Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Trap na Teebus

Die jaarlikse Trek2Teebus-bergfietsbyeenkoms is ’n ware MTB-fees. Hier gaan jy trap (en draf en klouter en stories vertel) vir drie uitstekende dae, met alles van kuitkrampende klimme en verlate plaaspaadjies tot gatswaai enkelspore.

Ysterperd ontmoet boerperd op die Trek2Teebus se gruispaaie op die wedren se derde dag. Foto’s: Jacques Marais

Steynsburg lê vêr in die wêreld – daar doer in die Bo-Karoo waar die grense van die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap in die skadu van die Teebus -en die Koffiebus-koppie bymekaarkom.

Dis die verste plek weg van die kus in Suid-Afrika (en juis ook hoe die buurdorp Middelburg sy naam gekry het).

Dit voel altyd asof die mensdom so half en half van die hoekie van ons hartland vergeet het, ten spyte van die streek se ryk tradisies en geskiedenis. Die platteland blom hier met ’n unieke diversiteit.

’n Spookdorp met ’n Olimpiese grootte swembad vergaan in die skadu van die Teebus-kop; oud-pres. Paul Kruger se geboortehuis lê vergete en onder slot en grendel langs die R53.

Die Bulhoek-pas is begroei met bossies en word glad nie meer gebruik nie. Steynsburg voel effens soos een van daardie apokaliptiese dorpies in ’n roman van Deon Meyer.

Maar ten spyte van die uittog na die stede, landelike verwaarlosing en ekonomiese ineenstorting so tipies van Suid-Afrika se platteland, maak ’n klomp stoere boere nog ’n lewe hier.

Daar is baie speelplek vir avontuurlustige fietsryers in die Steynsburg-omgewing. Hier beproef Zane Schmahl sy senuwees tussen ’n klomp dongas.

Karakters – soos Charles Viljoen­ met die skietwond – staan sterk en plattelandse gasvryheid oorweldig jou om elke hoek en draai.

Vir ’n Oos-Kaapse laaitie soos ek was dit soos ’n tuiskoms. Hier is talle veldlooproetes waar ’n klipspringer ’n paar tekkies sal benodig, koppies so reg uit ’n cowboyfliek­ om uit te klouter en bergfietspaadjies om te verken.

Dit was asof iemand my in ’n tydmasjien gedruk het, my vyf dekades terug in die verlede gespoel het en my as ’n jong tjokker in my gunsteling-buitelug-speelplek losgelaat is.

Rooigrassade in my sokkies, die Lego-warboel van ysterklipkoppies waar ribbokke teen die rantjie ’n fluit gee wanneer hulle jou gewaar en die geure van bitterkaroobossies en rooi grond net ná die reën . . . dis mos hoe dit voel wanneer jy terug is by jou mense.

Ek was in die omtrek vir die Trek2Teebus-bergfietsbyeenkoms, een van ons land se lekkerste MTB-saamtrekke.

Bergfietsryers wat hier kom kuier, kry die perfekte pakket – saal-op en saal-af. Maak jouself reg vir Karoo-kuiers, smullekker kos, asemrowende natuurskoon en ’n bergfietsroete van die eerste water.

Die paaie is rof, die mense ongekunsteld, die verblyf sonder fieterjasies en die kans is goed dat hoendersosaties die naaste ding aan ’n slaai op die tafel gaan wees.

Die plat-op-die-aarde-benadering is juis wat Trek2Teebus van die meer neus-in-die-lug-bergfietsbyeenkomste onderskei.

Die Teebus-koppie se kenmerkende rotstoring staan punt in die wind op die Bo-Karoo se vlaktes.

Die trek na Teebus

Die eerste dag van die Trek2Teebus skop vroegdag af met ’n parmantige 72 km-skof, meestal langs grondpaaie en kronkelende tweespoor-plaaspaadjies. Dit gee die fietsryers ’n kans om die Karoo-vlaktes te bewonder op die roete suid verby Steynsburg.

Die hoogtepunt is die braaistop vir middagete by die waterval, waar die plaaslike boere graag piekniek hou.

Loop maar lig vir die plaaslike mense se gasvryheid, want terwyl jy nog aan ’n lekker worsie peusel, sal iemand jou sommer ’n bier in die hand probeer stop.

Die landskap voel anderwêrelds, asof ’n mens deur die Moab in die Midde-Ooste ry met gladde rotsbanke en steil kranse wat oor jou hang.

Jacques Marais

Die tweede dag mag dalk rustiger op papier klink, maar moenie te gerus wees nie.

Die 55 km-skof begin met ’n vars gesnyde enkelspoor wat verskillende plase kruis en jy klim meer as 900 m.

Dis ook hier waar jy kennis maak met die Bulhoek-pas (en heel moontlik ook met jou kleinste ratte terwyl jy teen die swaartekrag beur). ’n Paar dekades gelede was dit ’n teerpad en een van die aansluitingsroetes na die Gariepdam.

Deesdae is dit vervalle en ryers moet ligloop vir slaggate en rotsstortings.

Die uitsig oor die valleie en vlaktes maak al die sweet en swets boontoe die moeite werd en wanneer jy uiteindelik die kruin bereik, is dit afdraande na die einde se kant toe.

Daar wag 82 km op jou op die derde dag, maar dis plat en vloei lekker langs goeie, sekondêre gruispaaie. Dis ’n droomroete vir gruisfiets-geesdriftiges.

Jy begin nou wel met ’n bietjie van ’n klim, maar daarna volg jy die Teebusrivier se kronkelende waterloop, omsoom met bosse populiere en berkebome wat reeds goudgeel in hul herfsglorie getooi is.

Elke keer wanneer jy opkyk, sien jy Teebus en Koffiebus se plat koppe teen die gesigseinder. As dit nie jou hart warm laat klop nie, dan weet ek darem nie . . .

Ek wil ook trap

Die Trek2Teebus-bergfietswedren se datums is reeds vir volgende jaar vasgestel en dit vind van 29 April tot 2 Mei 2022 plaas. Daar is verskeie pakkette, afhangend van hoe luuks jy wil slaap, lekker jy wil eet en ver jy wil ry. Die wedren word deur Petrichor Events aangebied. Besoek die webwerf trek2teebus.co.za om te bespreek of vir meer inligting daaroor.

Maak ’n uitstappie daarvan

Maak ’n ekstra lang langnaweek van die uitstappie en slaan jou tent op op Charles Viljoen se Rocklyn Boerderye-plaas buite Steynsburg. Hy en sy seun, Charl, boer met lusern en merinoskape en het ’n puik kampplek op die plaas vir diegene wat dalk in die omgewing wil uitspan.

Hulle het ook ’n sleutel vir oudpres. Paul Kruger se geboortehuis, as jy wil gaan loer.

Stuur e-pos na rocklynboerdery@gmail.com vir meer inligting.

Die Gariepdam Forever Resorts-vakansieoord is sowat 110 km van Steynsburg en die perfekte plek om ná die bergfietsbyeenkoms uit te span. Dis veilig, bekostigbaar en onberispelik netjies. Beste van alles, dit lê reg teenaan die cappuccino-kleurige waters van Suid-Afrika se grootste mensgemaakte meer.

Dié oord is ’n lushof vir watersportliefhebbers en die fietsroetes laat jou voel asof jy deur ’n mini-Serengeti trap.

Besoek forevergariep.co.za vir meer inligting.

Beste tyd om te besoek?

Die Trek2Teebus vind einde April, begin Mei plaas, maar jy kan enige tyd van die jaar dié buitelug-wegbreek besoek. Die winters in die Bo-Karoo ryp snags tussen man en vrou, maar die dae is mooi. In die somer raak dit rooiwarm in die hooglande en ’n mens moet maar ligloop vir donderstorms.

Besoek karooheartland.com vir meer inligting.

Meer oor:  Jacques Marais  |  Oos-Kaap  |  Noord-Kaap  |  Karoo  |  Bergfietsry  |  Buite  |  Fietsry  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.