Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Toeka se tyd op Aberdeen met Ticky, Tocky en die Tiekiedam

Chris Marais en Julienne du Toit het op Aberdeen gaan kuier en geblaai deur ou foto-albums van ’n tyd toe dié dorpie nog vol opwinding – en selfs ’n rondloperleeu of twee – was.

In die bloeityd van die volstruisbedryf, voor die Eerste Wêreldoorlog, het Aberdeen sy eie busdiens gehad wat deur G.M. Schmolle bedryf is. Dit het mense in en om die dorp vervoer en bagasie en fietse is op die dak saam gekarwei. Kyk die jong knaap se deftige keil. Die huis in die agtergrond staan vandag nog in die middel van Aberdeen. Foto: Verskaf

Op ’n Saterdag-namiddag laat lyk die historiese Oos-Kaapse dorpie van Aberdeen stowwerig en half aan die slaap waar dit tussen die ooptes van ’n klassieke Karoo-somer lê. Dit is egter die soort van kleindorpse-sluimer waarvan ’n mens hou: breë strate, geen verkeer nie, ’n donkie wat in die verte balk en die vriendelike gekabbel van water in die leivore.

Die rede vir die besoek is twee fotoalbums wat aan Lyn Dug­more behoort. Sy is die eienaar van die majestueuse gastehuis Pagel Huis – een van die argitektoniese hoogtepunte van Aberdeen.

En glo dit of nie, Aberdeen het nogal indrukwekkende argitektuur!

Gooi ’n klippie in enige rigting, en jy tref ’n stompneusafdakkie, ’n drakekopspuier op ’n dak, ’n brakdak, ’n bietjie broekie-lace-randwerk rondom ’n dak, ’n paar balustrades, een of twee daklyste, ’n bolug, ’n spitsversiering en, as jy nou regtig baie mooi mik, ’n deftige ou volstruispaleis met omtrent al sy oorspronklike stukkies nog waar dit moet wees.

Lyn maak Pagel Huis se voordeur oop en ons trek in vir die nag voor ons in die sitkamer ’n kykie kry van die skatte waarvoor ons eintlik gekom het.

’n Honderd jaar gelede was dit ’n algemene praktyk om ’n sokkie oor ’n volstruis se kop te trek voor sy vere gepluk word. Die sokkie was om te sorg dat die volstruis stil bly staan. Foto: Verskaf

Toeka se kiekies

Een album is vol swart en wit sirkusherinneringe: ’n leeutemmer in die ring met ’n eklektiese mengelmoes van leeus, ’n hiëna, ’n huishond en ’n klomp Angorabokke wat ’n Karoo-geur bydra. Dan praat ons nie eens van die skamele geklede akrobaat (“Miss Lucky Legs,” spot Lyn), iemand wat sy kop in ’n leeu se bek druk, ’n ietwat mollige nar in ’n massiewe geruite pak, of ’n man wat ’n luislang klaarblyklik as ’n das dra nie.

Die ander album is oor die algemene Karoo-lewe van meer as ’n eeu gelede: mans wat hoogspring in wit hemde, vroue in bloomers wat teen mekaar resies hardloop, treine wat deur die dorpie trek, ’n kind wat in die straat staan met ’n keil op die kop, ’n energieke buitelug-dans in die Piekniekbos en veewagters wat volstruis met ’n groot mus oor sy kop aankeer.

Daar is ook ’n klomp meisies wat rustig oor die dam roei, sonsambreel en al en uitgevat in hulle allermooiste Sondagpakkies, gevolg deur ’n gewaagde beeld van drie poedelkaal knape wat heel prettig hulle boot omkeer en in die water val.

Afgesien van al die ongelooflike foto’s van leeus, is daar ’n opvallende kiekie van dorpenaars wat al te lekker kerjakker in ’n vierkantige Karoo-dam met ’n windpomp wat trots oor hulle wagstaan.

“Die album met die sirkus- en dieretuin-foto’s kom van ’n afstammeling van die oorspronklike Wilke, aan wie hierdie huis behoort het,” sê Lyn. “Iemand wat hier rond bly het eendag die album met die leefstylfoto’s hier afgegee nadat hulle dit op ’n ashoop gevind het.”

Dekades gelede was die Tiekiedam die middelpunt van vermaak op Aberdeen. Dit was die openbare swembad, maar ook die plek waar Frank Wilke’s se dieretuin en later die sirkus gebaseer was. Foto: Verskaf

Rustigheid in die hoofstraat

Die son trek stadig maar seker water en die namiddag verdwyn. Lyn probeer help om soveel moontlik van die storie te vertel as wat sy kan, maar daar is baie gate in die verhaal. Om ons koppe net effens skoon te kry gaan stap ons ’n ent in die aandlug; sommer na die Blue Door-restaurant net om die hoek.

Daar is ’n jong paartjie op die stoep wat in stilte die laaste happe van hulle hoenderlewertjies eet. Ons bestel burgers, slaai en koue bier. ’n Pensioenaris met ’n lang kniebroek en kruisbande loop oor die pad met sy halsstarrige Jack Russell aan ’n leiband. Julie neem ’n Instagram-foto van ’n vetplant in ’n ou koffiepot. Die Moederkerk se klok slaan op die uur. Dis al. Dit is omtrent soveel aksie as wat ’n mens oor ’n naweek in Aberdeen kan verwag.

Dít is amper te goed vir woorde!

Dis tyd vir skemerkelkies op die agterstoep van Pagel Huis, net ’n kort entjie van ’n hengse groot nes in ’n wilgerboom. Dit lyk asof daar nog een naby in aanbou is.

Frank Wilke by een van die leeus wat William Pagel aan hom gegee het. Pagel het gemeen Ticky en Tocky is te balhorig om af te rig, maar Wilke het dié diere mak-mak bemeester. Foto: Verskaf

“Dis my hamerkoppe daai,” verduidelik Lyn.

Dié twee skamerige mini-pterodaktiele het die gewoonte om kolossale neste met stokke te bou. Hulle lyk ongeduldig met die geselskap op die stoep, asof hulle wag dat ons ons whiskies moet klaar sluk en ingaan, sodat hulle verder kan werk aan hulle nesbouery. Maar ons laat ons nie van stryk bring nie.

Hoe het Lyn die eienaar van hierdie ou herehuis geword?

“Eers het ek ’n advertensie in ’n leefstyltydskrif gesien waarin die Pagel Huis te koop aangebied is,” vertel sy. “Daar was nie een foto van die plek nie en die bewoording was maar bra gewoon – maar dit het nietemin my verbeelding aangegryp.”

Lyn het vir meer as 20 jaar in Switserland gewoon en as ’n verpleegster in verskeie hospitale in en om die Zurich-meer gewerk. Waarom sal iemand met ’n goeie werk, gemaklike woonstel en permanente burgerskap in ’n stabiele land dan Karoo toe wil trek?

“Ek was eendag besig om ’n vrou in haar veertigs met terminale kanker te versorg. Sy vertel my toe dat daar is eintlik nog soveel dinge wat sy met haar lewe wou doen. Dit was wat my laat dink het . . . Een van my drome was nog altyd om ’n tuin en ’n hond te kan hê, en kyk nou net!”

Sy sprei haar arms om te wys na die groot agterplaas, haar twee honde, drie katte, ’n dosyn hoenders, die oop blou lug bokant dit alles en natuurlik ’n hamerkoppaar wat ons ongeduldig aangluur.

“Die beste ding van ’n klein Karoo-dorpie-lewe is seker om so naby aan die natuur te kan wees,” vertel sy verder. Of die hamerkoppe ewe optimisties is daaroor is nie duidelik nie.

Frank Wilke met ’n luislang. Let op dat sy gordel en das uit slangvel gemaak is. Foto: Verskaf

Toentertyd se Mekka

Aberdeen word seker deesdae deur baie mense as ’n vaal, vergete dorpie beskou, maar eens op ’n tyd wat dit ’n ryk landbousentrum wat gebou is met die winste wat uit skaapboerdery gemaak is. Dit het natuurlik ook naam gemaak in die bloeityd van die volstruis-era.

Die Eerste Wêreldoorlog en al die somber nagevolge daarvan het egter die verebedryf tot stilstand laat knars. Maar nie voor ’n hele klompie mooi en behoorlike herehuise hier gebou is nie.

Pagel Huis, wat eers as die Claremont Huis bekend gestaan het, is in 1897 gebou deur ene Richard Logie, ’n baie suksesvolle verehandelaar. Die gebou se tweeling, ’n gerestoureerde huis genaamd Greenfields, staan amper reg oorkant die pad. Die volgende eienaar was Frank Wilke – en moet hom nie met “Die Sirkus Wilkie” verwar nie. Hy was ook ’n ryk man en ’n groot aanhanger van William Pagel, wat die meer-as-lewensgroot sirkus-supremo was.

Frank Wilke saam met ’n paar van die leeus wat hy by William Pagel gekry het. Wilke (en moet hom asseblief nie met die ander Wilkie Sirkus verwar nie) het hoë dunk gehad van Pagel, en hy was boonop gek daaroor om diere aan te hou en hulle te leer. Foto: Verskaf

William Pagel sou waarskynlik nooit ’n baie gewilde persoon in vandag se tyd gewees het nie; noudat toenemend meer mense in opstand kom teen die aanhou van sirkusdiere wat ingehok word en opgelei word om toertjies te doen. As jy hom egter suiwer net in sy historiese konteks beskou, is hy waarskynlik een van die mees indrukwekkende karakters wat ooit in hierdie land aangekom het.

Hy het opgetree by sterkman-feeste, het vir 40 jaar lank Pagel se Sirkus bestuur en het, wanneer hy ook al kon, in die plattelandse dorpies in sy Limousine rondgery saam met sy vrou én sy reusagtige mak leeu.

Frank Wilke het besluit om sy tuiste Pagel Huis te noem ter ere van hierdie groot man. Wilke was ook nie nét die burgemeester van Aberdeen nie; hy was ook die plaaslike ondernemer én algemene handelaar.

En toe begin hy een van die grootste private dieretuine in die wêreld – net hier in dié ou dorpie! Hy het ook Pagel se sirkus oorgeneem (personeel sowel as diere) toe die bekende sirkuseienaar op 13 Oktober 1948 oorlede is.

“Dis laat,” sê Lyn. “Môre gaan julle vir Gina de Beer ontmoet. Sy is een van die dorpsmense en kan julle meer oor dié storie vertel.”

Gina de Beer, afgetrede onderwyseres, in Aberdeen. Sy onthou die leeus en ander diere goed – dit was toe sy nog in die Tiekiedam gaan swem het. Foto: Chris Marais

Tiekiedam en die rondloperleeu

Op ’n Sondagoggend op Aberdeen, op Pagel Huis se agterstoep met sy uitsig oor die tuin, sit elkeen met ’n beker koffie in die hand.

Lyn se meestal hans hoenders skrop rustig in die tuin rond saam met die res van haar diere. Die hamerkoppe, die spreekwoordelike early birds, het reeds verkas om te gaan kos soek en selfs meer materiaal vir hulle oorgroot neste te versamel.

Lieflike ou smeeyster-traliewerk en wit spitspaaltjies dien as heinings om ongenooide gaste uit die groentetuin en sulke plekke te hou. Ten spyte van die erge droogte lyk die tuin steeds welig. Lyn het ’n reënwatertenk of ’n balie by elke afvoerpyp van die dak af laat neersit.

Ons stap om die hoek na Gina de Beer se huis. Gina is ’n afge­trede onderwyseres en die skrywer van Ek Onthou Aberdeen. Sy het die grootste deel van haar lewe hier deurgebring. Nadat ons eers haar baie beskermende Duitse herdershond gegroet het, is ons eerste vraag aan Gina oor die merkwaardige samekoms by die sogenaamde windpomp-dam.

Lyn Dugmore, die eienaar van Pagel Huis. Foto: Chris Marais

“O . . . die Tiekiedam net buite die dorp?” antwoord sy met ’n glimlag. “Dit was ’n openbare swembad en sommer ook waar die Apostolies doopdienste gehou het. Ons het elke nou en dan in daardie dam gaan swem en dan sommer gekyk hoe die leeus by die Wilke se dieretuin opgetree het. Die dieretuin was net langsaan.”

Wilke se dieretuin: Die hartlike Gina onthou dit baie goed van haar kinderdae af.

Die bekende diere-afrigter, Bubi Maier, is met ’n plaaslike vrou, Numeri Kilian, in een van die leeuhokke in Aberdeen getroud. Sewe leeuwyfies in die hok was hulle bruidsmeisies, maar die voorsittende landdros het eerder besluit om die seremonie van ’n veilige afstand te lei.

Wilke se leeus het dikwels besluit om ’n bietjie rond te loop.

Pagel Huis, voorheen bekend as Claremont Huis, is ’n Victoriaanse ‘volstruispaleis’ wat in 1897 gebou is. Foto: Chris Marais

“Op ’n dag wat ’n paar van ons by die Tiekiedam gaan kuier het, het ’n man aangehardloop gekom en uitasem verduidelik een van die leeus het uit sy hok ontsnap. Ons het haastig na die kleedkamers toe gehardloop, maar dit was reeds vol kinders en van die binnekant af gesluit.

“Ek onthou nog . . . by my was daar ’n effense dikkerige antie met ’n noupassende romp aan. Die enigste veilige plek was op die dak en ’n polisieman, Van der Walt, het vooroor gebuk sodat ons op sy rug kon trap sodat ons op die dak kon klim.

“Al was die antie se rompie aan die stywe kant, het sy met net twee treë op die dak gekom!”

Gina sê die Wilke-leeus – meer as drie dosyn van hulle op een slag – het altyd wild en wreedaardig gebrul in die nag.

“En as die aandwind vanuit die ooste begin waai het, het dit geklink asof hulle net buite jou venster gestaan en brul het.”

Herinneringe vanmelewe . . . van ’n tyd toe die leeus nog in Aberdeen gebrul het.

Dit is net die kabbelende leiwater en die statige ou geboue wat nog bly.

Chris Marais en Julienne du Toit
Aberdeen
Aberdeen
Meer oor:  Aberdeen  |  Oos-Kaap  |  Reis  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.