by www.sthelenabayhotel.co.za.

De Palm is ’n besonderse restaurant wat ook speelplek vir kinders bied. Foto: Belinda Jackson

2. De Palm-restaurant en -kroeg:Die restaurant is onder ’n massiewe palmboom neffens die Sandy Point-hawe geleë. Hulle bedien groot porsies seekos teen billike klein-dorpie pryse.

Dié ontspanne kuierplek het speelplek vir kinders, af en toe stalletjies met plaaslike aandenkings en sitplek buite. Jy en jou gesin moet beslis ’n draai gaan maak. Skakel 071 306 3582 vir meer inligting.

Lê weg aan watertand seekosgeregte by Oppikaai. Foto: Belinda Jackson

3. Oppikaai: Dié restaurant is reg op die kaai waar jy die geklots van die see en gekras van seevoëls kan hoor. Daar is gemaklike sitplek binne en buite.

Verder bedien Oppikaai ook die smaaklike geregte waaraan Weskussers gewoond is.

Jy kan selfs die hele plek vir ’n spesiale geselligheid bespreek. Dink net hoe pragtig sal jou partytjie wees met die see in die agtergrond.

Vir meer inligting, skakel 081 792 1338 of stuur e-pos na oppikaai@gmail.com.

Living Jewel in Brittaniabaai is ’n bekostigbare selfsorggastehuis net ’n klipgooi van die see. Foto: Belinda Jackson

4. Living Jewel: Hierdie selfsorggastehuis is beslis ’n juweel in Brittaniabaai. Dié oopplan-eenheid is netjies met gehalte-afwerkings en ideaal vir twee mense.

Vir gaste se gerief is daar Netflix, Wi-Fi en dit is slegs 200 m van die see af. Die kersie op die koek is die dammetjie met kleurvolle Koi-visse.

Jy sal nie glo hoe spotgoedkoop dit is om ’n nag hier deur te bring nie. Hier kan jy rustig ontspan en die plekkie gebruik as ’n wegbreek van die gewoel van die lewe.

Skakel gerus 083 261 6353.

Meer oor:  St. Helenabaai  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.