Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Stap die Griekse eilande

Jannie van Rensburg se Griekse avontuur begin nog voor hy eie bodem verlaat het. Dit begin met ’n militêre staatsgreep in Soedan.

Kliphuisies van honderde jare oud is oral op die Griekse eilande te sien. Foto: Jannie van Rensburg

Omar al-Bashir, wat self met ’n staatsgreep in 1989 aan bewind gekom het, word omver gewerp en in die tronk gesmyt. Die omverwerpers verklaar die lugruim bokant Soedan tot verdere kennisgewing gesluit – einste lugruim wat ons vliegtuig wou oorsteek op pad na Istanbul.

Dit beteken ons moet ’n ompad vat, wat beteken ek verpas my aansluitingsvlug na Athene en gevolglik ook die veerboot na Siros. Ons land knap na 08:00 by Istanbul se splinternuwe lughawe. Die volgende vlug na Athene is eers 19:00 die aand.

Istanbul-lughawe het enkele dae voor my aankoms oopgemaak, en word gereken as een van die grootstes ter wêreld. Ek sal weet. Tussen 08:00 die oggend en my vertrek 19:00 die aand het ek amper ses kilometer in sy sale gestap. Om die tyd om te kry, en omdat die splinternuwe lughawe nie veel sitplek bied nie!

Dit was heerlik om einde laas voet aan wal te kon sit op Griekse bodem!

Witgekalkte huisies maak deel uit van die landskap op die Griekse eilande. Foto: Jannie van Rensburg

Daar is nie minder nie as 6 000 eilande rondom Griekeland, waarvan 227 bewoon word. My doelwit was om vier daarvan – Siros, Tinos, Andros en Evia – te besoek. Dis eilande van suurlemoen-, olyf-, vye- en plataanbome. Dis velde vol roosmaryn, origanum, tiemie en roket. Met die soet geur van sitrusbloeisels waar jy langs antieke paadjies stap en jou verkyk aan die witgekalkte huisies met hul blou deure en vensterkosyne. Dis eilande vol spierwit klein kerkies, met onbesoedelde lug onder die blouste van blou hemels.

By Siros gaan ek by Ermoupolis tuis, en stap so agt kilometer na die pragtige kusdorpie Kini waar ek aansit vir middagete; pangebraaide eiervrugskywe in joghurt, olyfolie en suurlemoen met vars kruie – gevolg deur calamari en klein diepgebraaide vissies.

Die dorpsplein van Pirgos met sy strate van marmerplaveisel. Foto: Jannie van Rensburg

Daar is duisende katte wat vrylik rondloop, nie net op Siros nie, maar op elkeen van die eilande wat ek besoek het. ’n Ware kathemel! Die eilande is ook besaai met klipmuurtjies wat inwoners destyds gebou het as terrasse vir graangewasse soos gort en koring. Oestyd was bedrywig, en plaaswerkers moes van soggens tot saans swoeg om dit betyds in te kry, voor die reën alles bederf. Daar was nie altyd tyd om na afloop van die dag huiswaarts te keer nie, en kliphuisies is plek-plek opgerig waar die werkers met hul oes en gereedskap oornag kon tuisgaan.

Dié gebruik het na die Tweede Wêreldoorlog in onbruik verval toe dit goedkoper geword het om gewasse uit Amerika in te voer.

Veel ouer as die klipmure, is die bouvalle by Chalandriani van sowat 2600 vC, wat uit die vroeë bronstydperk dateer.

Die eiland Tinos spog met 60 tradisionele ou dorpies en etlike windmeulens uit vergange se dae. Jy sal ook heelwat duiwehokke op die eilande sien. Vir die inwoners destyds was duiwe nie net ’n belangrike bron van proteïene nie – die mis is ook gebruik vir bemesting.

Op die eiland Tinos spog die dorpie Pirgos se strate, soos baie ander dorpies in die omgewing, met spierwit marmerplaveisel.

Aan die buitewyke van die dorp is ’n marmermuseum. Marmer word steeds hier verwerk, en van die bekendste marmerbeelde in Griekeland, Italië en elders het hul oorsprong in hierdie skilderagtige omgewing.

Van Pirgos af volg ’n paadjie na Panormos, ’n kusdorpie met talle tavernes langs die kristalhelder see.

seekos
Die geur van seekos is onweerstaanbaar vir die katte van Kini, ’n pragtige klein kusdorpie op die eiland van Siros. Foto: Jannie van Rensburg

’n Antieke Romeinse pad lei jou uit Tinos na Xompourgo, waar die oorblyfsels van ’n vesting uit die jaar 1207 dateer. Die Venesiërs wat die eiland destyds beset het, het dit gebou om hulself teen die aanslae van seerowers te beskerm. Die vesting bo-op die 640 m hoë rots het tot 1715 staande gebly, toe die Turke onder Ottomaanse bewind die eiland oorneem en die vesting vernietig. ’n Marmerkruis is ’n honderd jaar gelede op die kruin staangemaak. Heel ironies is die boonste deel van die kruis deur weerlig vernietig die dag toe ek op Tinos aankom!

Op die eiland Andros is ’n merkwaardige klooster hoog bokant Mesaria teen die hange van Livadia, genaamd Panachrandou. Dit dateer uit die 12de eeu – en word tans deur slegs drie monnike bewoon!

Evia is naas Kreta die grootste Griekse eiland. My oornagplek daar is Karistos, vanwaar ek ’n bus neem na die 1 000 m hoë piek van Ochi. Ons rit na bo word vertraag deur etlike abnormale-vragmotors wat dele van wind-turbines vervoer. Die omgewing is besaai met die herwinbare energiebron.

Dis vroeg lente in Griekeland, en plek-plek lê sneeu nog soos wit waslappe teen die hange van die berg.

Van die piek af volg ons die Dimosari-ravyn tot onder by seevlak. Die helder bergstroom en die reuse-plataanbome met hul byna boheemse vorms, sorg vir ’n onvergeetlike stap.

My besoek aan die vier eilande in April vanjaar het my R37 000 uit die sak gejaag – reis, verblyf en etes ingesluit.

In dié tyd het ek sowat 120 km gestap – myns insiens, die beste manier om die eilande te ervaar!

Meer oor:  Griekeland  |  Griekse Eilande  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.