Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Tee op ’n treintjie

Wat ’n lekkerte om op ’n trein die berge en dale van die oostelike Himalaja te verken, skryf Maryke Roberts.

Die trein ry oor vyf groot brûe en kronkel om meer as 870 draaie. Foto: istock
Darjeeling-stasie, ons beginpunt. Foto’s: Clifford Roberts
By die Ghum-stasie hou die trein 30 minute lank stil.

Verbeel jou ’n lokomotief en waens wat lyk soos ’n speelgoedtreintjie. Klein genoeg om deur gevaarlike noutes in die oostelike Himalaja te kronkel.

Die Amerikaanse skrywer Mark Twain het ’n rit op hierdie treintjie beskryf as wild, opwindend en interessant, vertel ons medepassasier Marié van Kopenhagen in Denemarke.

Hy’t die rit in 1896 onderneem en geskryf dat “die 40 myl wat agt uur neem om te voltooi, so wild, opwindend, interessant en betowerend is, dat dit eintlik ’n week moet neem”.

Die Darjeeling-speelgoedtrein, amptelik bekend as die Darjeeling Himalayan Railway, vervoer passasiers met van die min erfenis-stoomlokomotiewe nog in gebruik in Indië.

Die volle roete strek oor sowat 80 km van New Jalpaiguri na Darjeeling, eens ’n gunsteling-somerwegbreekplek vir die Britte. Die treinspoor is in 1881 voltooi en loop deur Siliguri, Kurseong en Ghum. Ghum, teen 2 255 m bo seespieël, is die hoogste punt op die roete. Die trein ry oor vyf groot brûe en kronkel om meer as 870 draaie, sommige op gevaarlike noutes, en daarom is die lokomotief en kompartemente piepklein. Sommige draaie is so skerp en die spoorlyn so naby aan mense se huise, jy kan die eienaar met die hand groet as hy op sy drempel staan.

’n Korter pretrit van twee uur heen en weer tussen Darjeeling en Ghum neem jou deur die deel met die mooiste natuurskoon, die Batasia Loop. Jy stop tien minute lank vir foto’s by die Batasia Loop, ’n plek waar die trein in ’n spiraal van sirkels ry om die gradiënt waarteen hy daal te verlaag. Jy spandeer 30 minute by die spoorweg-museum, terwyl die lokomotief aan die ander kant van die trein ingehaak word vir die terugrit.

By die Batasia Loop kan jy rondstap en selfies neem.Foto’s: Clifford Roberts
By Batasia Loop kan jy vir 10 minute rondstap en selfies neem.Foto:
By Batasia Loop kan jy vir 10 minute rondstap en selfies neem.Foto:

Stook die enjins

Voor ons vertrek gaan koop ons op die stasie ’n koppie tee teen minder as R2 en gaan sit en drink dit op ’n bankie.

Ons gids wink: ons moet kom. Met ons klein koppies tee in ons hande, stap ons saam met hom na die klein afdakkie oorkant die pad. Hier word die laaste verstellings gedoen en dra ’n man steenkool op sy rug om die lokomotief, Whistle Queen 3, te stook.

Ek vra ons gids om ’n man wat die steenkool in die enjin voer, te vra hoeveel steenkool nodig is vir die rit. “Die lokomotief benodig 2 100 kg. Een mandjievrag steenkool weeg 45 kg en die man gaan dus minstens 46 keer heen en weer loop met dié vragte op sy skof gestut.”

Dit raas en kort-kort vul groot wolke stoom die klein ruimte waar vier lokomotiewe onder die sinkdakkie rus.

Dis so betowerend, dit moet eintlik ’n week neem.

Ons kry ons sitplekke, die laaste twee heel agter by die oop deur en gelukkig is die trein se spoed so stadig dat ons die meeste van die rit by die oop deur uithang, wuif en foto’s neem. Ek kan nie glo die plaaslike inwoners kom staan steeds op hul stoepies of in hul deure om te waai nie. Op party plekke hardloop klein kinders en honde uitgelate langs die spoor, al jillende en waaiende.

Jy sit skaars ’n meter hoër as die mense in hul huise en kan dus deur oop vensters soms selfs tot in hul slaapkamers kyk. Deur een venster sien ek hoe slag ’n man ’n hoender in sy wasbak net toe die trein bykans tot stilstand kom, sodat ’n bakkie oor die spoorlyn kan ry. Iets wat ek liewer nie wou sien nie . . .

Om teen die skuinstes van ’n teeplantasie te staan, gee jou respek vir die plukkers.Foto’s: Clifford Roberts

Die treinspoor is soms so naby aan die rotswande dat dit lyk asof die venster teen die wand gaan stukkend slaan.

Te gou is ons by Ghum en gaan ons by die museum in, wat die hele spoorweg­geskiedenis kleurvol illustreer.

Natuurlik drink ons weer tee uit klein koppies voor die fluitjie blaas en ons die klein kompartementjie volpak en die terugrit begin. Op pad terug neem ons foto’s van die mense wat vir ons waai; hulle neem foto’s van ons in die trein en daar is ’n ligte gevoel in die kompartement.

Ek is bly ons het die kaartjies vroegtydig bespreek en heel agter gesit, want ons foto’s van die kronkelende trein is beslis die mooiste.

Van die tee by Golden Tips kos tot R42 000 per kilogram.
Daar is hope teewinkels, sommige kleiner as ’n motorhuis. Ons het egter by die grootste groep, Golden Tips, gaan tee proe.Foto:
Ek gaan loer by Oxford Stationery in, een van die grootste boekwinkels in die streek en koop ‘’n boek oor Kolkata, The Epic City, waarheen ons volgende reis. Foto:

Tee wat goud werd is

Ons stap ná die rit saam met Marié en Anne na Golden Tips in Nehruweg, ’n teegroep met verskeie takke waar jy honderde soorte tee kan proe. Die eienaar, Goutal Mondal, dra 22 soorte tee aan, almal in groepies wat mekaar sal aanvul. Deur middel van eliminasie besluit ons op die ou end wat om te koop. In die agtergrond speel Titanic se temaliedjie oor en oor en dit wil voorkom of niemand agterkom die CD het vasgehaak nie!

Die groentee en groen tee – een is ’n soort tee, die ander is groen gepluk – staan ons nie een aan nie. Dan is daar ook nog die tee wat heel eerste in die seisoen gepluk word, net enkele ryp blaartjies word afgeknyp en dan vir duisende rand per kilogram verkoop. Dis die Spring Moondrop en Red Thunder Gold Autumn Flush wat weke vroeër gepluk is wat ons harte steel, en Goutal verduidelik van die 87 teelandgoedere waar tee teen onmenslike steil hellings groei. Hy beduie waar ons tussen die teebosse kan gaan stap om waardering te kry vir die moeilike omstandighede waaronder vroue oes.

Toe ons na al sy praatjies geluister het en nog potjies tee weggeslaan het, kies ons vyf sakkies tee, elkeen skaars groter as my vuis – dit weeg elk tussen 50 g en 100 g. Ons gesels en betaal en kry koers.

Dis eers toe ek die aand my beursie leegmaak, dat ek weer na die strokie kyk en besef dié vyf sakkies tee het ons meer as R2 500 uit die sak gejaag.

Dis nou wat kom daarvan as jy aan’t teedrink gaan en jou boonop deur die eienaar laat ompraat om die seldsame teesoorte te proe – en te koop! Gelukkig het jy minder as 2 g nodig vir ’n koppie tee, so dit behoort ons darem maande te hou.

Weet voor jy gaan
  • Ons gids, Dhendup Tshering Yolmo, was van Travlogue India, deel van Clubside Tours & Travels, www.clubside.in. Ek sal hom beslis aanbeveel.
  • Kry meer inligting oor die treintjie by dhr.in.net.
  • Daar is ’n teewinkel om elke hoek en draai. Probeer en koop eerder by die grootste takke van Golden Tips en Chai Chun, waar die tee vinnig verkoop en altyd van die jongste oesjaar is.
  • Dis belangrik dat jou reisagent die land ken en reisomstandighede daar verstaan. Ons het die Indië-kenner Rashmi Raga, eienaar van Travelicious SA, gebruik. Kontak haar by rashmi@travelicious.xyz.
  • IndiGo is gerieflik en bekostigbaar vir binnelandse vlugte – en wat dit nog meer besonders maak, is dat elke lugwaardin ’n oulike speld op hul boarm dra met die woorde “Girl Power”. Hou in gedagte dat jy op Indiese binnelandse vlugte net 15 kg mag inweeg en 10 kg handbagasie. Sorg dat jou gewig reg is, anders gaan jy (klere) uitpak of (geld) uithaal. Bespreek by www.goindigo.in.

Meer oor:  Himalaja  |  Lokomotief  |  Trein  |  Besoek  |  Reis  |  Berge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.