Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Trap, smul en rus in Stanford

Jy gaan nie sommer ’n beter plek as die Overbergse ougatdorpie Stanford vind om jou verhouding met moederaarde te hernu nie. Boonop kan jy ook jouself oorgee aan aardse plesiertjies soos uitstekende wyn en fynproewerskos.


Die hoogtepunt van enige besoek aan Stanford Valley-gasteplaas is die enkelspoorpaadjies wat deur die fynbos loop.Foto’s: Jacques Marais

Buite is die nuwe binne. Die inperking is nou reeds maande lank iets van die verlede (en ons hou styf duimvas dit bly so). Vars lug en die natuur is nou vir talle reisigers ’n prioriteit wanneer hulle ’n vakansie beplan, saam met hul epikuriese plesiertjies.

Die Overbergse dorpie Stanford is die ideale wegbreekplek vir reisigers wat op soek is na ’n aktiewe vakansie, maar ook die lewe se lekker dinge, soos fynproewerskos, bekroonde wyn en spabederwe wil geniet.

Die dorpie sluimer reeds sedert 1857 teenaan die Suid-Kaapse kus. Dit was oorspronklik ’n plaas wat toentertyd aan die Ierse soldaat sir Robert Stanford behoort het. Besoekers wat in Stanford kom draai, loop ’n piek-’n-mieks-mengelmoes van mense raak – van voëlkykers, vissermanne, kunstenaars en afgetredenes wat hier kom uitspan om die lewe se malle gejaag te ontsnap.

Stanford is die rustigheid vanself, maar buite die dorpsgrense skuil die eintlike natuurparadys. Hier kronkel die Kleinriver al langs die voetheuwels van die Akkedisberge.

Die Milkshed Spa bied onoortreflike en luukse behandelings en nimmereindigende uitsigte oor die Akkedisberge.

Fynbos wuif teen die hange en die diep klowe is ruig bebos met inheemse bome, terwyl vleilande en grasvelde al met die rivierloop langs ’n lappieskombers vorm.

Daar is dosyne bestemmings verder, maar een plek wat jy nie wil misloop nie, is die skilderagtige Stanford Valley-gasteplaas reg teenaan die R326.

Dis ongerepte natuur net waar jy kyk in die diverse bewaargebied, waar toegewyde grondeienaars saamstaan om dié ekosisteem te beskerm. Die plaas self beslaan slegs sowat 440 ha, maar besoekers het toegang tot van Stanford Valley se aangrensende plase, met hope stap-, draf- en bergfietsroetes om te verken.

Hier is ’n paar voorstelle.

Die roete

Die hoogtepunt van enige besoek aan Stanford Valley-gasteplaas is die enkelspoorpaadjies wat flink deur die fynbos kerjakker. Bobaas-bergfietsbreine werk al goed twee jaar lank aan die Ultimate Southern Pass Trail met splinternuwe paadjies met die rante langs deur ’n lushof van proteas, heide en dekriet.

Dus, saal op daai fiets en begin trap, want die magiese enkelspoor (en hope endemiese fauna en flora) wag op jou.

Die rustige landskap is die perfekte plek vir joga en meditasie.


Ek kom kuier so gereeld as wat ek kan en elke rit is soos ’n verrassingspakkie. Jy het nie ’n idee watter meevallertjie wag vir jou rondom die volgende draai nie. Ons het een oggend vyf verskillende spesies suikerbekkies gewaar.

Dan is die kanse ook goed dat jy ribbok, takbok, grysbok en rooikat kan raakloop en indien jy die boerpot tussen die fynbos slaan, dalk selfs ’n Kaapse luiperd.

Dis nou natuurlik indien jy kans het om rond te kyk terwyl jy die pedale teen topspoed klits.

Segmente soos Valley Vista, Horribult, Slipstream, Hingse-Hang en vele meer wag op jou, en dit sorg vir epiese verhale rondom die kampvuur.

Die lekker ding van ’n roete soos die Ultimate Southern Pass is dat daar verskeie toegangspunte tot die roete is waar jy kan begin trap, draf en stap – ja, die roetes is so ontwerp dat dit uitstekend werk vir mense wat eerder dapper stappers as trappers is. Jy kan dus kies of jy ’n voldag-avontuur wil aanpak, of sommer net jou bloed voor ontbyt so bietjie wil laat bruis.

Tussen trap en stap is daar ook hope ander epikuriese aktiwiteite om besoekers besig te hou soos sterre kyk, meditasie en joga, wêreldklas-kaasplase, uitstaande wynkelders, en boetie bierbrouerye. Jy gaan al daai oefening nodig hê om van die kalorieë ontslae te raak!

Stanford Valley-gasteplaas

Bly hier:

’n Groot keuse van verblyfopsies word aangebied by Stanford Valley-gasteplaas – van sjarmante en suite-kamers vir paartjies, tot ruim kothuise vir families.

Die en suite-kamers begin by R1 450 per paartjie en sluit etes uit.

Kom só daar:

Vanaf Kaapstad, volg die Caledon-Bredasdorp-afrit R316 en ry vir 29 km. Draai regs op die R326 na Stanford en draai ná 13 km links by die Stanford Valley Guest Farm-padteken.

Beste tyd om te besoek:

Stanford het ’n matige Mediterreense klimaat met warm somers en koeler, nat winters. Jy kan egter die grootste deel van die jaar lekker buite speel, maar jy gaan in die nat winters beslis bietjie meer modder eet op die bergfietsroetes.

Kontak en besprekings:

Skakel 072 198 0862 of stuur ’n e-pos na info@stanfordvalley. co.za.

Besoek hul webwerf www.stanfordvalley.co.za vir meer inligting.

As jy dinge rustig wil vat

Kyk kuns

Gaan wandel deur die pragtige kunsgalery op Stanford Valley-gasteplaas en bewonder skilderye en beeldhouwerk geskep deur van Suid-Afrika se mees bekwame kunstenaars en pottebakkers, soos die Belgiese-Suid-Afrikaanse beeldhoukunstenaar Herman van Nazareth.

Die eienaars, dr. Reinder Nauta en sy vrou, Elsabe, het albei ’n uitsoekoog.

Smul aan Overbergse kos

Die uitsonderlike Manor House Restaurant is ook iets om oor huis toe te skryf – plattelandse kookkuns met ’n eietydse kinkel word hier bedien. Dink murgbene met mikro- groen slaai en gemarineerde wilde sampioene.

Doepa vir daai moeë kuite

As jou bene oortyd gewerk het op die bergfietsroetes, bederf jouself met ’n massering by die outentieke Milkshed Spa op die plaas. Die spa bied onoortreflike en luukse behandelings, sowel as ’n sauna wat met regte hout gestook word, ’n stoomkamer, ’n yskoue swembad en nimmereindigende uitsigte oor die Akkedisberge.

Verken die fynbos

Stanford Valley-gasteplaas se ligging teenaan die Kleinrivier maak deel uit van ’n bewaargebied met ’n diverse verskeidenheid fynbos.

Die uiters seldsame erica shannonea, ’n fynbosagtige struik met fyn, klokkievormige blommetjies, kom hier voor, en fynbos-entoesiaste reis van heinde en verre om na die plant te kom kyk.

’n Paradys vir voëlkykers

Laastens is daar die ongelooflike aantal voëlspesies in die Stanford-omgewing. Die geveerde vriende hier lok mense van oor die wêreld heen. Grasvoëls, suikerbekkies, Karoolangstertjies, Kaapse streepkoppies, witkruisarende, Kaapse ooruil . . . Bring jou verkyker!

Meer oor:  Stanford  |  Natuur  |  Inperking  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.