Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Stormsriviermond: Vertoef in dié paradys

Een van die hangbrûe oor die Stormsriviermond. Foto’s: Clifford Roberts
Die tuin van die Tuinroete soos Tsitsikamma bekend staan, is ’n ware Eden vir ’n buitelug-entoesias, skryf Maryke Roberts.

Drie nagte in die Stormsriviermond-kamp van Sanparke se Tuinroete Nasionale Park gee jou genoeg tyd om een dag lekker ver te stap en onder ’n waterval te swem, sodat jy die volgende luilekker kan ontspan en die uitsig geniet.

Dié park is ook die tuiste van die uitmergelende Otter-staproete, maar ons verkies die buitelewe met matigheid, soos my wyse ouma altyd gemaan het.

Dis skaars goed donker, toe klim ons in die bed met die duvet tot onder ons neuse opgetrek en die suising van die see in ons ore.

Gelukkig is daar verskeie kort staproetes, waaronder die Loerie (1 km); Mond (2 km); Blouduiker (3,7 km) en Waterval (6 km). Ons beplan ons dae dus om hierdie staproetes sodat daar genoeg kans vir lang braai-aande op die stoepie is, of net op die rotse sit en voëls kyk.

Aangekom by ons houthuisie, die laaste een teen die berghang, is ons motor afgepak, ons musiek ingeprop en het die wynkurk vinniger geklap as wat jy kan sê “hangbrug”.

Dis skaars goed donker, toe klim ons in die bed met die duvet tot onder ons neuse opgetrek en die suising van die see in ons ore. Ons slaap met die deure en vensters en gordyne wawyd oop. Dis Oktober. Ons kry amper te koud van die seelug, maar dis warm en knus onder die duvet.

Die heerlikheid van koele water nadat jy moeg gestap is.
Swem soos jy wil

Dis net-net lig, toe sit ons met ons koffie en beskuit op die stoepie. Die kamp ontwaak stadig en daarmee saam die see­voëls en dassies, wat half koud en styf uit hul gate kruip.

Ons pak ons rugsakke en durf die Waterval-roete aan. Ons het lanklaas gestap en gou stroom die sweet en ons blaas soos kwaai bulle. Gelukkig het ons heeldag. Ons neem ’n rustige pas, stop vir foto’s en haal die verkyker uit om voëls te kyk.

Ons sit gereeld op ’n klip en kou aan ’n stukkie biltong of ’n droë vruggie en laat die ander stappers verbygaan. Ons sien eers ’n paar dolfyne en later walvisse. Daar is niemand om dit voor te wys nie, wat ons spesiaal laat voel. Die paadjie wat ons stap, is goed uitgetrap en met geelgeverfde voetspore gemerk: oor die klippe, onderdeur die bome, oor ’n stroompie en verby ’n reuse-grot.

Die koue, bruin water van die beskutte rotspoel en die val wat van bo tuimel en skuimpatrone op die water maak, laat die seer voete en sweterigheid vergete.

Dis so drie uur later toe die waterval voor in die pad raas. Die koue, bruin water van die beskutte rotspoel en die val wat van bo tuimel en skuimpatrone op die water maak, laat die seer voete en sweterigheid vergete. Een ná die ander stappers kom aan; sommige swem sommer in hul klere, ’n groep Russe swem kaal en ’n vrou van die Midde-Ooste is van kop tot tone bedek, maar almal lag ewe uitgelate.

Dis lank ná middagete toe ons uiteindelik afdroog en die pad terug aanpak. By ons huisie gekom, is die koffie en warm stort ’n lekker lafenis.

Die watervalroete neem jou seelangs.
’n Klippekoor by die brûe

Laatmiddag stap ons in die teenoorgestelde rigting na die hangbrûe oor die Stormsriviermond. Ons stap in gelid agter ’n groep toeriste met duikpakke aan wat een of ander watersport op die rivier gaan geniet.

Die twee hangbrûe is elk sewe meter hoog, die een 39,5 m lank en die ander 50,5 m. Natuurlik steur niemand hulle aan die borde wat sê jy mag nie op die brug spring of dit wieg nie en kort-kort hoor jy ’n beangste gil van iemand wat in die middel van dié wiegende brug vasklou, terwyl ’n boetie of kêrel op die punt staan en skaterlag.

Ons stap oor die brug wat na die anderkant van die riviermond strek en gaan sit op ’n yslike klip. Hier bestaan die strand uit klippe en die golwe begelei ’n klippekoor. Mense kom om ons sit en maak video’s of klankopnames.

Ons het ons jenewer en tonikum en droëwors saamgedra en sit en kyk hoe die kamp in die verte goue rande kry en die braaivleisrokies stadig in die hemel opdwarrel.

Ons huisie was die laaste een in die ry.
Salig alleen

Die volgende oggend is ek styf en lui. Ons stap weer na die hangbrug om die sonsopkoms te waardeer en hierdie keer is ons alleen tussen die oorhangplante en die luidrugtige voëls.

Dis ’n heeltemal ander ervaring as die vorige aand se “spitsverkeer”. Ons sit en lees lank op ’n beskutte bankie voor ons terugstap vir ’n laat ontbyt.

As mens rustig stap, het jy tyd om die klein dingetjies te waardeer.

Die res van die dag lees ons, speel bordspeletjies en vang ’n middagslapie voordat ons weer die vuur aansteek vir ons laaste braai.

Môreoggend is dit vroeg in die pad val om hierdie heilige plek agter te laat. Die seemeeue wat met sonop op die nok van ons huis kom sit, roep weemoedig.

En dit voel presies soos die klip in my hart omdat die tyd so verbygevlieg het toe ons begin pak.

  • Die Stormsrivier-ruskamp is 67,5 km van Plettenbergbaai en 117,8 km van Jeffreysbaai op die N2.
  • As jy die Otter-staproete wil aandurf, neem in ag dat dit oor vyf dae en vier nagte strek. Die totale afstand wat jy aflê, is 45 km. Besprekings is lank vooruit nodig.
  • ’n Selfsorg-chalet kos vanaf R1 375 per nag. Dis daaglikse bewaringstariewe uitgesluit.
  • Kry meer inligting oor die roete en verblyf in die park by 012 428 9111, reservations@sanpark.org of www.sanparks.org.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.