Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Stap wys land van kontraste

Johan van der Hoven en sy vriendin het besluit om vanjaar Peru te gaan verken en gevind dis ’n land.

Meer as 2 000 kliptrappe berg-uit moet eers geklim word voor jy by die wonderstad Machu Picchu in Peru kan kom. Foto: Johan van der Hoven

Ons drie weke-lange reis het begin met drie dae se staptog in die Colca-can­yon, die tweede diepste canyon ter wêreld.

Daarna het ’n staptog van 70 km deur die Andes-gebergtes na Machu Picchu, een van die sewe wonders van die wêreld, gevolg. Ons het ons staptogte afgesluit met ’n besoek aan die reënbooggebergtes wat meer as 5 000 m bo seevlak is.

Tussendeur die staptogte het ons die hoofstad, Lima, die historiese stad Cusco, asook verskeie afgeleë primitiewe dorpies besoek.

Op pad na die canyon was ons gelukkig om kondorvoëls te sien sweef op lugstrome vanuit die asemrowende canyon. Kondors, die grootste vlieënde voëls, het ’n gewig van tot 15 kg en ’n vlerkspan van tot 3 m.

Met ons terugkeer vanaf die canyons het ons ’n uitbarsting van die Sabancayo-vulkaan gesien, iets wat nie gereeld gebeur nie.

’n Verlate kafee langs die Salkantay-roete. Foto: Johan van der Hoven

Die stap deur die Colca-can­yon, wat ’n kloof deur die Andes-gebergtes is, het begin met asemrowende uitsigte wat te verwagte was, siende dat die canyon ses keer dieper is as Namibië se Visrivier-canyon.

Die Cocarivier kon ’n mens soos ’n dun aar ver onder tussen die magtige kranse sien, terwyl ’n paar afgeleë dorpies teen die hange van die berg vasklou.

Hierdie dorpies (ons het by sommige ook oornag) word steeds bewoon deur mense wat selfonderhoudend is en baie naby aan die aarde leef. Hierdie dorpies, waarvan die inwonertal soms minder as 20 is, kan net te voet of perd bereik word.

Dit het ons ’n volle dag geneem om in die canyon af te stap na ons eerste oornagdorpie, San Juan de Shuccho. Ons het ons primitiewe kamer verwelkom, asook die plaaslike kos wat die eienaar voorgesit het. Anna, my vriendin, het die alternatiewe dis, llamavleis, bestel. Llama en onder meer marmot is deel van Peru se tradisionele kosse.

Die volgende twee dae se stap was onbeskryflik. Die uitsig vanuit die canyon, die verskeidenheid plante, paadjies teen regaf kranse wat voel asof dit ’n mens insuig en die talle waterstrome uit die berg was ’n ondervinding.

Die skrywer en sy vriendin by die reënbooggebergtes. Foto: Verskaf

Die tweede aand het ons oornag in ’n blyplek teen die hange van kranse, waar ’n warmwaterswembad gevoed word uit ’n bron vanuit die maag van ’n vulkaniese berg.

Ons laaste dag berg-op teen die sig-sag steil paadjie was een van die moeilikste dae in my lewe.

Ná twee dae om te akklimatiseer in Cusco, die historiese stad van Peru, het ons die Salkantay-roete na die “verlore stad van die Inkas”, Machu Picchu, deur die Andes-berge en woude aangepak.

Die 70 km-roete is ’n baie strawwe roete wat strek oor vier nagte en vyf dae. Ons het ’n berekende kans gevat deur die roete te stap, nie net sonder gidse nie, maar ook sonder tente. Ons is ten sterkste afgeraai om dit te doen, want mense doen die roete net met gidse waar perde die bagasie dra en kos en verblyf voorsien word. Alles het gelukkig goed vir ons uitgewerk.

Op hierdie moeilike roete is ons beloon met verstommende uitsigte, watervalle, digte Andes-woude, verskeie tropiese plante en blomme, wilde piesang- en koffieplantasies, ’n meer aan die voet van ’n toegesneeude berg en ’n sneeuberg op die hoogste punt (4 650 m).

Om by ons bestemming uit te kom moes ons die laaste oggend meer as 2 000 kliptrappe berg-uit na Machu Picchu klim, net betyds om een van die sewe wonders van die wêreld deur die mistigheid te sien ontvou.

Argeoloë glo dat Machu Picchu as ’n landgoed vir die Inka-keiser Pachacuti (1438-1472) gebou is. Machu Picchu is gebou rondom 1450, maar is verlaat toe die Spanjaarde dié deel van Peru binnegeval het. Machu Picchu is eers in 1911 herontdek deur Hiram Bingham, ’n Amerikaanse historikus.

Die stad met meer as 200 geboue is in die unieke Inka-styl gebou – granietblokke wat tot 50 ton weeg, sonder enige hegmiddel tussen die blokke. Dit pas so perfek op mekaar dat daar op geen plek eens ’n naald tussen die stene kan inpas nie.

Die Colca-canyon waar ’n drie-dae-lange staptog begin het. Foto: Johan van der Hoven

Geen ysterinstrumente of trekdiere is glo gebruik met die bou van die stad nie. Daar word geglo dat honderde mans die blokke gemaak en opgestapel het.

Terug in Cusco het ons ’n begeleide toer geneem na die reënbooggebergtes. Hierdie kleurryke berge is meer as 5 000 m bo seevlak. Ons het baie mense gesien wat moes terugdraai as gevolg van hoogtesiekte. Die turkoois, rooi, blou en goue kleure van die berg is as gevolg van mineraalneerslae op die berg.

In die dorpies en stede het ons tyd gehad om die land se kultuur, geboue, tradisionele kosse, kleredrag en ander besienswaardighede te verken.

Verblyf, kos en plaaslike vervoer is baie bekostigbaar.

Die verkeer in Peru is nie vir bangbroeke nie en dit blyk dat geen reëls bestaan nie. Die paaie is smal en omdat Peru bergagtig is, word daar meestal op die rantjie van afgronde gery.

  • Meer inligting: johan@prosinnovations.com
Meer oor:  Machu Picchu  |  Johan Van Der Hoven  |  Cusco  |  Peru  |  Lima  |  Reis  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.