Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Suid-Afrika se hoogland

’n Ooglopend ervare kunsvlieghengelaar saam met sy seun langs die water. Foto’s: Sam J. Basch
Plek van ewige mis. Dis  hoe Dullstroom se eerste inwoners na die dorp verwys het – Nederlanders wat toe summier huiswaarts gekeer het. Maar vir Sam J. Basch is Dullstroom altyd ’n besonderse ervaring.

Daar is mense wat die omgewing van Dullstroom as Suid-Afrika se Skotse Hoogland beskryf. Die geplooide landskap en ruwe kliprante waaraan die klam koue kleef – en ja, sekerlik die ewigdurende mis – herinner nogal aan die Highlands.

Dalk is dít juis sy aantrekkingskrag.

Sou jy douvoordag die knus warmte van jou bed prysgee, vind jy die hengelaars reeds langs die dam, lyne swiepend oor die stil water waar die forelle net onder die oppervlak luier.

Sou jy douvoordag die knus warmte van jou bed prysgee, vind jy die hengelaars reeds langs die dam, lyne swiepend oor die stil water waar die forelle net onder die oppervlak luier.

Kunsvlieghengel ís ’n kuns – of dan ’n vaardigheid. As leek verwonder ek my hoe die lenige stok geswaai word sodat die geveerde lokaas presies op die regte plek beland.

Nog ’n kuns, lyk my, is om die regte seisoen en tyd van die dag te ken en te weet watter “vliegie” jy wanneer moet gebruik. Want sien, die vis het voorkeure en daarvoor kies die entoesiaste uit tientalle soorte kunsvlieë met eienaardige benamings, soos Gold Ribbed Hare’s Ear, Red Eyed Damsel, of Orange Hotspot.

Dié word met kleurvolle fisantvere of konynhare geknoop, soms met ’n blink kraalogie, om ’n drywende “insek” na te boots wat die niksvermoedende vis na die koshappie lok.

Critchley Hackle se ontbytkamer in die vroeë oggendlig. Die verblyfeenhede is rondom die eendedam geleë.
Forel op die spyskaart

Maar vir ons twee wat by die vierster-Critchley Hackle Lodge in Dullstroom oornag, is dit genoeg om te weet forel is op die spyskaart. Selfs vir ontbyt bestel jy gerookte forel en avokado-mousse saam met ’n geposjeerde eier.

Ons is reeds aanbeveel om hier aandete te geniet. Onder die voorgeregte is forel-mousse op melbaroosterbrood met roomkaas en gemarineerde olyfkrummels, terwyl jy vir hoofgereg pangebraaide forelfilette kan kies met gegeurde koeskoes, aïoli en groenteskyfies of gerookte forel-tagliatelle in ’n romerige witwynsous, met parmesaan besprinkel.

’n Hengelaar is reeds vroegoggend langs die water.

Vonnie Craffert, Critchley Hackle se eienaar, vertel met trots hul sjef, Walkin Froise, is sonder twyfel die beste in Dullstroom.

“Die man se oë skitter sodra hy van kos praat.”

Wat beteken dié boetiekhotel se naam, wonder ek? Soos altyd help die internet: Critchley is ’n antieke Angel-Saksiese familienaam uit die Lancashire-streek van Engeland. Hackle is die nekvere van ’n fisant of ander pluimvee. Natuurlik! Dit dui op die vere wat die hengelaars vir kunsvlieë gebruik.

Vonnie het die onderneming enkele jare gelede gekoop en het pas die ou perdestalle omskep in moderne, gerieflike verblyf met kamers wat aaneenskakel vir groter gesinne. Die gewildste eenhede is dié met ’n uitsig oor die dam. Elkeen het ’n kaggel – en ’n stapeltjie brandhout byderhand – “want Dullstroom kán koud word,” sê hy.

Kom sit op die 19de eeuse sandsteengebou van The Old Transvaal Inn se stoep en drink of eet iets.
Verdryf die koue

Dis daardie koue wat jy met ’n lang whisky-proe gaan verdryf. Of smul aan stomende pannekoeke met soet- of soutvulsels by Harrie’s Pancakes. Nét die ding vir die wintermaande. Hier is tientalle interessante winkels, waar jy ook sjokolade of kaas kan koop, en koffiehuise wat hul koffie self rooster en maal sodat die aroma jou binnelok.

Die Belgiese wafelhuis is eweneens ’n trekpleister, ’n onderneming van Vonnie se vrou.

Oorkant is The Mayfly waar ons laatmiddag ’n skemerkelkie drink. Weer eens die verbintenis met forelhengel: “mayfly” in Afrikaans is die kokerjuffer of eendagsvlieg. Die nimf lewe in die water; die volwasse insek leef slegs ’n dag lank – vandaar eendagsvlieg.

Uit nuuskierigheid stap ons na die ou stasie. Geen treine loop meer deesdae nie, maar Dullstroom spog met die hoogste stasie in die land: 2 077 m bo seevlak. Die spoorlyn is destyds deur die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) gebou; in die tyd van pres. Paul Kruger se ZAR, oftewel die ou Transvaalse Republiek.

In die hoofstraat is juis The Old Transvaal Inn, ’n mooi sandsteengebou met ’n rooi sinkdak. Sit buite op die stoep en eet of drink iets – of oornag in een van die ses luukse kamers. Langsaan is ook verblyf in die geskiedkundige Rose Cot­tage B&B wat uit 1873 dateer. Hier koop jy heerlike vars brood. En moenie by die boekwinkeltjies verbygaan nie; jy ontdek dalk waardevolle Africana.

Allermins vervelig

Die Engelse woord “dull” kan jou dalk mislei, want Dullstroom is geensins vervelig nie. Die dorpie is vernoem na Wolterus Dull, ’n Nederlander wat in die 1880’s gehelp het om van sy landgenote in die ou Transvaal te vestig. Dis toe juis hierdie eerste inwoners wat gepraat het van “die plek van ewigdurende mis” – en mismoedig na Europa teruggekeer het.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is die dorp in 1900 erg deur Britse troepe verniel. Selfs die kerk is afgebrand, terwyl die vroue en kinders na die konsentrasiekamp by die nabygeleë Belfast weggevoer is.

Vandag is Dullstroom op die pragtige Panorama-roete en bied goeie oornagverblyf op pad na die Krugerwildtuin.

Die forelbedryf het in 1912 ontstaan toe die posmeester van Lydenburg ’n vis in die Dorpsrivier gevang het wat soos ’n forel gelyk het. Enkele jare later is forelle uit die Kaapse Wynland in die omgewing se strome vrygelaat en nog later in die munisipale dam.

Nog doendinge

Toeriste geniet dit om die berge te perd aan te durf of huur (of bring) ’n bergfiets. Vir kinders is die roofvoël-rehabilitasiesentrum buite die dorp ’n onvergeetlike ervaring. En onthou om bevrore forelpasteie by Milly’s te koop om tuis warm te geniet.

Meer oor:  Toeriste  |  Dullstroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.