Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Stad vir stappers en krap-eters
As jy ’n week in Washington DC kuier, doen dié dinge, skryf Gayle Edmunds. 

’n Oorblyfsel van die World Trade Center.

Washington DC is ’n stad vir stappers. In die lente en somer is die grasperke groen, die strate omraam met kleurvolle blombeddings en groot blaarryke bome en die lug warm en vogtig. En die enigste waarskuwing wat vir stappers geld, is om altyd ’n sambreel byderhand te hou, want dit reën gereeld en onverwags.

Washington is ook ’n fietsryer-vriendelike stad. Daar is oral op die besige weë fietslane, sowel as voetslaanroetes na die woonbuurte.

Die metrotreinstelsel is goedkoop en maklik om te gebruik, daar is gratis busse van die een kant van die stad na die ander, watertaxi’s wat jou na die ou stad Alexandria neem, en vir die gemaksugtige reisiger helderrooi metertaxi’s en natuurlik Uber.

Al my Uber-bestuurders was interessant. Hulle bestuur taxi’s na-ure om hul inkomste aan te vul, en almal het saamgestem dat die lewenskoste in Washington meer is as een voltydse salaris.

Wat Washington nie is nie, is ’n stad vol Donald Trump-ondersteuners. Jy sal ver soek om een te vind, want 97% van die inwoners is – volgens een van my toergidse – Demokrate.

Washington is ook ’n gestruktureerde stad. Dis ontwerp op ’n rooster met die Capitol in die middel. Die strate noord en suid van die Capitol is genommer en dié wat na oos en wes strek is genoem met letters. Die vreemde ding is, daar is geen J-straat nie. Skinderstories het te vertel dat die stadsbeplanner, Pierre L’Enfant, nie gehou het van regter John Jay, een van die grondleggers van die Verenigde State van Amerika en die VSA se eerste hoofregter, nie.

Washington DC, wat simbolies gebou is op twee stukke grond wat geskenk is deur Virginië in die suide en Maryland in die noorde, het ook hope gratis doendinge vir toeriste. Net in die National Mall is daar 11 kunsgalerye en museums wat uiteindelik meeste van die 19 eiendomme van die Smithsonian Institution uitmaak.

Vyf uitstappies vir vyf dae in die hoofstad

By die Maine Avenue-vismark is krap volop in Junie.

1. The Wharf

Dis ’n luukse nuwe waterfrontontwikkeling waar die Potomac- en Anacostiarivier bymekaar kom. Die Maine Avenue-vismark, waar ’n mens al sedert 1805 vars vis kan koop, word onder meer hier gehuisves. Met my besoek in Junie was dit sagteskelet- en bloukrap-seisoen, so dié lekkernye was oral in die mark te koop.

’n Sjef sal jou krap vir jou gaarmaak terwyl jy wag, of, as jy ’n bietjie afstand tussen jou en jou lewendige middagete verkies, kan jy by Hank’s Oyster Bar ’n paar honderd meter van die mark af gaan aansit. Ons het sagteskeletkrap-burgers op soetrolletjies met skyfies geëet. Dit was nogal ’n kultuurskok. Ek stel voor: Bestel eerder die kreef-rolletjie met macaroni-en-kaas – en gaan stap dan ’n ver ent.

Kehinde Wiley se vrolike skildery van oud-pres. Barack Obama hang in die National Portrait Gallery in die National Mall.

2. Die National Mall

Trek jou stapskoene aan en gaan na die Mall, maar besluit vooraf watter van die legio museums jy wil besoek. Jy het ’n toegangskaartjie nodig om die nuutste toevoeging, die National Museum of African American History and Culture, te besoek, maar daar is heelwat gratis museums ook.

In die American Museum is onder meer die sjef Julia Child se volledige kombuis nes dit in haar huis was, die oorspronklike Star Spangled Banner, en ’n verfrommelde stukkie van die World Trade Center wat in 2001 ná ’n terroristeaanval inmekaargestort het. Die Batmobile uit Tim Burton se Batman-fliek van 1989 word ook daar uitgestal.

Dis ook die moeite werd om te gaan kyk na die skilderye van die voormalige presidentspaar Barack en Michelle Obama in die National Portrait Gallery. Daar’s ook baie ander Amerikaanse leiers teen die mure, maar dié van die Obamas het besoekersgetalle met duisende laat toeneem.

Onthou om te begroot vir die interessante items in die talle museumwinkels. Die beste ding wat ek gekoop het, was bevriesdroogde roomys, nes dié wat die ruimtevaarders eet.

Een museum waar jy toegang moet betaal, maar wat jy nie moet misloop nie, is die International Spy Museum. Jy kry ’n geheime kodenaam by die ingang en sal moet ingaan om uit te vind waarom . . .

Grafstene in die Arlington-begraafplaas.Foto: istock

3. Die Arlington-begraafplaas

As jy ’n idee wil kry oor hoe ernstig die Amerikaners oor hul weermag is, besoek die Arlington-begraafplaas. Dis oorspronklik uit wraaksugtigheid gebou op grond wat afgeneem is by oudgenl. Robert E. Lee van die Amerikaanse Suide en sy vrou, Mary Anna Custis Lee. Die Lees se huis is op die terrein, ook die Kennedys se grafte en die Grafkelder van die Onbekende Soldaat.

In warm weer is daar elke 30 minute ’n dramatiese aflossing van die wag, uurliks in koue weer.

Die oorskot van ongeïdentifiseerde soldate uit die Eerste en Tweede Wêreldoorlog is hier begrawe as simbool van die Amerikaanse soldate wat in die buiteland dood is. Die oorskot van die onbekende soldaat uit die Viëtnamoorlog wat aanvanklik daar begrawe is, is in 1998 opgegrawe en met DNS-toetse geïdentifiseer. Daarom is dié graf nou leeg.

Bespreek ’n toer wat begin by die grafte en jou ook neem na die Iwo Jima-gedenkteken en die Washington-gedenknaald, en moenie die Abraham Lincoln- en Martin Luther King-museum misloop nie.

George Washington se huis in Mount Vernon.Foto: getty

4. Mount Vernon

’n Bootrit van sowat 90 minute op die Potomacrivier neem jou na Amerika se heel eerste president, George Washington, se huis. Die huis is in 1858 by die Washington-familie gekoop en word sedertdien deur die Mount Vernon-vrouevereniging onderhou.

Benewens die groot huis, waar die kamers steeds in style uit die 1700’s versier is, is daar ook ’n werkende pioniersplaas, ’n stokery en koringmeule, en ’n museum en geskenkwinkel.

Aan die voet van die heuwel waarop die huis staan, is ’n replika van die klein houtgehuggies waarin die slawe wat aan Wash-ington behoort het, gewoon het. Binne is ’n historikus wat jou vrae kan beantwoord oor die mense wat hier gewoon het. Dis nie verbasend dat daar weinig geboorte- en sterfte-gegewens van die slawe is en geen van hul huwelike erken is nie. Gevolglik is daar min te leer oor dié mense se lewe op die landgoed.

Een van die hoogtepunte van hierdie uitstappie is die bootreis, wat jou neem verby die ongelooflike woude langs die rivier wat bewaar word en jou herinner hoe dit 200 jaar gelede hier gelyk het.

In ’n feestelike Ierse kroeg in Alexandria het ’n vriendelike kelner ons drankies be­dien. Foto’s: gayle edmunds

5. Alexandria

Neem ’n watertaxi vanaf die Wharf na die ou stad Alexandria. Dis ’n daguitstappie werd.

Besoek die Torpedo Factory-kunssentrum waar 82 kunstenaars se ateljees asook sewe kunsgalerye geleë is. Soos die naam sê, is dit ’n gebou waar torpedo’s vervaardig is gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Drentel oor die keistene van King Street en die Ou Stad en wanneer jy moeg is, bestel ’n drankie by een van die vele kroeë. Daar’s ook spooktoere en ’n kans om geskiedkundige opvoerings by die Market Square-museum te sien.

Meer oor:  Washington Dc  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.