Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Sy hart bly in Turkye

Liefde met die eerste oogopslag gebeur wel. Die Fransman Pierre Loti het dit in ’n oogwink in Istanbul geleer, skryf Ilse Zietsman.

Die hedendaagse uitsig oor Istanbul vanaf die Pierre Loti-koffiekafee op die Pierre Loti-heuwel.

Hoe het Pierre Loti in Turkye beland?

Pierre Loti was die skuilnaam van Louis Marie-Julien Viaud. Hy was ’n Franse vlootoffisier en skrywer wat op 26 Konstantinopel (tans Istanbul) besoek het.

As lid van ’n oorlogsvloot het hy in 1876 daar voet aan wal gesit. En soos so baie keer, begin sy liefdesverhaal met ’n aanblik in die smaraggroen oë van ’n vrou.

Kort ná sy aankoms sien hy Aziyade die eerste keer tydens ’n wandeling in een van die Moslem-buurte van Konstantinopel. Sy staan agter die tralie-afskorting van ’n “haremlik”, die vertrekke in ’n tradisionele Moslem-huishouding waar net vroue toegelaat word.

Aziyade was een van vier vroue van ’n bejaarde sakeman, Abeddin. Pierre was verbaas dat Aziyade ook na hom gestaar het. Sy sou dít nie waag met ’n Turk nie, inteendeel, volgens gebruik sou sy onmiddellik buite sig beweeg het. Pierre kon nie dadelik haar gesig sien nie, want sy was gesluier. Haar oë het hom egter bygebly.

Op dieselfde dag ontmoet Pierre vir Samuel, die bootman wat hom sou help om Aziyade in die geheim te ontmoet.

Met Samuel se hulp kry hy dit reg om ’n jaar lank in 1876 ’n geheime verhouding met Aziyade aan te knoop.

’n Turkofiel

Pierre was betower deur die Oosterse leefstyl en die Islam-geloof. Hy het die taal en gewoontes van Turkye aangeleer. Soos Turkse mans het hy ’n fes en jurk gedra.

Op 27 Maart 1877 moes Pierre egter Istanbul verlaat omdat sy vlootkontrak verstryk het. Hy het geweet hy kon slegs in Turkye aanbly as hy hom tot die Islam-geloof bekeer, sy vlootberoep laat vaar en by die Turkse vloot of leër aansluit. Dit sou sy ma se hart breek. Dus het hy sy lewe hier – en minnares – versaak.

Die Franse offisier Julien Viaud, wat onder die skuilnaam Pierre Loti geskryf het.

Agter skuilname versluier

In Frankryk aangekom het hy gesukkel om gewoonweg met sy lewe voort te gaan. Daarom het hy begin skryf.

In sy eerste boek, Aziyade, kon die werklike name van veral sy minnares en Samuel nie gebruik word nie. Die slot van die boek is versin, want die waarheid het maar gesorg vir vervelige leesstof. Dus keer Loti, die hoofkarakter in die boek, terug na Istanbul om na Aziyade te soek. Later sneuwel hy in ’n Russiese veldslag.

Pierre Loti in hedendaagse Istanbul

Julien Viaud het Aziyade nooit vergeet nie. Hy het Istanbul gereeld besoek en in die Eyüp-distrik gebly.

Die Pierre Loti-heuwel in Eyüp, met ’n lieflike uitsig oor Istanbul, ’n straat in die Divanyolu-buurt en die Pierre Loti Kahvesi (kafee) op die Loti-heuwel is na hom vernoem. Sommige glo dat Aziyade hier geskryf is toe die koffiewinkel nog as Rabia Kadin Kahvesi bekend was. Om by Pierre Loti Kahvesi uit te kom, kan jy met ’n kabelkarretjie ry of na bo stap.

In 1920 is Pierre Loti as ereburger van Istanbul vereer, hoewel nie alle hooggeplaastes saamgestem het dat hy die eretitel verdien het nie.

Meer oor:  Louis Marie-Julien Viaud.  |  Pierre Loti  |  Istanbul  |  Turkye  |  Besoek  |  Reis  |  Skryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.